Die Wil van die Vader

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Daar is duisende wat dink dat as hulle ‘n goeie lewe lei en elke Sondag kerk toe gaan, hulle Hemel toe sal gaan… Nee, Nee, NEE! Liewe leser, as dit jou siening is, dan is jy so verkeerd soos wat jy nog nooit in jou lewe was nie!

Kyk wat sê Jesus in Johannes 14:6 vir ons: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Verstaan julle wat dit beteken? As jy Jesus nie as jou Verlosser en Saligmaker aanneem nie, sal jy nie Hemel toe gaan nie! Dit maak nie saak hoe ‘n goeie persoon jy is of hoe ‘n goeie lewe jy lei nie. Jy kan die liefdevolste persoon in die wêreld wees en ook die vredeliewendste. JESUS is die sleutel! Sonder Hom is jy verlore en SAL jy hel toe gaan. Moenie dat enige iemand jou anders oortuig nie, want enige ander oortuiging sal ‘n vals oortuiging wees.

Vir enige iemand om gered te kan word is ‘n drie stap proses:

  1. Sonde-oortuiging – Jy moet besef dat jy ‘n Sondaar is.
  2. Sonde berou – Jy moet berou hê oor jou sonde en alles wat jy gedoen het.
  3. Ommekeer – Jy moet afskeid neem van sonde en OPHOU om sonde te pleeg.

Stap drie is die moeilikste van al die stappe, want ons gaan struikel en ons gaan val. Stap twee en stap drie sal mekaar daarom herhaal soos u val en weer opstaan. Moet egter nie te lank lê u geval het nie, want dit nie gaan oor hoe u val nie, maar hoe u opstaan!

Tydens hierdie proses van u lewe omkeer om in lyn met die Wil van die Vader te wees, sal u agterkom dat u u lewe meer en meer aan die HERE toe te wy. Dit beken dat u lewe nie meer gaan wees soos u dit wil hê nie, maar soos God dit wil hê. Daardie duur huis, duur motor en daardie bevordering by die werk sal nie meer so belangrik soos voorheen nie. U sal begin om die Wil van die Vader uit te leef in u lewe.

Waar kom die Wil van die Vader dan in? Jesus antwoord daardie vraag vir ons in Johannes 6:40 “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.”

Dis dus ons as Christene se plig om die Woord van die HERE te verkondig! Jesus se laaste opdrag aan Sy dissipels soos opgeteken in Mattheus 28:19 was “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Julle moet onthou dat ons nie gered kan wees en dan maak soos ‘n groot gat in die water nie. Jesus soek nie geheime agente vir Hom nie. As u gedink het dat u gered kan word en dan iewers kan gaan wegkruip tot die oordeelsdag, dan is u verkeerd! Ek sê nie dat jy ‘n prediker moet word nie, want dis ‘n roeping, maar jy kan die Woord van die HERE uitleef in jou daaglikse doen en late. Jy sal verbaas wees hoeveel mense jy na die HERE toe sal aantrek deur net dit te doen.

As Christen is jou verhouding met Jesus die as waarom alles draai. As jy vir Jesus lief is en ek bedoel werklik lief is; dan gaan jy jouself nie kan help nie! ‘n Fontein van lewende water sal uit jou op borrel en jy gaan nie kan stilbly nie! Jy gaan net wil praat oor Jesus! Prys Sy Wonderlike Naam!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!