Wie in die wegraping geneem gaan word

Liewe lesers, hierdie is ‘n langer as normale boodskap, maar ‘n baie ernstige een. Lees asseblief alles, want jou ewigheid hang daarvan af.

Vandat ek met Suiderkruis begin het, het ek net een doel gehad en dit was om vir mense te wys wat ‘n wonderlike God ons dien, dat Hy waardig is om geprys te word, dat Hy jou vriend wil wees, jou vertroueling, jou sterk toring waarin jy kan kom wegkruip en laastens om so veel as moontlik van julle gereed te kry vir die wegraping. Ek het probeer om julle geestelik volwasse te kry sodat julle gereed gaan wees as Jesus kom. Ek weet dat ek ongelukkig nie met almal gaan slaag nie, maar nou eers gaan Jesus verder met julle gesels.

“My kinders, ek wil julle meer inligting gee oor wie Ek eerste saam met My gaan neem en wie op die aarde gaan agterbly om eers volwassenheid in die Gees te bereik voor My tweede koms. Die dag van die wegraping kom nou vinnig nader en nie almal verstaan die skeiding wat gemaak gaan word op daardie dag nie.

In My Woord word daar gepraat oor die eerste drie van die sewe feeste van Israel. Hierdie drie feeste het ‘n direkte vergelyking op die drie geroepe mense op aarde. Hierdie feeste is die Gars fees wat om en by die tyd van die Pasga is, die Pinkster fees wanneer die koring geoes word en die Fees van die Tabernakel wanneer die druiwe geoes word. Ek gaan nou vir jou wys hoe hierdie drie feeste, die drie groepe mense en hulle volwassenheid in die Gees met mekaar verband hou.

Die Mense van die Gars Fees is My oorwinnaars en dis hulle wat Ek eerste gaan neem omdat hulle nou al die volwassenheid in die Gees bereik het en gereed is om geoes te word. Die Gars Fees was gehou om die eerste oes van die nuwe jaar te vier. Die hoof liggaam van die Kerk gaan nie hierdie volwassenheid in die Gees bereik voor eers baie later nie.

Die wind van die Heilige Gees blaas oor die lewens van My oorwinnaars en sonde in hulle lewe word dadelik uitgewys en hulle vra dadelik vergifnis daarvoor. Sonde in hulle lewens is soos kaf wat deur die wind weggewaai word, want dit het geen houvas aan hulle nie.

Hierdie groep mense is ook uiters sensitief vir My Gees. Hulle het geleer om die stem van hulle Herder te herken. My oorwinnaars word ook daarom op ‘n hoër vlak van verantwoordelikheid gehou. Hulle is goed gedissiplineerd en hulle het lank reeds hulle lewens in My hande oorgegee. Hulle stel My, hulle Eerste Liefde, eerste in alles wat hulle doen.

Hulle het ook geleer om nie dadelik te reageer op dit wat om hulle gebeur nie, maar om eerder terug te tree en dan My Heilige Gees te vra hoe om in liefde op te tree. Hulle laat My Gees toe om vir hulle te wys wat die beste manier is om in liefde op te tree en so nie enige iemand te na te kom nie. Daar is groot volwassenheid in optrede soos dit, veral as dit iemand is wat jou in die verlede seer gemaak het.

My oorwinnaars is baie bewus van hulle gedagtes en hulle woorde. Hulle streef daarna om My en dit wat Ek is te reflekteer in hulle antwoorde. Dit is anders as die wat haatlik optree, nydig is en in afguns lewe. Skinder woorde en ligsinnigheid gaan nooit oor hulle lippe nie. My oorwinnaars het hulle letterlik uit hierdie wêreld uitgehaal en nou is hulle apart van die wêreld.

My oorwinnaars het gebroke lewens en baie van hulle word verraai, uitgeskel en valslik beskuldig. Hulle was geroep tot ‘n lewe van swaarkry saam met My sodat hulle die Kroon van die Ewige Lewe kon ontvang. Hulle spandeer nie hulle lewens in gemak nie. Hulle verstaan dat hierdie lewe net tydelik is en daarom ontneem hulle hulleself die gemak van hierdie lewe om hulle liefde aan My te bewys.

