Ek het al voorheen oor die praat in tale geskryf, maar die Gees wys vir my dat daar van julle is wat nog vrae het rondom dit.
Die praat in take is die mees visuele vorm dat die Heilige Gees in iemand se lewe is en dis waarom so baie mense dink dat die gawe van die praat in tale die mees belangrikste van al die gawes is. Dit is natuurlik nie so nie, maar kom ons kyk wat sê Paulus in sy brief aan die gemeente van Korinte daaroor.
Hy begin deur te sê dat iemand wat in tale praat nie tot mense praat nie, maar tot God, want niemand verstaan dit nie. Dis omdat hy of sy verborgenhede tot God spreek wat nie vir mense ore bedoel is nie. So iemand stig homself, maar nie die gemeenste nie, omdat die gemeente nie verstaan wat gesê word nie.
Paulus gaan voort deur te sê dat as hy die hele tyd in tale spreek, tot watter nut gaan hy dan vir enige iemand wees? (Omdat niemand hom gaan verstaan nie.) Hy gaan soos ‘n musiek instrument wees wat ‘n onduidelike klank gee. As ons dan geen verstaanbare woorde uitbring nie, hoe sal enige iemand weet wat ons sê? Ons sal wees soos mense wat in die wind praat, want niemand gaan weet wat ons sê nie.
As iemand van ‘n ander land met ons in sy eie taal praat, sal ons nie weet wat hy of sy sê nie en die persoon sal wees soos ‘n vreemdeling. Dieselfde geld vir ons as ons in ons eie taal in ‘n vreemde land praat. Dan gaan die mense daar ons ook nie verstaan nie en ons sal dan vir hulle vreemdelinge wees!
Dis reg dat ons na die Geestelike Gawes moet stry, maar dis beter om te stry na die gawes wat die gemeente gaan stig. Dis waarom die persoon wat in ‘n taal bid, ook moet bid dat hy dit kan uitlê, want hoe gaan die wat die gebed hoor weet wanneer om “amen” te sê as hulle nie weet wat gesê word nie? Dis waarom dit beter is om vyf woorde in ‘n verstaanbare taal te spreek en so ander te onderrig as tien duisend in ‘n vreemde taal.
Pauls sê verder dat dit nie beteken dat die praat in tale onbelangrik is nie, want dit is, maar dis baie beslis nie die belangrikste van die gawes nie. Om te kan profiteer is belangriker omdat dit die gemeente stig, maar as iemand in tale praat en daar is niemand wat dit uitlê nie, laat die gemeente dan swyg, want daardie persoon het tot God gespreek.
Die van julle wat nie in tale kan spreek nie, moenie moed verloor nie. Onthou dat naasteliefde baie belangriker is as enige van die gawes. Waarom? Omdat ons die gawes nie saam met ons kan vat as ons Hemel toe gaan nie, maar die vrugte soos liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing kan ons wel saam met ons vat! (Galasiërs 5:22)
Waarom kan ons die gawes nie saam met ons vat nie? Omdat niemand in die Hemel wysheid, kennis, geloof, gesondmaking, kragte, profesie, onderskeiding, tale of die uitleg van tale nodig het nie. Dis waarom die gawes agterbly as ons Hemel toe gaan en dis ook waarom Pauls gesê het dat ons eerder moet konsentreer op die liefde!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!