Om sonde te pleeg is darem altyd so lekker en hoe meer jy daarmee aanhou, hoe lekkerder word dit!
Later oortuig satan vir jou dat jy net ‘n mens is wat jouself nie kan help nie en dat Jesus sal verstaan… Dis wanneer die speletjie gevaarlik word en jou ewigheid op die spel geplaas word sonder dat jy dit eers besef!
Die probleem kom wanneer jy eendag agterkom hoe satan vir jou gelieg het en dan ‘n omkeer wil maak! Dan kom jy agter net hoe hoog en hoe dik jy daardie mure gebou het! In baie gevalle het jy ‘n hele reeks van kastele gebou en nou word elkeen van hulle bewaak deur ‘n demoon! Dis genoeg om enige mens sommer net daar en dan te laat opgee!
Gelukkig het Jesus gesê dat ons nooit die pad alleen sal loop nie en dat Hy elke stap saam met ons is. Ek gaan nie met julle stories praat nie, want om ‘n omkeer soos dit te maak is nie maklik nie. Jy begin om daardie kasteel af te breek, maar elke slag as jy struikel, dan herstel ‘n groot gedeelte van daardie muur en dan moet jy dit weer begin afbreek.
In baie gevalle is dit makliker om te doen soos wat hulle in die ou dae gedoen het. In Engels is daar ‘n woord daarvoor en die woord is “seige warfare”. As daar ‘n kasteel was wat ingeneem moes word kon daardie kasteel aangeval word en ingeneem word, maar sommige kastele was net te goed bewapen en dit sou maak dat honderde soldate hulle lewens verloor in so ‘n aanval. Die maklike manier was om die kasteel te omsingel en alle toevoer roetes tot die kasteel af te sny totdat die inwoners later oorgee van honger en dors.
In die geval van mense wat verslaaf is, is dit die beste strategie om te volg. Vermy dit wat jou laat struikel en die demoon wat jou aanval sal later moed opgee en iemand anders gaan soek om aan te val. Om daardie kasteel af te breek gaan dan aansienlik makliker wees!
Moet egter nie te gerus word nie, want alhoewel die kasteel afgebreek is, bly die fondasie altyd agter en kan daar baie maklik weer ‘n nuwe kasteel in sy plek opgerig word as jy nie versigtig is nie. Jy gaan jouself moet kondisioneer om daardie sonde te vermy ongeag wat mense sê of dink. Verslaafdes is weer die beste voorbeeld, want een struikeling en die mure gaan in ‘n kits weer op!
As gevolg van ons sondige natuur sal ons sekerlik nooit heeltemal daarin slaag om satan uit ons lewens te hou nie, maar ons kan probeer! Daardie poging is in baie gevalle meer werd as wat ons ooit sal dink. Iemand het eenslag gesê dat dit beter is om te probeer en te vaal as om nooit te probeer nie. By ons geveg teen sonde is dit meer werd as wat ons sekerlik besef!
Dis waarom dit so belangrik is om as ons oortree vergifnis te gaan soek vir ons oortreding. Moenie na satan luister nie, want hy gaan jou vertel hoe teleurgesteld en hoe kwaad Jesus vir jou is. LEUENS! Satan weet dat as jy terug gaan na Jesus toe, dan sal jy vergewe word en dan gaan hy van voor af moet begin om jou te versoek. Hy weet ook dat as jy wegkruip vir Jesus, dan kan hy jou langer aanval en laat sleg voel oor jou oortredinge!
Moet daarom nie na satan se leuens luister nie en gaan dadelik terug na Jesus toe as jy gestruikel het. Jy sal later agterkom dat hierdie ‘n tweede gewoonte geword het by jou en dan sal satan jou ook begin uitlos, want hy hou nie van sukkel nie!
In elke geval, gaan jy vir Jesus nodig hê enige vorm van verdediging teen satan, want op jou eie gaan jy dit nie kan regkry nie. Jesus is daar vir jou en Hy staan gereed met ‘n magdom van engele om jou te help, maar dan moet jy vra. So doen dit, liewe leser en laat Jesus jou help met jou geveg!
Prys die Naam van Jesus!