My oorwinnaars word nie hoog aangeslaan op hierdie aarde nie. Hulle het nie gekom om baie vriende te maak nie en hulle word dikwels nie deur die wêreld aanvaar nie. My oorwinnaars het gekom om siele te red deur die voorbeeld wat hulle stel. Hulle lewenspad is een van isolasie en hulle leef dikwels as uitgeworpenes en alleenlopers.

Die wêreld het hulle nie lief nie, want hulle is nie van hierdie wêreld nie. Hulle word ook baie keer verkeerd verstaan omdat hierdie wêreld nie hulle tuiste is nie. My oorwinnaars beskou hulleself nie as regverdig nie, want hulle ken die boosheid van hulle eie harte.

My oorwinnaars sondig nie so gereeld nie omdat hulle nou saam met My Gees wandel en gereeld vergifnis vra vir elke oortreding wat hulle mag begaan. Hulle neem hulle gedagtes gevange en hulle bestraf satan omdat hulle onderskeiding verfyn is. Hulle stap hulle lewenspad in gehoorsaamheid aan My en in groot dissipline.

Hulle is ook versigtig waarna hulle kyk, waarna hulle luister en wat hulle lees sodat hulle nie iets kyk, luister of lees wat vir My afskuwelik is nie. Hulle is nie skaam om op te staan vir die waarheid nie ongeag die persoonlike koste. Hulle soek niks van hierdie wêreld nie omdat hulle wandel in My beloftes en hulle weet dat hulle hier is om ‘n doel te dien.

My oorwinnaars is die wyse en verstandige diensmeisies wat die ekstra olie gebring het sodat hulle gereed kan wees om vlekkeloos voor My te kon staan. My oorwinnaars is die juwele in My kroon en hulle gaan My priesters en My konings wees wat saam met My gaan regeer in die Duisend Jaar Vrederyk. Hulle gaan gered word van die uur van beproewing wat binnekort oor hierdie aarde gaan kom.

Die Mense van die Pasga is die tweede groep. Om en by die tyd van die Pasga was die tyd wat die koring in Israel geoes was. Dit was ook die tweede oes van die nuwe jaar. Hierdie groep mense stel die liggaam van die Kerk voor en ook die mense wat nie heeltemal gereed gaan wees as Ek kom nie. Hulle olie lampies gaan nie heeltemal vol wees as ek gaan kom vir My oorwinnaars nie, maar hulle gaan nog steeds gered wees van die ewige duisternis.

Hierdie groep mense ken My en hulle noem My hulle verlosser, maar hulle moet nog ‘n keer gedors word en die kaf met vuur verbrand word om gereed te wees. Hierdie groep gaan agterbly sodat hulle waardigheid getoets kan word net soos koringhalms eers gedors moet word om die koring van die kaf te skei. Hierdie proses gaan ‘n groot suiwering tot gevolg hê sodat hierdie groep gereed kan wees as Ek die tweede keer kom.

Hierdie groep bestaan uit mense uit wat My ken en My weë ken, maar hulle het hulleself nog nooit ten volle aan My Wil oorgegee nie. Ek het al my Kinders baie lief, maar hierdie groep glo nie daarin om saam met My in gehoorsaamheid te stap nie en dis waarom hulle nie gereed gaan wees om My te ontmoet as Ek gaan kom vir My oorwinnaars nie.

Hierdie groep gaan meer heiligmaking nodig hê om gereed te wees vir My tweede koms. Hulle is die dwase diensmeisies waarvan daar gepraat word in My Woord. Hulle glo in My en hulle doen goeie dinge, maar omdat hulle louwarm is, is hulle nie geestelik voorberei op My eerste koms nie. Dis waarom hulle agtergelaat gaan word net soos die dwase diensmeisies soos daar in My Woord van beskryf word.

Hierdie groep het die geloof, maar hulle het nie die self dissipline of die oortuiging wat My oorwinnaars het nie. Hulle het hulleself ook nie ten volle oorgegee aan die leiding van My Gees of My Wil vir hulle in hulle lewens nie. Meer geestelike voorbereiding gaan nodig wees om hierdie groep gereed te kry vir My Tweede koms. Die oordele wat Ek op die aarde gaan uitstort in hierdie aarde gedurende die verdrukking gaan hulle reinig van alles wat nie van My is nie. Hierdie groep gaan hewig lei onder die stelsel van die dier en hulle gaan hulle lewens spandeer deur of die hele tyd te vlug of hulle gaan gemartel word ter wille van My Naam.

As die Heilige Gees nie in jou is nie, jy nie gedoop is deur vuur nie, wedergebore is nie en in onderdanigheid aan My lewe nie, dan het jy nog nie geleer om te hou waarvan Ek hou en te haat wat Ek haat nie. Dit wys op ‘n gebrek aan onderskeiding tussen goed en kwaad. As jy my lief het met jou hele hart, hele verstand en al jou krag, dan sal jy My gebooie bewaar en doen wat Ek beveel en nie die pad van die wêreld meer stap nie.

Jou oë is die vensters na jou siel en My oorwinnaars sal nie toelaat dat hulle enigiets sien of hoor wat onrein is nie. Om te kyk of te luister na enige iets wat te doen het met hoerery, vleeslike begeertes, homoseksualiteit, moord, afgodery en godslastering is afstootlik vir My. Dis waarom die tweede groep nie gereed gaan wees as Ek kom nie.

Sien julle ou waarom daar ‘n skeiding moet wees tussen die groepe? Omdat Ek kom vir ‘n bruid wat skoon en vlekkeloos is. ‘n Bruid wat sonder gebrek is en een wat haar klere gereeld in die bloed van die Lam was. Een wat haar gereed gemaak het en wat ernstig is met My. Bid gereeld oor hierdie woorde, want die gevolg om dit te ignoreer is baie ernstig.

Die mense van die Fees van die Tabernakel is die oes van die duiwe. Die oes van die druiwe en die maak van wyn in Israel het gepaard gegaan met die Fees van die Tabernakel. Hierdie mense is die wat plat getrap moet word net soos druiwe plat getrap moet word om wyn daarvan te maak.

Hierdie groep gaan die ergste van die oordele ontvang. Hulle is die ongelowiges, die hoereerders, die seksueel immorele, die moordenaars, die towenaars en die leuenaars. Hulle gaan hulle deel in die tweede dood hê; die vuur wat vir ewig brand.

Geseënd is My eerste groep; julle wat My oorwinnaars is. Ek het julle lief meer as wat julle ooit sal besef. Julle het My Koning oor julle lewens gemaak en julle bewaar My gebooie op die tafels van julle harte!

As die woorde wat Ek hier praat jou ontstel, maak dan nou met My reg en soek My en My wil vir jou in jou lewe. Roep My aan en Ek sal jou hoor. Ek sal nooit My rug draai op enige een wat My aanroep nie. Dis nie My wens dat jy verlore moet gaan nie, want Ek het al My kinders ewe lief; selfs die wat nie in My glo nie. Ek gee alles wat Ek het vir die wat hulle lewens in My Hande sit. Dis nog nie te laat nie, maar in ‘n oomblik gaan dit wees.

Kyk, Ek kom gou! Aan watter kant van die deur gaan jy jou bevind as daardie dag jou skielik oorval? Gaan jy ook smeek om ingelaat te word of gaan jy klaar binne wees om saam met My fees te hou? Leer uit My Woord uit: dis daar vir jou om te studeer. Ek gee wysheid aan almal wat dit kortkom sonder verwyt.

Die oordele het reeds begin en dit gaan net erger word. Middernagtelike uur is besig om vinnig nader te kom. Ek smeek jou om My eerste te plaas in jou lewe as jy dit nog nie gedoen het nie. Ek het julle almal baie lief.”

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 1 179 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .