Het enige een van julle al op ‘n stadium in jou lewe gekom waar dit vir jou voel of die Here jou verlaat het? As jy bid, dan voel dit of jy teen ‘n muur vas bid!
Het u al gewonder waarom dinge soos dit gebeur? Waarom kry ons soms hierdie gevoel van “verlatenheid”? Ek gaan dit vir julle op ‘n baie kleurvolle en maklike manier verduidelik!
Die dag as jy ‘n selfoon koop het jy twee dinge nodig om dit te laat werk: ‘n sim-kaart wat binne in die selfoon moet pas en lugtyd by een van die diensverskaffers. Jesus is die sim-kaart. Hy is die begin. Sonder Hom (Sim-kaart) werk die selfoon nie. Die lugtyd is ons gebede. Ons moet baie bid, anders raak ons lugtyd op! Die netwerk is God. Jesus laat ons toe om direk met God te gesels, maar dan moet ons lugtyd en ‘n goeie ontvangs hê. Dis waarom dit so belangrik is om baie te bid en met God te gesels!
Die probleem met alle selfone is dat hulle nie altyd ontvangs het nie. Jy moet op die regte plek wees, anders het jy nie ontvangs nie. As jy binne in ‘n gebou instap, dan belemmer dit jou ontvangs. Sonde in die lewe van die Christen veroorsaak dat sy ontvangs met die netwerk (God) belemmer word. Dan is jy nie meer op die regte plek nie. Kommunikasie met God raak dan al hoe moeiliker en dis dan wanneer u hierdie gevoel van verlatenheid kry.
God het u nie verlaat nie, liewe leser! U is net nie meer op die regte plek nie! U sal moet sorg dat u weer op die regte plek kom en dan sal u ontvangs met die netwerk (God) herstel word sonder verwyte!
Julle weet, ek was self al menigte kere hier. In die begin verstaan jy glad nie wat aangaan nie. Jy wonder waarom die Here jou verlaat het, maar die waarheid is dat dit sonde in jou lewe is wat verantwoordelik is vir alles! Raak van die sonde ontslae, wend ‘n daadwerklike poging aan om dit nie meer te doen nie en jou verbinding tot die netwerk sal permanent word!
Jou ontvangs met God is die kern waarom alles draai. God kan nie dinge in jou lewe verander of regmaak as jou ontvangs met die netwerk nie reg is nie. Herstel dit asseblief heel eerste!
Mag die Here hierdie boodskap seën!