Ons almal ken daardie gedeelte waar satan vir Jesus drie keer versoek het en hoe Hy daardie versoekings elke keer afgeweer het.
Dis die gedeelte wat ek gekry het met my oggend godsdiens en eers het ek gewonder waarom ek nou juis hierdie gedeelte gekry het. Wat ek nie op daardie oomblik besef het nie was dat Jesus my wou waarsku dat satan besig is om ‘n komplot teen my te sweer vir daardie dag!
Daardie hele dag was satan al oor my soos ‘n goedkoop sop! Die versoekings het neer gereën op my en ek moes omtrent bont staan. Ek het later verstaan waarom ek daardie gedeelte gekry het en ek het geweet dat Jesus my vooraf wou waarsku van wat aan die kom was.
Later daardie selfde dag het iemand my gekontak en my vertel hoe satan daardie persoon ook versoek het. Die persoon het aan my vertel dat die boodskap wat ek daardie dag gepos het, presies dit was wat gehoor moes word om te besef dat satan besig is met ‘n aanval op daardie persoon.
Sien julle hoe Jesus ons lei as ons bereid is om na die Gees te luister? Daar was geen manier hoe ek kon geweet het dat my boodskap so ‘n doel sou hê nie. Ek het die boodskap geskryf omdat dit vir my reg gevoel het om te doen en daar breek ons toe een van satan se magte! Prys die Naam van Jesus daarvoor!
Jesus weet dat ons nie perfek is nie. Ek is baie beslis nie perfek nie. Ek sal graag wil wees, maar Jesus het my so gemaak met ‘n doel en ek is tevrede daarmee. Hy het in elke geval nooit gesê dat as ons Hom volg ons perfek gaan wees nie, maar kyk net die magtige werk wat Hy doen deur ons bereidwilligheid! Is Jesus nie waardig om geprys te word nie?
Daarom; pasop vir die versoeke, want dit gaan altyd daar wees, maar moenie so daarop konsentreer dat jy vergeet om na die leiding van die Gees te luister nie. Jesus doen wondere deur ons as ons bereid is om te luister.
Prys die Naam van Jesus!
