Ek wil vandag vir julle so ‘n bietjie moed inpraat, want Jesus weet hoe baie van julle sukkel om kop bo water te hou.
Ek het die afgelope paar weke twee drome gehad. Die eerste droom was in die nag en ek het ‘n groot wit hand gesien wat mens op gepluk het. Nie almal was so op gepluk nie. Die hand het versigtig gekies en net sommige is gevat. Ek het geweet waarom, want nie almal sal gereed wees nie…
My tweede droom was helder oordag. Die son het lekker geskyn met nie ‘n wolkie in die lug nie, maar iets het anders gevoel. Iets wat ek nie kon beskryf nie. Terwyl ek so staan en wonder wat dit was wat anders was het ek gesien hoe mense in die lug op spring en wegvlieg! Dit het gelyk of die persoon van ‘n duikplank af wil spring, maar in plaas van ‘n boog maak om dan weer terug te val aarde toe, het die persoon aangehou opgaan! Dieselfde het met my gebeur; skielik sonder dat ek enige beheer daaroor gehad het. Ek het my oë toegeknyp, maar toe ek my oë oopmaak het ek gesien hoe die wolke met ‘n verbysterende spoed by my verbygaan. Dit het gelyk soos een van daardie video’s waar ‘n vegvliegtuig tussen die wolke deurvlieg. Dis waar ek wakker geskrik het.
Ek wou aanvanklik nie oor hierdie ondervindinge van my skryf nie, maar Jesus wys vir my dat daar so baie is wat nodig het om dit te hoor sodat hulle weer kan moed skep. Die wêreld is so donker op hierdie oomblik en geestelike blindheid lê soos ‘n dink laag stof oor hierdie wêreld. As jy oor die goed praat, dan word jy uitgelag asof jy van jou kop af is, net soos hulle met Noag gedoen het…
Jesus wil vir jou wat hierdie stukkie lees sê dat jy nog net ‘n klein rukkie moet uithou. Jesus sê dat Hy gaan kom, net soos Hy belowe het en baie gou. Dan gaan jy terugkyk na hierdie tyd in jou lewe en dan gaan jy besef hoe die moeite werd al hierdie gesukkel was. Moet net nie na satan se leuens luister en moed opgee nie.
Hou vas aan die beloftes in Romeine 5:9, Romeine 8:1, 1 Tessalonisense 5:9 en 1 Tessalonisense 1:10 wat sê dat ons nie bestem is tot toorn nie. Ons wat geregverdig is deur die Bloed van Lam sal gered word van God se toorn oor ‘n wêreld wat Hom nie wil ken nie. Glo dit met vrymoedigheid, liewe leser!
Onthou jou van sonde en hou jou bruilofskleed skoon en let op na Paulus se woorde in1 Korintiërs 6:10 “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”
Moenie geflous word nie, want in 1 Petrus 1:16 staan: “Wees heilig, want Ek is heilig.”
Weet dat ons tyd naby is. Niemand weet presies wanneer nie, maar dis naby!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën! Prys Sy Wonderlike Naam!