Geloof soos ‘n kind

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Ek kan nie vir julle sê hoe baie terugvoer ek gekry het oor my vorige boodskap “Sonder Geloof” nie. Dis absoluut hart verblydend om te sien hoe die HERE in elkeen van julle se lewens werk!

Jesus het vir my daardie boodskap gegee en ek het die oggend vroeg dit begin skryf, maar ek het net die inleiding geskryf. Die res is die Gees van die HERE se werk, want woorde het soos water oor papier gevloei! Prys die Naam van die HERE!

Jesus weet hoe baie daar van julle is wat swaarkry en Hy weet ook hoe moeilik dit is om Sy Wil in alles raak te sien, maar soms is dit wat nou gebeur die enigste manier geloof weer op te bou sodat jy weer soos ‘n kind moet glo. Ek weet, want ek was al twee keer daar!

My eerste keer was toe ek nog in die polisie was en my bevordering vir meer as ‘n jaar teruggehou was as gevolg van ‘n onbenullige ondersoek. Iets soos dit vat gewoonlik ‘n maksimum van drie maande; nooit meer as ‘n jaar nie. Ek kan nie begin om vir julle te sê hoe kwaad ek vir Jesus was nie. Ek wou vuur spoeg; vlamme blaas. Ek het God blameer vir alles, maar ek het die geloof behou, Prys die Naam van Jesus!

Die tweede keer het Jesus my tot op die rand van bankrotskap gebring. Daar was geen manier hoe ek op my eie daar sou uitkom of in staat sou wees om enige van my rekeninge daardie maand te kon betaal nie. Ek het daardie aand alles in die Hande van Jesus gesit en vir Hom gesê dat Hy moet doen soos wat Hy goed dink. Na maande van elke aand myself aan die slaap bekommer, het ek daardie aand geslaap soos ‘n baba! Raai wat? Jesus was getrou en Hy het alles wat satan toegelaat was om te vat, weer vir my teruggegee! Prys Sy Naam!

Wat het ek uit hierdie ondervindings geleer? Om te glo soos ‘n kind!

Ons hou daarvan om te dink dat die aarde en sy volheid aan ons behoort, maar dis nie so nie. Niks wat jy besit behoort werklik aan jou nie. Alles wat jy besit, is wat Jesus graag vir jou wil gee, maar as hierdie dinge wat Hy vir jou gegee het, in die pad staan tussen jou en Hom, dan SAL Hy dit wegvat sodat jy weer moet leer hoe om te glo soos ‘n kind!

God sê mos “Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God!” (Eksodus 20:5) en Hy gaan jou met niemand en niks deel nie, want jy is Syne; by die naam geroep! (Jesaja 43:1) En daarom sal Hy tot die uiterstes gaan om te sorg dat jy Syne bly! Prys Sy Naam!

Nou kom ons by die vraag: waarom nou? Die antwoord is omdat die begin van die verdrukking ons in die oë staar. Binnekort gaan dit vir ons tyd wees om na ons ewige huis te verhuis. Voor dit kan gebeur moet daar eers nog meer oor hierdie aarde kom en God die Vader weet dat baie van Sy kinders se geloof nie sterk genoeg is nie. Dis waarom baie van julle nou hierdie pad van geloof moet stap om julle geloof weer te kry waar dit moet wees.

Ek wens ek kan vir julle wys wat regoor die wêreld besig is om te gebeur. Dis chaos op ‘n skaal wat ek nog nooit gesien het nie: brande, aardbewings, onluste, storms, vulkaniese uitbarstings, plae, noem maar op. Dan is daar nog die tekens in die lug: son verduisterings, maan verduisterings en asteroïede wat nader aan die aarde verbyvlieg as ooit voorheen. Alles wat Jesus gesê het gaan gebeur net voor Sy koms.

Dan moet daar nog ‘n oorlog ook kom… Sien julle waarom geloof nou skielik so belangrik is? Wanneer die wêreld bewe van vrees, gaan ons wat glo die steunpilare wees waaraan die wat nie glo nie, gaan vashou. Hierdie gaan ons laaste taak wees om te volbring voor Jesus ons gaan kom haal en daardie tyd is amper daar!

Glo daarom, liewe Kind van Jesus. Glo dat daar ‘n uitkoms is en weet dat jy beloon gaan word vir elke ontbering wat jy nou deur gaan!

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk