Ek wil vandag se boodskap begin met daardie bekende verse in Filippense 4 wat ek seker is ons almal ken; veral vers 4!
“[4] Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! [5] Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. [6] Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. [7] En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.” (Filippense 4:4-7)
Ek weet dat die Gees aan baie van julle openbaar het hoe min tyd ons oor het. Niemand van ons weet presies wanneer Jesus vir Sy Bruid gaan kom nie, maar soos Jesus gesê het sal ons weet as die tyd naby is. Dit is baie naby!
Daarom moet ons die tyd wat oor is uitkoop en om ons vriendelikheid aan alle mense te betoon is een manier om dit te doen. Ja, die wat jy mee te doen gaan kry gaan heelwaarskynlik dink dat daar fout met jou is, maar is ons dan nie veronderstel om anders as die wêreld te wees nie? Jesus het gesê dat onder geen omstandighede moet ons gelykvormig word aan die wêreld nie en ons is klaar nie, so wat maak dit dan saak wat die wêreld dink? Dis mos wat God dink wat vir ons saak maak, dan nie?
Ek weet dis moeilik om nie bekommerd te raak nie. As jy sien hoe duur alles geword het en hoe alles net op en op gaan en die geld al hoe minder en minder, dan word ons bekommerd. Hierdie is menslike swakheid, liewe leser, en Jesus blameer jou nie daarvoor nie. Moet jou dus nie daaroor kwel nie.
Kyk net wat skryf Paulus: “Die HERE is naby” en Hy is; op meer as net een manier. Hy is die hele tyd met jou, selfs al slaap jy. Hy sien hoe jy sukkel en hoe jy swaarkry. Hy sien en hoor elke gebed wat jy bid; elke smeking wat jy uiter. Moet dus nie dat satan jou probeer oortuig dat jy alleen is nie, want jy is nooit alleen nie! Satan is ‘n leuenaar; die vader van die leuen! Moenie luister nie!
Wees eerder dankbaar vir wat jy het, want daar is mense wat wens dat hulle kan hê wat jy het. Vertrou op die HERE om aan al jou behoeftes te voorsien, want Hy sal. Jy sal nooit te veel hê of te min hê nie, maar altyd genoeg om van te lewe. Daarvan kan ek vir julle getuienis lewer, want ek lewe van maand tot maand deur die genade van die HERE! Ek sou lankal finansieel bankrot gewees het as dit nie vir Jesus in my lewe was nie en dis ‘n feit! Jesus sorg vir die wat Syne is en daarop kan jy maar bank!
Die wêreld is besig om sy kop te verloor, maar dis omdat hulle die stem van die Skepper ignoreer. Binnekort gaan alles geheel en al uitmekaar val, maar moet julle nie daaroor bekommer nie. Jesus sal vir almal van ons sorg. Ons klein kuddetjie gaan letterlik die kalmte in die middel van die storm wees as dit gebeur en mense gaan na ons aangetrek word oor daardie kalmte wat hulle nie kan verstaan nie.
Mag die vrede van Jesus wat alle verstand te bowe gaan met julle wees van nou af tot in ewigheid. Die wêreld sal hierdie vrede nie verstaan nie, maar moet jou nie hieroor bekommer nie. Ons wat Jesus ken en vir wie Hy kosbaar is, sal maar net te goed verstaan. Onthou dat Jesus met elkeen van julle is en dat Hy nie een van julle ooit sal verlaat nie.
AMEN!