Vertrou in die Here

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Vertrou in die HERE. Vertrou Hom met alles, want ons vyand loop rond soos ‘n brullende leeu opsoek na wie hy kan verslind.

Moenie vir een oomblik dink dat jy met vuur kan speel en nie daardeur geskroei kan word nie. Moet ook nie dink dat jy jou tyd kan gebruik om net vinnig met iets buite die wil van die HERE besig te raak en dat jy daarmee sal kan wegkom nie.

Jou vyand is baie slim… Hy sit ‘n soetsappige stukkie voor jou neer en sê: “Haai, kyk gou hier! Dit gaan net ‘n minuut vat…” en daar gaan jy. Maar daardie een minuut word baie gou drie minute en voor jy mooi weet, het jy ure gespandeer op iets wat doelloos was en vir jou geen voordeel inhou nie.

Julle sien, dit het met my ook al gebeur. Jy kyk ‘n Christelike video op You Tube. Die van julle wat weet, sal weet dat You Tube vir jou ander video’s langs die kant af wys waarin jou moontlik belang sal stel. Dit het sover nog altyd gebeur dat ek daar iets belangriker gesien het. In die begin het ek daarop gekliek, want ek was nuuskierig en dit het dan gelei tot nog ‘n video en nog een en nog een. Voor jy mooi weet, dan is dit wat jy gekom het om te doen lank al vergeet of jy het nie meer tyd om daarna te kyk nie.

Dis hoe satan werk. Hy wys vir jou een klein dingetjie, maar dis net die punt van die ysberg. Baie gou het hy jou nuuskierig en daar gaan jy. Die tyd wat jy dat saam met die HERE wou spandeer word dan uitgestel. Dis hoe satan van jou steel, liewe Kind van God.

As jou gewete vir jou sê dis verkeerd, maar jy gaan nog steeds daarteen, dan sal jy altyd verloor. Die HERE probeer jou daarvan weerhou en dis waarom jy jou nuuskierigheid in toom moet hou. Hou jou hart gefokus op wat suiwer en heilig is sodat jou siel nie besoedel moet word met wêreldse dinge nie.

As jy fokus op dit wat die HERE vir jou uitgesit het, gaan jy baie gou uitvind hoe soet die vrugte van jou arbeid is. Weet jy dan nie dat dit vir jou teenproduktief is om in ‘n ander man se boord te werk nie? Terwyl jy weg is, kom die voëls en verniel die vrugte wat jy met so baie moeite gegroei het. Sprinkane verniel die oes en die vyand kap die bome af. Jy kan nie bekostig om van jou boord af weg te wees nie, want te veel is op die spel. Beskerm jou gawes met gehoorsaamheid aan die HERE en vertrou op Hom, want Hy wil net die beste vir jou hê.

As jy die HERE lief het, sal jy gehoorsaam wees en dan sal die HERE jou beskerm van die strikke wat die vyand vir jou wil stel. Al wat die vyand wil doen is om jou vlerke te knip sodat jy nie meer kan vlieg nie. Luister dus na jou gewete.

Ek het ‘n boodskap vir iemand wat hierdie lees van die HERE af. Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? (Johannes 21:15)

Wat is jou antwoord, liewe Kind van die HERE? Lees dan gerus verder.

Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. (Johannes 14:23)

Het jy dus die HERE werklik lief? Vertrou jy Hom met alles wat jy het? Dan het ek nog ‘n vers vir jou.

As die HERE nie vir ons was toe die mense teen ons opgestaan het nie, dan het hulle ons lewendig verslind toe hulle toorn teen ons ontvlam het; dan het die waters ons oorstroom, ‘n stroom het oor ons siel gegaan; dan het die trotse waters oor ons siel gegaan. (Psalms 124:2-5)

Vertrou dan op die HERE, sodat Hy jou paaie vir jou gelyk kan maak en jou kan beskerm, want Hy het iets baie beter vir jou!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 139 times, 1 visits today)