So nou en dan is die leiding van die Gees in een woord opgesom verstommend en dan moet dit met ander gedeel word.
Ons is almal mense en om daardie rede wonder ons soms oor ons eie sondige lewe. Ja, ek is een van hulle. Soms wil ek soos Petrus uitroep: “Gaan weg van my, Here, want ek is ‘n sondige man!” (Lukas 5:8) en soms wil ek soos Paulus uitroep: “…as ek die goeie wil doen, is die kwaad by my aanwesig.” (Romeine 7:21)
Julle sien, dis ‘n nimmer eindige stryd! Die wil om goed te doen is sterk, maar dan kom satan en voor jy weet wat gebeur, is jy daar onder in die modder en dan voel jy soos ‘n mislukking omdat jy weereens gefaal het in jou soektog om perfektheid na te jaag. Wat ons nie besef nie is dat daardie skuld gevoel nie van Jesus af kom nie, maar van satan self af. Dis hy wat jou aankla deur jou swakhede uit te wys en dan voel jy of jy nooit goed genoeg gaan wees nie.
Die waarheid is dat ons sondige wesens is wat onsself nie kan help nie. Die waarheid is ook dat ons baie swakker is as wat ons dink ons is. Satan weet al hierdie dinge en hy slaan op hierdie swakhede van ons soos ‘n man op ‘n drom; aanmekaar en oor en oor!
Maar toe kom Jesus in die prentjie in en Hy gee vir my Lukas 18:9-14 om te lees. Dis die gelykenis van die Fariseër en die Tollenaar. Kom ons lees dit saam.
“[9] En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. [10] Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. [11] En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. [12] Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. [13] En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! [14] Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.” (Lukas 18:9-14)
Dus, liewe leser, as jy faal en jy sondig, selfs al is dit dieselfde sonde oor en oor, moenie jouself regverdig nie! Moet jouself ook nie skop nie. Niemand van ons is perfek nie en jy gaan ook nooit perfek wees in hierdie lewe nie. Maak dus vrede daarmee. As jy val en sondig, dan val en sondig jy. Dis nie die einde van die wêreld nie! Om te dink dat jy nooit vir satan se streke gaan val nie, is hoogmoed en dis erger as om te sondig.
Kyk na die voorbeeld van die tollenaar: hy het besef dat hy ‘n sondaar is en dat hy God elke dag in sy lewe nodig het. Hy het nie eers opgekyk na die Hemel nie, maar eerder uitgeroep om genade en dis waarom Jesus gesê het dat hy geregverdig voor God huis toe gegaan het. Hy was nederig en hy het sy foute erken. Hy het dit nie probeer wegsteek nie deur voor te gee dat hy beter is as enige iemand ander nie.
As jy dus geregverdig wil wees voor die Koning van die Heelal, dan weet jy nou wat om te doen. As jy val en sondig, dan val en sondig jy. Dis wat jy onmiddellik daarna doen wat tel. Probeer jy jouself regverdig met baie slae of roep jy uit soos die tollenaar: “o God, wees my, arme sondaar genadig!”
Moenie dat satan jou kasty nie en moenie probeer om hoogmoedig te wees nie. God haat hoogmoed, maar die sondaar vind genade in Sy oë! AMEN!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
