Moet nooit onwaardig voel oor wat jy vir Jesus doen nie, want daardie gevoel van onwaardigheid kom van satan self af!
Ons almal wil graag baie vir Jesus doen en dan kyk ons na die wat baie gee en wens dat ons soos hulle kan wees. Wat ons nie besef nie, is dat Jesus na ons harte kyk en nie na dit wat jy gee nie. Elke hart het ‘n ander kapasiteit. Jesus het vingerhoede gemaak, maar ook kopies en balies en elkeen het ‘n ander kapasiteit om te gee.
Net so is daar verskillende vlakke van toe weiding en verskillende maniere hoe daar aan Jesus se Woord gehoor gegee word, maar Jesus het almal ewe lief, op dieselfde manier, onvoorwaardelik en met oorgawe! Die vingerhoed kan op geen manier hou wat die balie kan nie, maar tog is dit vol van Jesus se liefde!
Wat as ek vir julle sê dat die vingerhoed eintlik meer hou as die balie? Hoe kan dit dan wees? ‘n Vingerhoed hou tog die minste van al die voorwerpe, maar as die balie net ‘n gedeelte gee van dit wat dit het, wie gee dan die meeste? Verstaan julle nou? Dit gaan nie oor hoeveel jy vir Jesus doen of gee nie, maar met die oorgawe waarmee jy dit doen.
Die grootte van die houer is nie waarna Jesus kyk nie, maar na die oorgawe waarmee daar gehoor gegee word aan Sy Woord. Die wat gawes het, maar dit wegsteek, gaan baie arm in die Hemel wees. Dis die wat die niks het nie, maar alles gee, wat die rykstes gaan wees. Kom ek stel dit duidelik: Dis nie hoe groot of hoe baie die houer hou wat saak maak nie, maar met die oorgawe en volheid waarmee gegee word.
Kyk na die weduwee se penning in Markus 12:41-44. Sy het niks gehad nie, behalwe ‘n oortjie, tog het sy alles wat sy het gegee. Daar was ook balies wat finansieel baie meer gegee het as sy, maar hulle het gegee uit hulle oorvloed. Sy het alles gegee wat sy gehad het en daarom het sy wat maar ‘n vinger hoed was, meer vir Jesus gedoen as wat ‘n balie kon doen!
Hiermee bedoel ek nie net geldelik nie, maar op elke vlak van die samelewing. Jy kan skatryk en vernaam wees met ander woorde, jy kan ‘n groot balie wees, maar as jy op jou naaste neersien, hou jy minder as ‘n vingerhoed! Verstaan julle? Dit gaan alles oor jou gesindheid.
Jesus kyk nie na die kleinheid van die hart of die kleinheid van die bediening nie. As jy verantwoordelik is om baie uit die Woord uit te voed, dan moet Jesus jou meer gee om te voorsien aan die aanvraag. Hoe kleiner die houer, hoe groter die krediet wat Jesus gaan ontvang en dit is soos dit moet wees.
Gee alles wat jy het; stel Jesus eerste in alles wat jy doen en kyk hoe Jesus jou sal seën!
Prys die wonderlike Naam van Jesus vir hierdie woord!