Vrygemaak deur die waarheid

Vandag wil ek met julle die bedelings/dispensasies in die Bybel behandel en dan sal julle sien waarom ons deur die waarheid vrygemaak is!

Daar is agt bedelings/dispensasies in die Bybel en in elkeen van hulle word kennis aan die mens geopenbaar. Ek gaan baie vlugtig daaraan raak.

  1. Die bedeling van onskuld – het geheers gedurende die mens se verblyf in die Paradys.
  2. Die bedeling van die gewete – het geheers tot na die vloed.
  3. Die bedeling van menslike regerings – het geheers van die verbod wat God met Noag gesluit het totdat Moses die klip tablette met die Tien Gebooie op by God op die berg Sinai ontvang het.
  4. Die bedeling van die wet – het geheers totdat die Heilige Gees op die dissipels na Jesus se Hemelvaart op hulle uitgestort was.
  5. Die bedeling van genade – is waar ons nou is en dit sal heers tot en met die wegraping van die Kinders van God.
  6. Die bedeling van die Antichris se regering – sal heers gedurende die sewe jaar van verdrukking totdat Jesus terugkom om te vat wat Syne van die begin van die wêreld af was.
  7. Die bedeling van die koninkryk – sal heers gedurende die Duisend Jaar Vrede Ryk. Satan sal gebind wees om die mens nie meer te versoek vir ‘n duisend jaar nie.
  8. Die bedeling van die ewigheid – is die laaste bedeling en sal vir ewig aanhou. ‘n Nuwe Hemel en ‘n Nuwe Aarde sal gemaak word en niks wat sondig is sal ooit weer inkom nie.

Waarom is al hierdie goed belangrik? Dis omdat elkeen van hierdie bedelings het ‘n definitiewe begin en ‘n definitiewe einde behalwe die laaste een, wat nooit sal eindig nie. Dis goed dat ons weet van al die bedelings en wat in elkeen van hulle gebeur het, maar die Bedeling van Genade waarin ons nou is, is die een wat belangrik is.

In die Bedeling van Genade is ons vry van die Juk van Diensbaarheid; vry van die Wet van Moses met al sy bepalings en is ons vrygemaak deur die waarheid wat in Jesus Christus is! Ons hoef nie mense wat sondig te stenig en met vuur te verbrand tot oordeel nie. Ons hoef nie diere te slag en die bloed te gebruik om ons sondes te vergewe nie! Die pad na vergifnis, liewe leser is net 50 sentimeter ver! En dis van jou knieë na die grond; Prys die Naam van Jesus!

Jesus net Sy lewe vir ons gegee om hierdie vryheid by God die Vader vir ons te kan “koop” as jy dit so wil stel. Ons hoef nie meer die Wet van Moses te onderhou nie. Dit het vir ons geen betekenis nie, want die bloed van die HERE is oor ons! Ons kan afsak tot op die grond en vergifnis vra vir enige iets wat ons verkeerd gedoen het sonder dat ons bang hoef te wees. Jy kan dit soveel keer doen as wat jy wil sonder dat die HERE enige iets van jou sal terugvra. Hierdie is ‘n vryheid wat die Israeliete wat gedurende die Bedeling van die Wet geleef het nooit gehad het nie. Verstaan julle die geskenk wat ons ontvang het deur Jesus?

As ons nou, in hierdie tyd, hierdie soort vryheid het, waarom, in die naam van alles wat heilig is, sal enige iemand wil teruggaan om die wet te onderhou? Ons is dan vry in die Naam van Jesus!

Begin julle nou verstaan waarom Paulus in Galasiërs 5:1-9 homself so uitgespreek het teen die wat die Wet van Moses wil onderhou? Verstaan julle waarom die wat die wet onderhou geoordeel sal word asof hulle die hele wet onderhou het?

As jy die vryheid het wat in Jesus en Sy opstanding is en jy verkies uit jou eie keuse om nog steeds die bepalings van die wet na te kom, dan het Jesus Christus, se dood aan die kruis en Sy opstanding vir jou geen betekenis nie! Daar sal vir jou geen genade wees tot die vergifnis van sonde nie, want jy het gekies om die wet te gehoorsaam! En die persoon wat julle mislei het om dit te doen sal ‘n baie swaar straf ontvang!

Liewe lesers, in die Naam van Jesus besweer ek julle om weg te bly van die wet en al sy bepalings af. Dis nie vir ons nie! Jy is vry en baie duur gekoop deur die bloed van die Heilige Lam, Jesus. Wat jy nou net is baie meer werd as enige deel van die wet. Bly weg, asseblief!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 257 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .