Waarom ons bid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

As julle al ooit gewonder waarom ons bid en waarom dit so belangrik is; lees dan hierdie boodskap en julle sal verstaan!

Ek het hierdie getuienis van ‘n vrou wat ‘n voormalige satan aanbidder was gelees en dit was nogal treffend. Sy kon astrale projeksie doen en vir die wat nie weet nie, dis wanneer jy buite jou liggaam in die geestelike wêreld kan beweeg. Vir ons as Kinders van God is astrale projeksie iets wat ons nooit aan mag deel neem nie. Dis iets wat uit is soos koekies in ‘n weeshuis!

Hierdie vrou sê dat satan haar opdrag gegee het om mense aan te val. Sy is aangesê om veral Kinders van die HERE aan te val om hulle te laat sondig. Sy sê dat dit maklik was om te onderskei wie Kinders van die HERE was en wie nie, want die Kinders van die HERE het ‘n lig wat uit hulle uitstraal, wat ander nie het nie. Die ander was donker van binne en dit het gelyk of hulle blind was.

Eendag het sy op ‘n Kind van die HERE afgekom wat gelyk het of hy ‘n blou skild om hom het. Sy sê dat sy so iets nog nooit voorheen gesien het nie, maar maak nie saak wat sy probeer het nie, sy kon nie hierdie blou skild binnedring nie!

Sy het begin wonder oor dit wat satan gesê het, want tot op daardie dag het satan haar vertel dat as sy by hom bly, sy alles sal kan doen, maar nou is daar iets wat sy nie kan doen nie en dit is om hierdie persoon met die blou skild om aan te kan val!

Baie gou het sy nog van hierdie mense teëgekom met die blou skilde om wat sy nie kon aanval nie. Sy het later geleer dat die met die blou skilde om, Kinders van die HERE is wat ‘n aktiewe gebedslewe het. Omdat hierdie mense gereeld bid, het God hulle op ‘n bonatuurlike manier beskerm teen die aanvalle van satan.

Sy sê dat sy begin besef het dat satan nie so magtig was soos wat hy vir haar gesê het nie en sy het begin wonder waaroor hy nog lieg en dis hoe sy uiteindelik satanisme gelos het en tot bekering gekom het.

Dis getuienisse soos dit wat ‘n mens laat wonder en dan besef jy net hoe slinks satan werklik is. Die Bybel sê dat satan die vader van die leuen is en ons sien dit hier! Niks wat satan jou ooit vertel is heeltemal die waarheid nie. Daar is altyd een of ander verskuilde agenda in alles wat hy jou vertel en dis waarom dit so gevaarlik is om na sy leuens te luister!

Dis ook waarom elke gebed wat ons maak so belangrik is. Maak elke dag seker dat jou gebed altaar se klippe nog almal daar is en dat dit nie verstrooi êrens lê nie. Vir ons as Kinders van die HERE is bid uiters belangrik. Dis ons kommunikasie met God en daardeur kan ons vra net wat ons nodig het. Moet nooit jou gebedslewe afskeep nie!

Ek ook baie graag sê hoe dankbaar ek is vir al die gebede wat gemaak word deur almal van julle vir ons wat die Woord van die HERE hier bedien. Julle het geen idee van die impak wat julle gebede het nie. Dis as gevolg van julle gebede dat ons wat die Woord bring, daarmee kan aanhou!

Iemand het eenslag vir my gesê dat die bediening soos ‘n outydse ossewa wiel is of die wiel van ‘n perdekar. Jy het die as in die middel, dan die speke en laastens het jy die loopvlak. Al drie dele is nodig vir die wiel om te kan werk: die as om te kan draai, die speke vir die ondersteuning en laastens die loopvlak wat die fisiese werk doen.

Ons wat die Woord van God bedien, werk op die loopvlak waar ons deur satan aangeval en getrap word. Ja, Jesus laat dit doen en die rede is sodat ons wat die werk doen, nie ‘n groot kop moet kry en dink dat ons iets besonders is nie! Ons is die mees visuele deel van die hele kerk, want almal sien altyd die leraar eerste raak!

Die speke van die wiel is die wat die leraar ondersteun; hetsy finansieel of  op ‘n ander manier om die leraar se taak makliker te maak. Die speke is die diakens en ouderlinge om maar twee voorbeelde te noem, maar daar is baie ander wat in die stilligheid ondersteuning werk doen.

Die as is die wat die wat die hele tyd bid vir die bediening. Julle gebede help die speke om die gewig te kanaliseer in ‘n bepaalde rigting in, maar dit help ook die leraar wat die fisiese werk moet doen. Julle gebede is wat die hele wiel aan die loop hou en sorg dat dit bly loop. Sonder julle sal die wiel stukkend breek oor die eerste klip wat satan in die pad daarvan rol. Dis hoe belangrik julle is!

Moet nou nie ‘n grootkop kry nie, want Jesus haat hoogmoed! Ek wil net vir julle dankie sê en ek wil hê dat julle moet weet dat Jesus elke gebed wat julle doen raaksien en dat jy beloon gaan word vir die werk wat jy nou doen. Niemand werk ooit vir Jesus verniet nie!

Mag Jesus hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!

(Visited 137 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .