Wanneer gaan Jesus kom?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Hierdie is ‘n vraag wat seker op baie van ons se lippe is, veral nou dat ons so naby aan daardie tyd is!

Kom ons kyk heel eerste na Jesus se bekende woorde in Mattheus 24:36 voor ons enige iets verder doen: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”

Hierdie woorde sê dit sonder enige vorm van twyfel dat niemand gaan weet wanneer daardie dag gaan kom nie, maar dit los ons nie sonder hoop nie! Jesus sê in Johannes 16:13 “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.”

Deur die Heilige Gees sal ons dus weet as die tyd naby is en ek is seker daarvan dat daar van julle is wat dit ook kan aanvoel net soos ek, maar ons gaan nie weet presies wanneer nie. Ons kan raai wanneer die tyd gaan wees en ons kan dit ook met slim berekeninge uitwerk, maar dis nie te sê dat dit reg gaan wees nie. Dit gee ons egter hoop en soos Paulus gesê het: die hoop beskaam nie!

Ek weet dat van julle dink dat dit onregverdig is, maar dit is nie. Jesus is versot op verassings en dis waarom Sy skielike verskyning in die wolke vir ons en vir die wêreld ‘n absolute verassing gaan wees. Vir ons gaan dit ‘n verrassing tot blydskap en ewige verlossing wees, maar vir die wêreld ‘n verassing tot rou, want die oordeel het gekom!

In Lukas 21 gee Jesus vir ons ‘n hele lys van gebeure wat Sy koms vooraf sal gaan: aardbewings, hongersnode, pessiektes en tekens in die hemel; alles wat ons nou sien gebeur. Nou die pessimiste sal sê dat ons hierdie dinge al vir jare sien gebeur, so wat maak dit nou so spesiaal? Wat dit nou anders maak, is die frekwensie waarmee hierdie dinge nou gebeur!

Die aantal meteoriete wat die aarde se atmosfeer binnedring en dan opbrand is net so skrikwekkend baie. Die mense staan verbaas en dink dis mooi… Hulle sien nie die verbintenis nie… Oor die ander tekens gaan ek my nie eers uitlaat nie, want ek is seker dat julle almal weet wat in die wêreld aangaan sonder dat ek enige iets daaroor hoef te sê.

In Lukas 12:56 sê Jesus dat ons baie goed weet hoe om die aarde en die voorkoms van die weer te beoordeel, maar ons sien glad nie raak wat rondom ons besig is om te gebeur nie! Hierdie is deel van satan se taktiek; om die mense so blind te hou vir wat aangaan as wat moontlik is, maar die Bybel sê vir ons dat hy (satan) dit nie met die Kinders van die HERE sal kan regkry nie. Ons sal weet as die tyd naby is en dit is!

Liewe lesers, ek weet nie wanneer Jesus gaan kom nie, maar ek weet dat die tyd naby is; baie naby! Ek weet ook dat daar ander van julle is wat ook weet dat die tyd naby is omdat die Gees dit aan julle openbaar. So twee jaar gelede het ons gesien hoe die HERE die skape van die bokke skei. Nou sien ons hoe die skape van die skape geskei word: die wat die HERE met alles insluitende hulle lewens vertrou teenoor die wat net glo.

Koppel al die dinge aan die Gees wat uitgestort word, die drome wat gedroom word, die openbaringe wat mense kry en daar is net een logiese verklaring: Jesus gaan binnekort kom! Ons weet miskien nie wanneer nie, maar ons weet dat dit naby is en dis al wat nodig is!

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk