Ons tyd is min

Ek hoop van harte dat almal wat hierdie boodskap lees sal weet hoe min tyd ons oor het en dat hulle sal gereed sal wees!

‘n Wêreld Oorlog is aan die kom en dit gaan binnekort gebeur. Hierdie oorlog gaan die mees vernietigende oorlog ooit wees; baie erger as enige iets wat ons al ooit voorheen gesien het. Die bevestiging kom uit die boek van Jesaja.

“Al julle bewoners van die wêreld en bewoners van die aarde, as ‘n banier opgehef word op die berge, kyk! En as die basuin geblaas word, luister!” (Jesaja 18:3)

In die tyd van Jesaja is baniere opgehef voor ‘n oorlog om aan te dui aan watter volk watter grond gebied behoort en ‘n basuin is geblaas net voor die oorlog begin het. Daar is egter geen rede om bekommerd te wees nie, want ons vertroue is in die HERE en daarom weet ons dat niks met ons sal gebeur sonder die Wil van die Vader nie. Ons sal van hierdie aarde verwyder word die oomblik as dit te gevaarlik word vir ons om langer hier te bly, maar ons moet gereed wees vir daardie dag.

In Hebreërs 12:1 sê Paulus “…laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê. Ons moet Heiligmaking nastreef, want God is Heilig! Omdat ons respek vir daardie heiligheid het, moet ons probeer om heiligmaking na te streef soos Paulus in 2 Korintiërs 7:1 skryf “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring”

Ons sal sekerlik nooit perfek wees nie, maar ons kan probeer. Ons kan satan weerstaan, want Jesus het ons toegerus om dit te kan doen en as ons satan weerstaan, sal hy van ons wegvlug net soos daar in die Woord geskryf is.

Ons tyd is inderdaad min. Ek weet nie hoeveel tyd ons het of wanneer die basuin gaan blaas vir die wegraping nie. Niemand weet dit nie, maar daar word baie duidelik gesê dat ons sal weet as die tyd naby is en dit is. Lê daarom die sonde af en streef heiligmaking na, want ons weet nie wanneer die tyd gaan kom vir ons om te gaan nie.

Jesus het gesê dat as die huis eienaar geweet het in watter uur die dief sou kom, dan sou hy gereed gemaak het daarvoor. Ons weet nie daardie uur nie, maar ons kan gereed maak en dis wat ek van elkeen van julle vra.

Mag Jesus elkeen van julle versterk sodat julle ook aan die einde soos Paulus in 2 Timoteus 4:7 kan sê “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.”

Mag Jesus elkeen van julle seën en bewaar.

(Visited 277 times, 1 visits today)
Tagged , , , .