Hoe weet ek of ek geneem gaan word in die wegraping?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Hierdie is ‘n vraag wat almal van ons al een of ander tyd gevra het; nie dat daar ‘n rede is om ons daaroor te bekommer nie!

Soos alles in die Woord van die HERE, hoef ons as mens net die minimum te doen en Jesus doen die res. Al wat ons hoef tye doen is om weg te doen met sonde en ons beste te doen om nie daarby betrokke te raak nie. En as dit gebeur dat jy in versoeking kom en val, gaan dan dadelik na Jesus sodat Hy jou kan vergewe en jou kan herstel.

In Lukas 21:36 lees ons “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Kom ek verduidelik: WAAK, sodat jy nie by sonde betrokke raak nie; BID, sodat Jesus jou kan vergewe en kan herstel. Dan sal jy waardig wees om dit wat kom te ontvlug. Sien julle hoe maklik dit is?

Miskien sal julle nou verstaan wat Jesus bedoel het in Lukas 21:34 “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.” As ‘n mens so om jou kyk, dan is die wêreld besig om een baie skrikkerige plek te word… Misdaad neem toe en in geweld; water is skaars; politieke leiers is korrup en misbruik die mag wat aan hulle toevertrou is; noem maar op. Dis vandag makliker as ooit in die geskiedenis om beswaar te word oor die sorge van die lewe.

Ek sien dit in my vriende kring: hoe mense opgesweep word en hulle dood bekommer oor dinge waaroor hulle geen mag het om te verander nie. Jy raak later so negatief oor die dinge van die wêreld dat jy nie meer kans sien om te bid nie… Lukas 21:34 in aksie! Dis waarteen Jesus ons gewaarsku het.

En dan: hierdie een kan ek nie genoeg beklemtoon nie; die sleutel tot sukses is naasteliefde! Naasteliefde bedek baie sonde! Behandel alle mense met vriendelikheid, deernis en respek. Maak nie saam wat daardie persoon aan jou doen nie. Volg die voorbeeld wat in Filippense 4:5 vir ons gestel is, naamlik: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.” Doen julle net so! AMEN!

Vertrou Jesus in alle opsigte van jou lewe. Moet onder geen omstandighede jou eie heil probeer bewerkstellig nie, maar vertrou eerder op Jesus dat Hy klaar die uitkoms het en dat Hy in beheer is van alles, selfs al lyk dit nie vir ons so nie. “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” (Filippense 4:6)

Ons verstaan nie altyd waarom dinge gebeur nie en nou probeer ons dit op ons eie uitwerk. MOENIE! In Jesaja 55:9 staan daar tog immers: “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is My weë hoër as julle weë en My gedagtes as julle gedagtes.” Jesus is in beheer. Hy stel mense aan in posisies met ‘n baie goeie rede. Dis soos Paulus in 1 Korintiërs 13:12 gesê het: “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.”

Om op te som: moenie julle oor die wêreld of julle omstandighede bekommer nie. Dis ‘n mors van kosbare tyd saam met Jesus! Konsentreer eerder op Jesus en vertrou dat die uitkoms daar sal wees wanneer jy dit nodig het! Leef jou naasteliefde uit en bid, bid, bid! Moenie die gebed verwaarloos nie. As jy hierdie doen, sal daar vir jou geen rede tot kommer wees nie!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën! Prys Sy Naam!

(Visited 336 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .