Waarom bid ons?

Hoeveel van julle het al gewonder waarom ons bid? Ek het al op verskeie kere in my geloofslewe oor hierdie vraag gewonder!

Een van my vriende het nou onlangs ‘n vreeslike interessante Christelike storie op Facebook gepos. Dit het my aan die dink gesit. Julle sien, dis wanneer ‘n mense op jou algehele laagste is; wanneer jy daar heel onder op die grond lê en nie meer kan nie, wat jy oor hierdie goed begin wonder. Waarom bid ek? Wat help dit? Is die HERE daar; miskien is die HERE met vakansie of is Hy net te besig dat Hy nie antwoord nie. Wie van julle was nie al hier nie? Ek was… Maar wat ons nie sien nie, is dat die HERE wel antwoord, maar nie op die manier wat ons dit verwag nie! Nou gaan ek vir julle die storie vertel.

Daar was ‘n jong seun wat elke oggend gesien het hoe sy Oupa op die plaashuis se stoep gaan sit het met sy Bybel en sy koppie koffie. Dan het sy Oupa sy Bybel gelees en dan gebid. Hierdie ritueel het elke oggend plaasgevind en een oggend vra die seun toe waarom Oupa dan bid, want niks gebeur dan nie.

Oupa vra toe dat hy die streepsak wat daar eenkant lê moet vat, afstap na die rivier wat nie ver van die huis af was nie, dit vol water gaan maak en dan moet terug bring. Die seun het gemaak soos Oupa gevra het, maar maak nie saak hoe hard hy probeer het nie, die streepsak wou net nie die water hou nie. Skaars het hy die sak vol water gehad, maar die oomblik as hy op die wal uitloop, dan het die sak leeggeloop.

Na die derde probeerslag stap hy toe met die nat sak terug na waar Oupa op die stoep sit. Hy vra toe vir Oupa waarom hy hom gevra het om die streepsak vol water te maak, want maak nie saak wat hy probeer nie, dit werk glad nie. Oupa antwoord toe dat hy reg is dat dit nie werk nie, maar wat hy nie opgelet het nie, is hoe skoon die rivierwater die sak nou gewas het!

Dit is waarom ons bid, liewe leser! Ons gebede bring nie altyd die veranderinge wat ons wil hê nie, maar partykeer is die verandering van ‘n aard wat ons nie verwag het nie. Ons bid vir een ding, maar die HERE verander iets anders wat ons nie dadelik oplet nie, maar die uiteinde is ‘n langdurige verandering waarby ons baie meer baat gaan vind!

Julle sien, ons bid en ons sien net die kort termyn dinge raak, maar God kyk in die lang termyn. Paulus kon dit nie beter gestel het toe hy gesê het: “Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is.” (1Korintiers 13:12)

Ons probeer sin maak van die bietjie wat ons kan sien, maar die antwoord is om aan te hou bid, selfs al sien jy geen veranderinge nie. Die veranderinge is daar, maar ons sien dit net nie altyd raak nie!

Prys die wonderlike Naam van Jesus!

(Visited 292 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .