Vrae rondom die praat in tale

Ek het al voorheen oor die praat in tale geskryf, maar die Gees wys vir my dat daar van julle is wat nog vrae het rondom dit.

Die praat in take is die mees visuele vorm dat die Heilige Gees in iemand se lewe is en dis waarom so baie mense dink dat die gawe van die praat in tale die mees belangrikste van al die gawes is. Dit is natuurlik nie so nie, maar kom ons kyk wat sê Paulus in sy brief aan die gemeente van Korinte daaroor. (1 Korintiërs 14)

Hy begin deur te sê dat iemand wat in tale praat nie tot mense praat nie, maar tot God, want niemand verstaan dit nie. Dis omdat hy of sy verborgenhede tot God spreek wat nie vir mense ore bedoel is nie. So iemand stig homself, maar nie die gemeente nie, omdat die gemeente nie verstaan wat gesê word nie.

Paulus gaan voort deur te sê dat as hy die hele tyd in tale spreek, tot watter nut gaan hy dan vir enige iemand wees? (Omdat niemand hom gaan verstaan nie.) Hy gaan soos ‘n musiek instrument wees wat ‘n onduidelike klank gee. As ons dan geen verstaanbare woorde uitbring nie, hoe sal enige iemand weet wat ons sê? Ons sal wees soos mense wat in die wind praat, want niemand gaan weet wat ons sê nie.

As iemand van ‘n ander land met ons in sy eie taal praat, sal ons nie weet wat hy of sy sê nie en die persoon sal wees soos ‘n vreemdeling. Dieselfde geld vir ons as ons in ons eie taal in ‘n vreemde land praat. Dan gaan die mense daar ons ook nie verstaan nie en ons sal dan vir hulle vreemdelinge wees!

Dis reg dat ons na die Geestelike Gawes moet stry, maar dis beter om te stry na die gawes wat die gemeente gaan stig. Dis waarom die persoon wat in ‘n taal bid, ook moet bid dat hy dit kan uitlê, want hoe gaan die wat die gebed hoor weet wanneer om “amen” te sê as hulle nie weet wat gesê word nie? Dis waarom dit beter is om vyf woorde in ‘n verstaanbare taal te spreek en so ander te onderrig as tien duisend in ‘n vreemde taal.

Paulus sê verder dat dit nie beteken dat die praat in tale onbelangrik is nie, want dit is nie, maar dis baie beslis nie die belangrikste van die gawes nie. Om te kan profiteer is belangriker omdat dit die gemeente stig, maar as iemand in tale praat en daar is niemand wat dit uitlê nie, laat die gemeente dan swyg, want daardie persoon het tot God gespreek.

Die van julle wat nie in tale kan spreek nie, moenie moed verloor nie. Onthou dat naasteliefde baie belangriker is as enige van die gawes. Waarom? Omdat ons die gawes nie saam met ons kan vat as ons Hemel toe gaan nie. Dink ‘n bietjie so daaraan; die Gawes van die Gees (1 Korintiërs 12:8-10) is wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, kragte, profesie, onderskeiding, praat in take en die uitleg van tale. Wie in die Hemel gaan nodig hê om gesond gemaak te word? Wie in die Hemel gaan geloof n of kennis nodig hê? Verstaan julle waarom die Gawes van die Gees nie saam gaan Hemel toe nie?

Die Vrugte van die Gees (Galasiërs 5:22), kan saam met ons Hemel toe gaan, want die vrugte is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Die Vrugte van die Gees kan ons saam met ons Hele toe vat, want dis ‘n leefstyl wat Jesus aan ons gegee het om uit te leef! Ons kan daardie leefstyl in die Hemel verder gaan uitleef!

Verstaan julle dit verskil? Konsentreer daarom op wat nuttig is en laat die Gees die Gawes uitdeel soos die Gees wil. As jy die Gawe van Gesondmaking nodig het, dan sal die Gees dit aan jou beskikbaar stel in daardie oomblik wat jy dit nodig het; dieselfde met die praat in tale. Laat die Gees jou toerus soos die Gees wil.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 279 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .