As ‘n mens die Gees van God vrye toegang in jou lewe gee, dan wys die Here partykeer vir ‘n mens baie interessante dinge!
Partykeer gebeur dit deur drome, maar meestal deur gedagtes wat by jou opkom. Gedagtes wat jou laat stilstaan en wonder, maar wat op aarde het my nou hieraan laat dink? Dis die Gees van die Here wat met jou praat en jou leiding gee.
Soos mens ouer word en meer ervare, leer jy hoe om hierdie gawe te gebruik. Die hoeveelheid sonde in jou lewe het ‘n groot invloed op hoe sterk die invloed van God se Gees in jou lewe is. Kom ons gebruik ‘n selfoon as ‘n voorbeeld. Jou ontvangs met die sel netwerk (dis nou God) is perfek as jy op die regte plek is. Gaan ‘n ‘n tonnel, tussen klowe of binne in ‘n gebou, dan word jou ontvangs belemmer, want jy is op die verkeerde plek! Ons lewens is presies net so. Hoe suiwer ons ontvangs met die Gees van God is, hang af of ons op die regte plek is. Sonde veroorsaak steurnisse sodat ons ontvangs met God belemmer word. Die Gees sukkel dan om met ons te kommunikeer omdat ons op die verkeerde plek is! Ons ewigdurende doel behoort daarom te wees om van hierdie steurnisse (sondes) ontslae te raak.
Op die oomblik kyk ons na die wêreld deur die bril van ‘n kind. Vra maar vir enige ouer wie se kinders bril dra: die lense is altyd vuil! Dinge gebeur rondom ons en met ons en ons kan nie sien waarom nie, want die lense is vuil! Nou doen ons wat babetjies doen: ons skreeu, want die eerste ding wat ‘n baba leer is dat daar iets gebeur as hy skreeu! Hierdie skreeu geluide kom uit in die vorm van klaaglied gebede waarin ons by die Here kla oor ons omstandighede en vra waarom sekere dinge met ons gebeur.
Vir ons as Kinders van God is daar nie so iets soos toeval nie. Niks gebeur sommer net omdat dit gebeur nie! Die Here het ‘n doel en die doel is om ons groot te maak vir die ewigheid. Die Bybel sê vir ons dat ons eendag saam met Jesus hierdie wêreld gaan regeer. Wie van julle is gekwalifiseerd om nou op hierdie oomblik ‘n land te regeer? Ek is nie en ek twyfel of daar enige iemand is wat hierdie lees wat so gekwalifiseerd is! ‘n Prins stap nie sommer in die paleis in en begin dadelik om die land te regeer nie. Hy spandeer etlike dekades saam met sy pa die koning om te leer hoe om te regeer. Gedurende hierdie tydperk word daar stelselmatig vir die prins meer en meer verantwoordelikhede gegee sodat hy kan leer hoe om elke situasie die hoof te kan bied. Hierdie is nou ons tyd saam met ons Vader, Koning Jesus om te leer hoe om te regeer. Alles wat met ons gebeur is daar sodat ons ondervinding kan opdoen om eendag te kan regeer.
Saam met hierdie ondervinding het die Here Sy Woord vir ons gegee as riglyn ingeval ons verlore sou raak. In Sy Woord is alles wat ons nodig het om ‘n gesonde en produktiewe lewe vir God te lei. Ons word geleer hoe om ons mede mens te behandel, ons word geleer oor trou en skei en ons word geleer hoe om ons kinders groot te maak! Dis ‘n boek vol goddelike kennis wat ons met elke situasie moontlik kan help, maar dan moet ons dit lees en toepas soos ons ouers voor ons dit ook gedoen het. Slegs dan kan die Woord van die Here tot sy reg kom.
Eendag gaan ons, ons grootmens bril opsit en dan gaan ons na hierdie wêreld kyk deur nuwe lense, maar daardie dag is nog nie hier nie. Tot daardie dag kom, gaan ons moet luister na die stem van die Gees en ons gaan die Woord van God moet lees en ons gaan ondervinding moet opdoen om te kan regeer.
Mag die Here hierdie boodskap aan baie harte seen!