Wie van julle het al gewonder waarom daar mense is wat glo in die wegraping terwyl daar ander is wat nie daarin glo nie.
Die doel van hierdie boodskap is nie om enige iemand te oortuig watter siening reg is nie, maar eerder om lig te werp op beide sienings.
Titus 2:13 noem die wegraping ons “Salige Hoop”, want ons wat glo in die wegraping se hoop is om die Verdrukking te kan mis. Ek hoef nie vir julle te sê dat die Verdrukking die mees verskriklikste tyd gaan wees wat hierdie wêreld nog ooit beleef het nie, want ons almal weet dit. Openbaring sê vir ons dat net ‘n derde van die aarde se bevolking die einde van die Verdrukking gaan sien en dat as die Verdrukking nie verkort was nie, dan sou niemand dit gemaak het nie! Dit behoort klaar vir ons ‘n aanduiding te wees dat die komende Verdrukking geen grap gaan wees nie.
Ons weet ook dat die Verdrukking God se Toorn is wat oor hierdie wêreld uitgestort gaan word omdat die wêreld weier om Hom as God en Skepper van alles te erken. Daarmee saam sê Romeine 5:9, Romeine 8:1 en 1 Tessalonisense 5:9 vir ons dat ons as Kinders van die HERE geregverdig is deur Sy Bloed en daarom nie bestem is tot God se toorn nie, maar dan moet ons glo in die wegraping en die Seun van die Mens uit die Hemele verwag. (1 Tessalonisense 1:10)
Met dit ingedagte, hoe is dit moontlik dat daar so ‘n verdeeldheid in die Liggaam van Christus kan wees? Beide die wat glo en die wat nie glo nie is tog gered en Kinders van God? Dis die vraag wat ek vir Jesus gestel het. Die antwoord het my verbaas!
Ons almal word deur God aangestel in die posisies wat ons nou is. Daar is vooraf bepaal wanneer elkeen van ons gebore sou word en waar ons sou woon en werk. Almal van ons het ‘n roeping wat ons vir Jesus uitleef. Sommige is leraars, ander bidders, sommige se werk is om mense na Jesus toe te lei met ‘n woord, ‘n prentjie of om ‘n voorbeeld te stel. Almal van ons het ‘n doel op hierdie aarde.
Die sleutel tot alles, ongeag van jou roeping, is dat die Woord van God verkondig moet word; ongeag wat gebeur. Dis waarom daar Kinders van God is wat glo in die wegraping en die wat nie daarin glo nie. Almal kan nie in die wegraping geneem word nie, want hoe anders gaan die Woord van God verkondig word onder die wat gaan agterbly?
Dit gaan hulle roeping wees en dis ‘n baie edele roeping om sodanig gekies te kan word. Enigeen van ons kan vra om agter te bly en ek is seker dat Jesus jou wens sal toestaan as jy so voel, maar dis iets wat net jyself oor kan besluit.
Daarom, liewe lesers, moenie te hard wees op hulle wat nie glo nie. Hulle sal wel glo as hulle, hulle roepings begin uitleef. Dis nie vir ons om te oordeel nie, want ons sien op hierdie oomblik nie die groter prentjie nie. Moet daarom nie oordeel nie.
Wat my betref; ek hou vas aan daardie “Salige Hoop” soos beskryf in Titus 2:13! Ek leef vir die oomblik wat Jesus gaan kom en ek vir altyd saam met Hom kan wees. Dis my hoop daardie, maar die Wil van God sal geskied.
Mag die HERE hierdie boodskap in almal se harte seën!