Mag die HERE ons versterk in die geloof sodat ons hierdie oorlog tot die einde sal kan baklei.
Staan vas in die geloof! Baie van julle het reeds begin om deurbrake te maak in julle lewens. Dis nou die tyd om vas te hou aan die vordering wat jy gemaak het, want soos altyd en met elke seëning wat die HERE gee, is die vyand daar om te steel wat die HERE gee.
Waarom is dit dan dat so baie die stryd verloor? Ongeloof, luiheid, oordeel en trots. Trots gaan Oordeel altyd vooruit. Julle sal nou-nou sien waarom.
Wanneer ons neerkyk en met ander fout vind, dan maak ons onwetend ‘n deur oop en laat ons satan in ons lewens toe. As jy baie krities is, sonder enige empatie, dan kan jy sterk teenstand verwag, maar as jy agterkom wat jy doen en dadelik ergifnis vra, dan maak jy daardie deur in satan se gesig toe. Dis in elke geval net iemand met ‘n meerderwaardigheid gevoel wat dink dat hy ‘n ander siel kan oordeel. Jy het geen idee wat se teenstand daardie persoon elke dag moet deurgaan net om staande te kan bly nie. Net die HERE weet dit en om te dink dat jy die reg het om te oordeel is trotsheid op sy beste.
Luiheid hou voor die tyd op om te werk en neem troos in dinge wat gemaklik is om te doen en wat afleiding gee soos fliek kyk, deur Internet te blaai en so voorts. Daar word natuurlik nie verwys daarna as jy ‘n blaaskans vat nie. Ek verwys nou na die ek-het-hard-gewerk-en-nou-kan-ek-dit-gemaklik-vat houding. Om dit te sê terwyl jy nog die energie het om meer te kan doen is luiheid!
Laaste en sekerlik die ergste is ongeloof. Ongeloof is satan en sy demone se gunsteling wapen! Ongeloof sê: “Ek doen die beste wat ek kan, maar ek sien geen vordering nie. HERE, is Jy seker dat dit die rigting is waarin Jy wil hê ek moet gaan?”
Die grootste sonde is Ongeloof! Ongeloof en trotsheid loop hand in hand, want jy dink jy weet beter as die HERE en op daardie oomblik glo jy nie in die HERE nie! Ons vergelyk onsself so maklik met ander mense en dis waar ons ons grootste fout maak, want jy vat jou oë van die HERE af weg as jy dit doen. So laat jy die vyand toe om jou te oortuig om nie die HERE te gehoorsaam nie, want Hy moes tog iewers ‘n fout gemaak het toe Hy vir jou gesê het jy kan dit doen! So begin ons om die HERE te bevraagteken: “Waarom ek HERE? Daar is so baie ander wat beter as ek is…” Dis ONGELOOF, Kind van die HERE, ongeloof!
Die belangrikste reël van onderskeiding, liewe leser, is om te weet wanneer jy geaffekteer word deur moegheid, afleiding, emosies of ‘n terugslag. Satan wil baie graag hê dat jy ‘n terugslag moet beleef, want dan kan hy en sy trawante op jou spring en jou aanval omdat jy die HERE volg. Wat jy oom al doen, moenie jou rigting verander nie, want jy ken die HERE en jy weet wat Sy Wil vir jou lewe is. Opposisie sal daar altyd wees, maar moenie van rigting verander nie. Dis die geheim van onderskeiding en ook die belangrikste reël.
Ek weet dat baie van julle lus voel om in te gee en soms soos ‘n mislukking voel, maar weet dat jou lewe vir die HERE geen mislukking is nie. Ons help baie keer siele sonder dat ons dit besef. Dis waarom baie van ons se harte soos vuur gelouterde goud is wat gloei en blink!
Liewe Kind van die HERE, moenie oor die klein goedjies in die lewe bekommerd wees nie. Daardie dinge is maar net spoedwalle in die pad van die ewigheid en jy sal baie gou daaroor wees en dan gaan dit vergete wees… vir altyd!
Bid vir geloof. Bid dat die HERE jou hart gaan versterk. Sê vir jouself dat jy kan, jy sal en dat jy wil! Staan vas in die geloof. Satan wil hê dat jy moet vaal en hy sal gedurig leuens in jou oor fluister soos dat jy nie goed genoeg is nie, dat jy gaan vaal of dat jy nie die ondervinding het nie. Dis ‘n demoniese gees wat jou uittart! Bestraf hom! Verwerplike wese!
Hierdie is die tipe leuens wat in die vorm van gif pyle op ons afgevuur word. Jou verdediging behoort te wees dat die HERE gesê het dit sal so wees en dan die HERE se Woord te vat as die een absolute waarheid! Dit sal ‘n einde aan satan se gifpyle maak.