Waarom bekommer jy jou

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Mensekind, waarom bekommer jy jou oor die dag van môre. Is Ek nie die HERE jou God wat jou weë ken en jou in die holte van My hand bewaar nie?

Terwyl ek besig was om te dink oor hoe ek hierdie boodskap gaan begin, het die woorde soos bo by opgekom.

Ek sien weer hierdie afgelope tyd hoe mense hulle kan bekommer oor allerhande dinge en toe wys die HERE vir my dat ek op ‘n stadium self daar was. Die HERE het ook vir my gewys wat se vernietigende uitwerking die nuus op mense se lewens het en skielik het. Ek verstaan nou waarom die HERE vir my gesê het dat ek moet ophou nuus kyk. Hy het ook vir my die volgende rema vers gegee wat ek vir julle gaan bring.

Die beste manier om jou onskuld te bewaar is om jou van die wêreld te onttrek.

Ek wil hê dat julle moet verstaan dat bogenoemde vers nie beteken dat jy jou so moet onttrek dat jy later soos ‘n kluisenaar alleen woon nie. Wat bedoel word is dat jy moet oppas waaraan jy jouself blootstel soos waarna jy op televisie na kyk. Kom ek verduidelik.

Ek gaan nou ‘n gewone koerant as voorbeeld vat en vir julle vra hoeveel positiewe nuus julle al in ‘n koerant gelees het of op die TV nuus gehoor het. Julle antwoord sal tien teen een niks tot uiters baie min wees. Weet julle waarom? Omdat die nuus so geskryf word om jou te manipuleer sonder dat jy dit weet. Dit gaan nie meer daaroor om jou in te lig van wat rondom jou aangaan nie. Dit gaan daaroor om jou te manipuleer en om jou te laat geld spandeer. Mense wat bang is vir die wêreld om hulle doen een van twee dinge: hulle kruip in hulle huise weg wat hulle maklik maak om op te spoor of hulle spandeer duisende aan goed wat hulle nie nodig het nie. Mense installeer elektriese heining, want die wêreld is vol gevare. Hulle installeer dief alarms want iemand kan dalk inbreek. Hulle koop duurder en beter slotte sodat niemand tog kan inkom nie. Sien wat ek bedoel?

Julle sien; die standaard nuusberig word baie versigtig geskryf. Dit vertel jou alles, behalwe die waarom en dit, liewe leser, is die belangrikste gedeel te van enige storie. Die wie wat ook al aan wie gedoen het is nie belangrik nie; dis die waarom wat belangrik is en dit is die gedeelte wat jou nie vertel word nie. Nou gaan mense en hulle maak hulle eie gevolgtrekkings of hulle luister na sogenaamde eksperts wat nie een mense se gedagtes kan lees nie en so begin jy jou te bekommer, want wat as dit met jou moet gebeur! Maar jy weet nog steeds nie waarom nie!

Verstaan julle nou waarom nuusberigte so ‘n pot vol dodelike gif is? Sien julle hoe julle gemanipuleer word? Weet julle dat 99% van die dinge waaroor jy jou so bekommer nooit waar word nie? Dis 99% van jou energie wat jy spandeer aan dinge wat nooit gaan waar word nie! Dink net aan al daardie negatiewe energie wat jy saam met jou dra. Satan en sy demone is jou baie dankbaar, want hulle tap hulle energie om mense te versoek van jou af! Hoe weet ek dit? Al ooit gewonder waarom jy so vreeslik moeg word as jy jou bekommer? Nou weet jy!

Liewe Kind van die HERE; hierdie is nie die lewensstyl wat die HERE vir jou wil hê nie. Kyk wat sê die HERE vir ons in Mattheus 6:25-34: [25]  Daarom sê Ek vir julle: Moenie julle kwel oor jul lewe—wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam—wat julle sal aantrek nie. Is die lewe nie meer as die voedsel en die liggaam as die klere nie? [26]  Kyk na die voëls van die hemel; hulle saai nie en hulle maai nie en hulle bring nie bymekaar in skure nie, en tog voed julle hemelse Vader hulle. Is julle nie baie meer werd as hulle nie? [27]  Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg? [28]  En wat kwel julle jul oor klere? Let op die lelies van die veld, hoe hulle groei; hulle arbei nie en hulle spin nie; [29]  en Ek sê vir julle dat selfs Salomo in al sy heerlikheid nie bekleed was soos een van hulle nie. [30]  As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges? [31]  Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? [32]  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. [33]  Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. [34]  Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”

Waarom sal ek my dus bekommer oor enige iets in hierdie lewe? Die eerste vraag wat ek myself afvra as ek iets sleg hoor is: kan ek iets daaromtrent doen? Indien nie, moet jou dan nie daaroor bekommer nie. Slegte dinge gaan altyd gebeur en ons het geen beheer daaroor nie. Die HERE laat hierdie dinge toe om ‘n wye verskeidenheid van redes. Sy weë is hoër as ons s’n en ons sal dit nie nou verstaan nie, maar eendag sal ons.

Ek gaan julle ook verwys na 1 Petrus 5:7 Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle.”

Ons gryp so graag aan hierdie vers vas as dinge sleg met ons gaan, maar wat daarvan as dit goed gaan?

Ek wil julle uitdaag: hou op om koerant te lees en nuus te kyk vir ‘n week; dis sewe dae en kyk wat gebeur! As jy daarna weer na die nuus gaan kyk, gaan jy soen hoe ontstellend dit is en jy gaan dit daarna begin vermy!

Jy gaan ook agterkom dat jy die wêreld in ‘n ander oog uit sien. Nie meer as hierdie vreeslike bang plek waar jy die hele tyd op jou hoede moet wees nie. Jy gaan ook agterkom dat jy die HERE meer en meer vertrou om jou te beskerm. Mense gaan later vir jou begin vra of jy nie bang is nie en jy gaan nie verstaan wat hulle bedoel nie, want waarom moet jy bang wees?

As jy hierdie stadium bereik, dan is jy nie meer bang of bekommerd oor enige iets nie, want jy weet dat daar nie eers ‘n haar van jou kop af sal val sonder die HERE se toestemming nie. Terloops; jy verloor so om en by ‘n 100 hare elke dag! Dis ‘n 100 keer wat die HERE net aan jou alleen dink en toestemming daartoe gee! Dink jy nog dat jy bang of bekommerd hoef te wees oor iets?

Die HERE sorg waarlik vir jou, liewe leser! Hou op om na satan se leuens te luister!

Mag die Here hierdie boodskap seën!

image_pdfLaai afimage_printDruk