Satan is gebind; verslaan!

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

“Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” (Romeine 12:19)

Satan is ‘n krimineel en daarom sal geen wapen wat teen jou gesmee word, ooit slaag nie. Ons het gekies om die HERE te volg en Hom alleen te dien. Sal die HERE ons dan nie teen satan en sy volgelinge beskerm nie?

Satan verstaan nie dat hy klaar oorwin is nie. Dis waarom hy so bly is oor elke Christen wat hy laat struikel. Die engele wat saam met hom geval het, kan nie meer gered word nie. Hulle lot is verseël en dit sal die poel wees wat brand met vuur en swawel. Die wat deur satan versoek word, kan egter gered word en dit is waarom ons moet bid vir ons vyande.

Siele wat van die HERE af wegdraai om satan te volg, kan nog steeds gered word. Hulle kan selfs agterna die hoogste posisies in die Koningryk van die HERE bereik, maar dan moet hulle hulle vyande vergewe, satan en sy werke afsweer, die HERE aangryp met alles wat hulle het en nooit weer terugkeer nie. Die HERE sal hulle herstel en Hy sal hulle beskerm, maar net as hulle die pad voluit loop.

‘n Siel wat besluit om terug te draai kan nie meer beskerm word nie. Solank as wat hulle in die skaapkraal bly, kan geen leeu of wolf hulle daaruit kom haal nie, maar as hulle oor die heining klim om terug te keer na hulle ou manier van doen, dan is hulle kwesbaar.

Die HERE soek ‘n verhouding met jou wat hierdie lees. Hy wil hê dat jy Sy Vader jou Vader moet noem omdat Hy jou oneindig baie lief het en omdat jy uit hom gemaak is. Dis net so pynlik vir die HERE om een te verloor wat Hom dien as wat dit is vir een wat Hom nie dien nie. Die HERE het ons almal onvoorwaardelik lief, ongeag wie jy is.

Die HERE doen vandag ‘n beroep of julle wat afgedwaal het om na Hom terug te keer. Maak nie saak hoe groot jou sonde lyk nie en dit maak nie saak wat jy alles gedoen het nie. Jy is ‘n kind van die Vader en Hy verlang na jou. Hy wil jou teen Sy bors vasdruk en troos. Hy wil jou genees. Hy wil jou leer. Hy wil jou vergewe en verlos van dit wat jou gebonde hou. Alles wat ‘n goeie vader vir sy kind sal doen, wil die HERE vir jou doen omdat jy Sy geliefde kind is.

Keer terug na die HERE en laat Hom toe om jou te lei en jou die ware betekenis van liefde te wys. Jy sal daarna nooit weer smag na liefde nie, want die HERE sal voorsien soos manna uit die Hemel. Gee Hom net ‘n kans! Dis al wat Hy vra.

Baie van julle is bang om na die HERE terug te keer. Baie van julle het nog net tragedie in julle lewens ervaar. Baie van julle weet nie wat dit is om ‘n liefdevolle vader of moeder in julle huise te hê nie. Julle is bang om uit te kom, selfs al voel julle die behoefte daarna.

Onthou, satan is soos ‘n hond aan ‘n ketting en die HERE hou die ander punt styf vas. Hy kan niks verder gaan as wat die HERE hom toelaat nie en daarom sal die HERE jou vrystel en jou beskerm van satan as jy Hom volg.

Die van julle wat gereelde lesers is sal weet hoe baie keer ek al geskryf het oor die liede van die HERE. Julle ken Hom en julle weet wat se liefdevolle HERE Hy is. Julle weet ook hoe bereikbaar Hy is en dat Hy altyd gereed staan om jou jou oortredinge te vergewe.

Ten spyte daarvan het baie van julle van die HERE weggedraai omdat julle ‘n geliefde aan die dood afgestaan het. Jy het by jouself geredeneer: “As Jy God is, waarom het hy of sy gesterf? Aanbid ek jou dan nie?” Maar jy het nie dieselfde inligting as die HERE nie. Jy weet nie wat sou gebeur het as die HERE daardie persoon nie teruggeroep het Hemel toe nie. Jy verstaan nie, omdat jy klein is en die HERE jou in die skoot van jou moeder gevorm het.

“Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes.” (Jesaja 55:9) Daar is ‘n goeie rede waarom dinge in jou lewe gebeur, maak nie saak hoe moeilik dit is om te verwerk nie. Sommige daarvan het te doen met jou redding en waar jy die ewigheid gaan spandeer.

Alles wat goed is van die persoon wat jy aan die dood afgestaan het, is ‘n weerkaatsing van God se liefde vir jou. Het daardie persoon alles wat jy is liefgehad? Wou daardie persoon elke oomblik saam met jou spandeer? Die HERE wil dit en baie meer doen! Sou daardie persoon enige iets vir jou doen? Die HERE ook, daarom was Hy bereid om soos ‘n krimineel behandel te word en aan ‘n houtkruis te sterf sodat jy nie verlore hoef te gaan nie. Was daardie persoon bereid om jou te beskerm? Net so doen die HERE ook, alhoewel ons nooit weet hoe naby ons partykeer aan die dood kom nie. Was dit lekker om saam met daardie persoon te wees? Dis net so lekker om saam met die HERE te wees en as jy daardie verhouding wil smee dan wag die HERE vir jou. Het daardie persoon vir jou gesorg? Die HERE doen dit ook, alhoewel ons dit nie raaksien nie.

Onthou, daar is geen toeval in die lewe nie, net God Voorvalle.

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk