So nou en dan wys die HERE vir ons iets in die Bybel wat ons al baie gelees het, maar nog nooit die nodige aandag aangegee het nie.
So het ek hierdie bekende gedeelte gekry in 2 Tessalonisense 1:3-10 en ek gaan dit hier met julle deel.
“[3] Ons moet God altyd oor julle dank, broeders, soos dit billik is, omdat julle geloof grootliks toeneem en die wederkerige liefde van elkeen van julle almal groter word, [4] sodat ons self in die gemeentes van God oor julle roem vanweë jul volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur— [5] ‘n teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word, waarvoor julle ook ly; [6] aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, [7] en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele [8] in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. [9] Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte, [10] wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind.” (2 Tessalonisense 1:3-10)
In kort gaan hierdie gedeelte oor ons as Kinders van God se lewe op Aarde; hoe ons moet verhard in die geloof ten spyte van die verdrukkinge. Niemand het ooit gesê dat om ‘n Kind van God te wees maklik gaan wees nie, want jy het ‘n vyand van satan gemaak die dag toe jy vir Jesus gekies het en daarom sal daar verdrukkinge wees en baie daarvan!
Maar kyk wat skryf Paulus: Ons sal verdruk word, maar God sal ook verligting gee! AMEN! Prys die Heilige Naam van Jesus! Jy sal dus nooit bokant jou verdrukkinge beproef word nie, selfs al lyk dit soms so! Deur al hierdie verdrukkinge wat ons meemaak, bewys ons ons waardigheid om staande te kan by op die dag wat die HERE Jesus met Sy magtige engele gaan verskyn. Paulus verwys natuurlik na die wegraping in hierdie gedeelte.
Soos julle weet en dit het ek ook al baie van geskryf is die wegraping nie vir almal nie. Die feit dat jy gered is, beteken nie dat jy die wegraping sal mee maak nie! Om die wegraping te kan meemaak, gaan jy jou Bruilofskleed skoon moet hou! Jy gaan moet ontslae raak van alle sonde in jou lewe! Die wegraping is nie ‘n geboorte reg omdat jy ‘n geredde Kind van God is nie; dis ‘n reddingspoging vir die wat volwasse in die Gees is en waardig is om gered te kan word van dit wat gaan kom.
Hoe weet ons dat dit so sal wees? Want Paulus skryf dit in vers 8 en ek haal dit aan: “in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.” Let op wat Paulus sê; die wat gaan agterbly is die wat weier om God te ken of nie belang stel om Hom te leer ken nie en dan die wending: die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hierdie sluit Kinders van God in, liewe leser, want as jy sonde in jou lewe het, dan is jy die evangelie nie gehoorsaam nie en dan is jy ook nie waardig om geneem te word in die wegraping nie!
Dis waarom dit vir ons as Kinders van God so belangrik is elke dag ons Bruilofskleed in die Bloed van die Lam te was tot vergifnis van ons sonde; ook daardie sonder wat ons pleeg sonder dat ons dit besef! Hiermee saam moet ons ontslae raak van daardie gewoonte sonde wat ons saam met ons dra; daardie begeerte na ‘n ander man of vrou, daardie masturbasie gewoonte, daardie prentjies waarna jy so graag kyk… Hierdie is die dinge wat jou gaan laat agterbly!
Liewe Kind van God, maak jou ore en jou oë oop sodat die HERE jou kan laat sien en jou laat hoor sodat jy nie een van die is wat gaan agterbly en dink dat God sal verstaan nie… Jy flous jouself as jy so dink!
Dis waar dat God ‘n God van liefde en vergifnis is, maar Hy is ook ‘n God van regverdigheid en Hy sal sonde nie ongestraf laat bly nie. Maak daarom nou reg terwyl jy dit tyd het, want enige oomblik van nou af kan die laaste oomblik wees wat ons op hierdie aarde gaan wees.
Ons weet nie wanneer Jesus gaan kom nie. Ons weet dat die tyd naby is en daarom moet ons nou oplet wat ons doen sodat satan nie kan kom en ons kroon steel nie.
Jesus, ek wil graag bid vir elke persoon wat hierdie boodskap lees en ek wil bid dat U daardie persoon se oë sal oopmaak dat hy of sy betyds sal kan sien wat verkeerd is en dit dat sal kom regmaak, my Vader. Ons weet dat die tyd van genade amper verby is en ons weet ook, dat die verdrukking geen grap gaan wees nie, daarom bid ek vir genade, my Vader en ek vra dat die een agtergelaat sal word nie. AMEN!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
