Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader. (Markus 13:32)
Dit gebeur nou gereeld dat as ek my Bybel oopslaan, dat dit oopslaan by Markus 13, Lukas 21 en Mattheus 24. Soos julle weet, handel daardie gedeeltes van die Bybel oor die wegraping en die tweede koms van Jesus. Ek let ook op hoe daardie boodskap herhaal word in die twee Suider Kruis groepe op Watsapp en Telegram. Laastens word dieselfde waarskuwing gereeld op Internet ook uitgestuur.
Daar is net een antwoord daarvoor: Eerste vrugte; wees gereed!
Dit is waar dat niemand weet wanneer Jesus vir Sy Bruid gaan kom nie, maar ons sal weet as die tyd naby is. Jesus self het gesê dat ons moet oplet en as ons die dinge wat Hy voorspel het sien gebeur, dan gaan ons weet dat die tyd naby is. Deur die Heilige Gees sal ons ook weet as die tyd naby is, want die Gees sal dit aan ons openbaar, maar hierdie openbaring sal slegs gemaak word aan die eerste vrugte van die HERE.
Wie is hierdie eerste vrugte dan? Dis die Kinders van die HERE wat geestelik volwasse is. Die wat Jesus eerste gestel het in hulle lewens en wat niks doen sonder dat die Wil van die HERE daarin is nie. Jesus is die eerste vrugte se begin en hulle einde. Hulle het Hom onvoorwaardelik lief. Hulle bid gereeld en vra gereeld vergifnis vir hulle sonde omdat hulle die donkerheid van hulle eie harte ken. Hulle is die wat die toetse deurstaan het en wat nou gereed is om geneem te word as Jesus vir Sy Bruid kom.
Wat van die ander wat gered is? Hulle is God se Tweede Vrugte en hulle is nog nie op dieselfde vlak van geestelike volwassenheid as die eerste vrugte nie. Dis waarom dit nodig is dat hierdie groep weer getoets moet word sodat hulle kan leer hoe om geestelik volwasse te wees. Dit beteken nie dat God hierdie groep minder lief het as die eerste groep nie; dit beteken maar net dat hulle nie gereed is om geneem te word nie. Hierdie groep gaan moet leer om die eie ek te begrawe en om Jesus eerste te stel in alles wat hulle doen. As hulle sterf, dan gaan hulle nog steeds gered wees en hemel toe gaan, maar hulle is nie geestelik gereed om in die wegraping geneem te word nie.
Vir ons wat nou gereed is, weet in ons gees dat die tyd baie naby is. Ons sien al die tekens en ons sien ook dat die mense nie verstaan wat besig is om tye gebeur nie. Hulle gaan aan met hulle lewens asof daar niks verkeerd is nie, maar ons weet dat hulle agterna sal verstaan.
Maar ons moet gereed wees omdat Jesus gaan kom op ‘n tyd wat ons dit nie gaan verwag nie. Daarom, liewe leser, bid en waak, omdat ons nie weet wanneer nie. Ons weet dat die uur naby is, maar ons weet nie wanneer nie. Die beste wat ons kan doen is om te sorg dat ons gereed is.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!