Dierbare Kinders van die HERE; mag die liefde van onse Vader met julle wees en die Heilige Gees ‘n metgesel om op te vertrou.
Ek hoef seker nie vir een van julle te herinner dat ons sonder twyfel in die laaste dae is nie. Om elkeen van ons se Bruidsklere skoon te kry en skoon te hou is ‘n stryd van epidermiese proporsies. Die HERE ken ons elkeen by die naam en Hy sien hoe ons elke dag struikel, val en baklei teen satan. Hy sien ook hoe gehawend en bebloed ons anderkant uitkom; totaal uitgeput!
Ek wil vir julle sê dat daar een wapen is wat satan magteloos teen is en dit is gebed. Hy haat gebed, want onmiddellik as jy bid, is daar engele om jou te versterk. Satan kan nie in daardie salwing werk nie wat beteken dat hy of iemand anders moet gaan soek om aan te val of moet wag tot ‘n latere geleentheid.
Bid liewe leser, want deur gebed hou jy jou lampie vol van die olie van die Heilige Gees terwyl ons wag vir die Bruidegom om te kom.
So ‘n ruk gelede het ek ‘n boodskap geskryf oor “Dra mekaar se laste” waarin die HERE aan ons gesê het dat ons elkeen ‘n kruis vir Hom dra; die ongelowiges ook, al weet hulle dit nie. Sodra die HERE sien dat een te swaar dra, dan vat Hy van die gewig tydelik weg en plaas dit op die skouers van iemand sterker sodat eersgenoemde nie knak onder die gewig nie.
Baie van julle sou die afgelope week gevoel het dat julle uitermatig versoek word; ek is een van hulle! Dit is Jesus wat die gewig van baie se kruise wat te swaar vir hulle geword het tydelik verskuif na die wat sterker in die geloof is en die gewig kan dra. Nee, Jesus is nie moedswillig as Hy dit doen nie. Julle moet verstaan dat om iemand anders te help dra aan sy las ‘n geweldige groot eers is en nie ‘n straf nie. Jy sal beslis beloon word daarvoor! Moet dus nie moedeloos word as jy voel hoe die gewig vir jou te veel word nie. Jesus het dieselfde met ons gedoen toe ons nog jonk in die geloof was en ander ons gehelp dra het aan ons gewig.
Werk aan julle naaste liefde, liewe lesers. Die HERE sê vir ons in Lukas 8:16-17 dat niemand ‘n lamp aansteek en dit dan onder ‘n maatemmer wegsteek nie! Net so kan niemand hom beroep daarop dat hy ‘n Christen is as hy sy lig nie laat skyn nie! Onthou die vrugte van die Gees in Galasiërs 5:22 “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Ek besef maar net te goed dat ons almal mense is en dat ons soms kwaad word. Daarmee is daar niks verkeerd nie, want tot die HERE word kwaad. Word dus kwaad, maar moet nie sondig nie.
As jy die vermoë het om vir ander te kan gee, doen dit dan, want alhoewel Jesus ryk was, het Hy arm geword terwille van ons sodat ons ryk kan word. (2 Korintiërs 8:9) Gee dus as jy kan maar pas ook op dat jy nie so baie gee dat daar vir ander verligting is en vir jou verdrukking nie. (2 Korintiërs 8:13)
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!