Waarskuwings

Ek let die laaste ruk op hoe ernstig die waarskuwings geword het… Maar ten spyte daarvan, dien ons nog steeds ‘n liefdevolle God was so baie omgee dat Hy nie een van Sy kinders wil agterlaat om deur die verdrukking te gaan nie. Prys die Naam van Jesus!

Ek wil begin deur te sê dat die doel van hierdie boodskap nie is om enige iemand bang te maak nie. Jesus wil nie hê dat enige van Sy kinders bang moet wees vir wat gaan kom nie. Hy wil hê dat ons gereed moet wees, want die oordeel wat oor hierdie wêreld gaan kom, kom ons nie toe nie. Hy sê tog immers so in verskeie gedeeltes van Sy Woord, naamlik Romeine 5:9 “Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn.”, Romeine 8:1 “DAAR is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie…”, 1 Tessalonisense 5:9 “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus…” en 1 Tessalonisense 1:10 “en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.” Daar is dus geen rede vir ons om bang te wees nie, want ons wat gered is en in die Seun glo, is VERLOS van God se toorn en nie bestem vir die oordeel wat tydens die verdrukking op aarde uitgestort gaan word nie.

Maar dan moet ons God lief hê met ons hele hart, ons hele siel en ons hele verstand! Saam met dit moet ons ons medemens lief hê soos onsself! Hierdie is die eerste en die tweede gebod en daaraan hang alles wat van ons Kinders van die HERE maak! Prys die Naam van die HERE! Ons kan nie sê dat ons Kinders van God is en dan kom ons hierdie twee gebooie nie na nie, want dan is ons leuenaars en is die waarheid nie in ons nie. “…want aan die vrugte word die boom geken.”  (Mattheus 12:33)

In Esegiël 33 sê die HERE dat ons Sy brandwagte is. Die plig van ‘n brandwag is om alarm te maak as hy die gevaar sien kom. As ons dit nie doen nie en die swaard kom en neem ‘n siel weg, dan sal die bloed van daardie siel op ons wees omdat ons die gevaar sien kom het en die waarskuwing nie gegee het nie. As ons egter die gevaar sien kom en ons en ons maak alarm, maar mense steur hulle nie aan die waarskuwing nie, dan is hulle bloed op hulle omdat hulle die waarskuwing gehoor het, maar niks daaraan gedoen het nie.

Ek weet maar net te goed hoe frustrerend dit is om iemand te waarsku en dan val daardie waarskuwing op dowe ore. Jesus troos ons egter deur in die Woord te sê dat as dit gebeur, dan is dit nie ons wat verwerp word nie, maar Hy. Troos julle aan daardie woorde en moenie teleurgesteld wees as dit met julle gebeur nie.

Wees dus gewaarsku, liewe leser. [1] Want kyk, die dag kom, en dit brand soos ‘n oond. Dan sal al die vermeteles en almal wat goddeloosheid bedrywe, ‘n stoppel wees; en die dag wat kom, sal hulle aan die brand steek, sê die HERE van die leërskare; sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie. [2] Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan, en daar sal genesing onder sy vleuels wees; en julle sal uittrek en huppel soos kalwers uit die stal.”  (Maleagi 4:1-2) Wat ‘n belofte! Prys die Naam van die HERE!

Iemand het eenslag gesê: Ek was moeg en het handdoek ingegooi, maar Jesus het die handdoek teruggegooi en gesê: “Vee jou gesig af, want jy is amper klaar!” Ons tyd is amper om, liewe leser, vee jou gesig af, staan op en loop verder!

Mag die HERE julle seën en bewaar. Onthou, maak Jesus die middelpunt van jou lewe. Moet niks doen sonder Hom nie. Bou jou altaar deur elke dag te bid; hoe meer hoe beter!

Mag die HERE hierdie boodskap seën aan julle harte! Prys Sy Wonderlike Naam!

(Visited 337 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .