Volg die leiding van die Gees

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Some raak ons so oorweldig deur die keuses wat voor ons lê dat ons nie weet wat om te doen nie en dis wanneer die leiding van die Gees belangrik word in ons lewens.

So was die dissipel Paulus op geleentheid in die stand van Ikonium. (Handelinge 14) Ikonium was ook genoem Lystra en alhoewel dit nie meer van dag bestaan nie, was dit ongeveer 30km van die dorpie Konya in Turkye. Paulus was daar om die Woord van God aan die mense te verkondig.

In daardie begin jare het die dissipels baie staat gemaak op die leiding van die Gees, want die geloof in Christus was jonk, mense wou nie altyd luister nie en die kans dat jy doodgemaak gaan word, was baie groot! Dis dan ook wat in Ikonium gebeur het. Die Jode wat ongehoorsaam was, het begin om die heidene teen dissipels op te hits.

Op daardie stadium was die Evangelie nog net aan die Jode verkondig en nie aan die heidene wat nie Jode was nie. Die heidene het natuurlik afgode aanbid en ek kan myself net indink wat se stories daar versprei was! Die heidene het kwaad geraak in so ‘n mate dat hulle verbitterd was oor die leer van Christus.

Paulus kon sy goed gevat het en besluit het dat hierdie stad nie die moeite werd was om te red nie, maar hy het nie. Hy het, ten spyte van die verbittering, nog ‘n geruime tyd daar gebly en vrymoediglik gespreek onder die leiding van die Gees. Julle sien, Paulus het geweet van die beweging teen hom, maar die Gees het vir hom gesê om nog te bly en omdat hy gehoorsaam was het die Gees beskik dat daar verskeie wonderwerke deur sy hande plaasvind.

Toe die ongehoorsame Jode sien dat hulle plan om van Paulus ontslae te raak glad nie werk, het hulle ‘n beweging laat ontstaan om die dissipels te mishandel en te stenig. Weereens het die Gees van God in werking getree en die dissipels daarteen gewaarsku en hulle het gevlug na die omliggende stede waar hulle die Woord van God verkondig het.

Julle sien, dit was tien teen een glad nie Paulus se doel dat hulle die omliggende stede sou besoek om die Woord daar te verkondig nie, maar nou het hulle. God het toegelaat dat satan hierdie rondte wen, maar hy het nie werklik gewen nie! Daar was nou gelowiges in Ikonium, sowel as die omliggende stede ook! In plaas daarvan dat die gelowiges in klein beweging net in Ikonium sou gehad het, was die beweging nou baie groter en in die omliggende dorpe ook!

Vandag kan ons die leiding van die Gees net so gebruik soos wat Paulus dit gedoen het. Al wat ons moet doen is om vir die Gees die magtiging te gee om ons so te gebruik deur gebed. Ek kan nie vir julle verduidelik hoe baie keer ek al in my lewe voor vraagstukke te staan gekom het, nie geweet het waarheen nie en dan kom die snaakste gedagtes by my op! Goed wat ek nooit op my eie aan sou gedink het nie! Dis die leiding van die Gees daardie! Dit voel snaaks in die begin, maar ‘n mens word gewoond daaraan soos jy in Christus groei.

Gee die Gees ‘n kans in jou lewe en julle sal verbaas wees wat ‘n wonderlike metgesel die Gees is. Hy is ‘n ware heer en Hy sal niks doen sonder jou toestemming nie! Prys die Naam van Jesus!

(Visited 128 times, 1 visits today)
Tagged , , .