Voorspellings oor die wegraping

Ek let die afgelope tyd op hoe die drome en die gesigte oor die wegraping toegeneem het. As ‘n mens nou na al hierdie getuienisse luister, dan besef jy net hoe naby die tyd is…

Dan is daar natuurlik diegene wat die presiese datum en die tyd van die wegraping probeer uitwerk. Julle weet, ek kry hierdie mense vreeslik jammer, want hulle luister nie na die Woord van God nie en dis waarom hulle as leuenaars uitgewys word.

Jesus sê in Mattheus 24: 36 “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” Ook in Handelinge 1:7 sê Jesus “Dit kom julle nie toe om die tye of geleenthede te weet wat die Vader deur sy eie mag bepaal het nie;”

Hierdie twee verse saam sê vir ons alles wat ons moet weet naamlik “niemand sal die dag en die uur weet nie” en “dit kom ons ook nie toe om dit te weet nie.” Ons sal wel weet as die tyd naby is en dit is genoeg vir ons om te weet oor hierdie onderwerp.

Volgens een persoon se voorspelling moes die wegraping op die 28/29ste April gebeur het… Die feit dat ons nog steeds hier is spreek boekdele! Ek veroordeel nie die persoon nie, maar ek gaan hierdie gebeurtenis gebruik as ‘n voorbeeld vir julle om te kan kyk, luister en leer. Almal wat ek al gesien het sulke voorspellings maak, is uitgewys as ‘n leuenaar! Deur na sulke voorspellings te luister, stel jy jouself op vir ‘n enorme teleurstelling!

Jesus het ons vooruit gewaarsku teen hierdie dinge: “As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! —moet dit nie glo nie.” (Mattheus 24:23) Is die Woord van God en die liefde van Christus nie wonderlik nie?

Liewe lesers, sien hierdie as ‘n les van die HERE af om nie op die woord van ‘n mens staat te maak nie. Sien hierdie as ‘n aansporing om op te hou om na die hemel te staar en van die dak van jou huis af te klim. Jesus gaan kom wanneer Jesus gaan kom; nie ‘n sekonde vroeër of ‘n sekonde later nie. Ons weet dat die tyd naby is. Ek kan dit met sekerheid sê, want ek kan dit aanvoel. Ek weet dat daar ander van julle is wat dit ook kan aanvoel.

Hou aan met werk vir Jesus en hou aan om jou lewe te beplan. Beplan vir volgende maand, die einde van die jaar, selfs die jare wat kom. Daar is mee niks verkeerd nie, want wat ons nie nou klaar kry nie, sal ons in die hiernamaals klaar kry. Moenie nou alles in die lug opgooi en gaan sit en niks doen nie. Ons moet aanhou om vir hierdie wêreld ‘n voorbeeld te wees terwyl ons kan. Laat elke sekonde tel!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 143 times, 1 visits today)
Tagged , , .