Ek let die laaste ruk op net hoe satan van ons steel en wat ons hom alles toelaat om te doen; al die leuens en halwe waarhede.
Ek wil graag hê dat julle wat hierdie lees moet weet hoe naby ons aan die wegraping van die kerk is. Niemand weet presies wanneer dit gaan gebeur nie; ook nie satan nie, maar hy weet ook dat die tyd naby is. Wat satan anders as ons maak is dat satan God se Woord GLO en hy weet dat dit waar gaan word! Ons as mense glo nie altyd nie, want ons soek gedurig na bevestiging voor ons enige iets glo!
Omdat satan weet dat die tyd naby is, weet hy ook dat sy tyd om die Bruid van Jesus te versoek net so min is. Hy haal nou alles uit om so veel as moontlik te verslaan, onder te kry, aan leuens te glo, noem dit maar op. Ek let op net hoe baie gebed versoeke daar is vir Kinders van die HERE in ons Suiderkruis groep deesdae en die redes is almal dieselfde: angs, moegheid, stres, finansies, noem maar op!
Satan het dieselfde ding met my probeer. Hy het die wat die naaste aan my is gebruik om my terneergedruk en negatief te maak en dit het gewerk! Toe gaan sit en wonder ek waarom ek satan toelaat om al hierdie dinge aan my te doen. Is ek dan nie ‘n Kind van die Koning van die Heelal nie en by definisie ‘n prins nie? Het Jesus nie gesê dat ons wat glo Hom enige iets kan vra en Hy SAL dit gee nie? (Johannes 16:23) As dit dan so is, waarom laat ons toe dat satan ons so in die modder rol en daarmee weg kom?
Jesus is net ‘n gebed ver en daarom hoef ons net te vra en daar SAL gegee word! Ons het ook toegang tot al die mag in die Hemel deur die Naam van Jesus, so gebruik daardie mag! Moenie dat satan dit ook van jou wegneem nie! Bestraf satan deur die Naam van Jesus. Sê vir hom dat die HERE hom bestraf! Vat dat terug wat joune is, want dis aan jou gegee! Prys die Naam van die HERE!
Onthou, jy het die mag en die outoriteit! Moenie dat satan oor jou loop nie! Vat wat joune is terug deur die Naam van Jesus en kyk net wat gaan gebeur! Ek het die volgende dag opgestaan as ‘n nuwe mens met ‘n lied in my hart! Prys Sy Naam! Satan sal dit nie waag om naby my te kom nie!
Dis hoe jy met hom werk, liewe leser! Moenie opgeskeep sit met die kern afval wat hy in jou lewe stort nie. Werp dit van jou weg voor dit jou geluk affekteer. Jy is ‘n Kind van die Koning van die Heelal en daardeur ‘n prins of ‘n prinses. Jy het nie nodig om met satan se nonsens opgeskeep te sit of selfs toe te laat dat ‘n houvas in jou lewe kry nie.
Vat daarom terug wat joune is en hou op om vir satan so baie mag in jou lewe te gee. Jesus sal in alles wat jy nodig het voorsien wanneer jy dit nodig het. Dit beteken nie dat jy oorvloed gaan hê nie, maar jy gaan genoeg hê om van te lewe.
Wees ook tevrede met wat jy het. Jy mag miskien nie daardie droom werk hê of daardie duur kar of mooi huis nie, maar jy het iets wat ander nie het nie. Jy het vir Jesus! Jy is ‘n Kind van die Koning van die Heelal en een van hierdie dae gaan die Koning jou kom haal om vir altyd by Hom te wees! Daardie dag gaan baie op hierdie aarde wens dat hulle jy is! Wie is nou die een wat niks het nie?
Die geheim is om te bid. Hoe meer, hoe beter! Vra vir Jesus wat jy wil hê, maar moenie teleurgesteld wees as jy dit nie dadelik kry nie. Sekere dinge vat tyd om te volbring. Terwyl jy wag, bestraf satan en glo dat Jesus gaan voorsien! Gee Hom tyd om Sy ding te kan doen en kyk wat gaan gebeur!
Mag die HERE hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!
Prys die Naam van die HERE!