Word jy mislei?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Iemand het hierdie week vir my ‘n video op my selfoon gestuur wat absoluut verstommend was om te sien…

Hierdie video het maar net bevestig wat ek al op geleentheid oor geskryf het en dit was dat mense nie hulle Bybels meer lees nie… Die video gaan oor ‘n man wat by sekere groot Christen Groepe op Facebook aangesluit het om die Christelike video’s wat hy maak, aan die mense bekend te stel. Die eerste ding wat hom opgeval het nadat hy aangesluit het, is die groot aantal boodskappe wat gepos word met woorde soos:  “Is jy gereed vir ‘n wonderwerk in jou lewe vandag? Tik JA as jy is!” of “Jesus het jou lief! Tik AMEN as jy saamstem.” Sommige van die boodskappe het selfs aangevoer dat as jy AMEN tik op enige van hierdie boodskappe, dan sal die HERE jou met jou hart se begeertes seën! Maar as jy dit nie sou doen nie, jy dan met satan saam stem!

Ek wil ook byvoeg dat hierdie is ‘n Facebook groep is van oor die honderd duisend intekenare is en daarom het die man besluit om te kyk hoe ernstig hierdie volgelinge is oor hulle geloof. Hy het besluit om iets kontroversieel te doen en om te kyk wat gaan gebeur…

Hy pos toe die volgende boodskap op die groep: Lukas 4:7. Tik AMEN as jy saamstem. Die reaksie was iets wat hy nie verwag het of gesien kom het nie!

Binne een minuut nadat hy die boodskap gepos het, het vyf mense daarop gereageer met die woord “amen”! ‘n Uur later was daar oor ‘n honderd “amens”! ‘n Dag later was daar oor die een-duisend-twee-honderd-en-veertig mense wat op die boodskap gereageer het.

Enige iemand sal dink dat ‘n boodskap soos dit geweldige krag dra, maar vir die van julle wat slim was en intussen die teks vers gaan opsoek het, sal weet waaroor dit gaan!

Lukas 4:7 sê “As U my dan aanbid, sal alles aan U behoort.” Satan het dit aan Jesus gesê toe hy hom versoek het in die veertig dae na Sy doop! Om dus te Amen hierop, beteken dat jy letterlik met satan saamstem!

Nou vir die tweede verstommende gedeelte. Uit daardie een-duisend-twee-honderd-en-veertig mense wat op die boodskap gereageer het, het net twintig mense vir hom gesê dat hy verkeerd is! Dit werk uit op 3.5% van die wat op die boodskap gereageer het. Dit beteken verder dat 96.5% van die wat gereageer het, saamstem met iets wat reguit uit satan se mond kom en dit uit suiwer onkunde uit!

Dit bring my by die kern van die probleem met Christenskap vandag: mense lees nie meer die Woord van God nie!

Een van die “amen” kommentare was gemaak deur ‘n persoon wat homself “pastoor” noem. Toe die man vir hom vra of hy die leraar van ‘n gemeente is, toe antwoord hy “ja” en toe daar gevra word of hy weet wie dit is wat in Lukas 4:7 praat, toe antwoord die man: “Jesus Christus”!

Ek bedoel hierdie sonder om snaaks te wees, maar hoe kan jy die leier van ‘n gemeente wees as jy nie eers die Woord van die HERE ken nie of nie eers die moeite doen om dit te gaan naslaan nie? Hoe kan dit wees dat jy totaal onkundig is oor die Evangelie van Jesus asook die hele doel van Jesus se tyd op Aarde?

Van die ander kommentare is nog meer skokkend!

 Amen, dankie Jesus! Dankie Jesus vir alles wat U vir my en my familie doen. Al my begeertes sal deur my besittings vervul word!

Wat!? Begeertes en besittings? Wat op aarde dink mense is Christenskap? Het Jesus op die kruis gesterf sodat ons ryk kan wees in aardse besittings en ‘n gemaklike lewe kan hê? NEE! Jesus het gesterf sodat ons die Ewige Lewe kan beërwe! As jy dus dink dat Christenskap ‘n manier vir jou is om materieel vergoed te word, dan is jy in vir ‘n baie groot verrassing! Dis wat hulle “voorspoed christenskap” noem en dis ‘n valse leer so uit die mond van satan regdeur Lukas 4:7!

Liewe leser, LEES JOU BYBEL! Leer waaroor dit gaan. Weet dat daar vals leer daarbuite is en dat 96.5% van alle mense daarvoor val.

In 2 Timoteus 4:3-4 staan: “want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

Dis wat nou besig is om te gebeur! Ons doen nie meer die moeite om self die Bybel te lees nie, maar ons wend ons eerder na Christelike groepe op Facebook en ander Bybel webruimtes om vir ons te sê wat in die Bybel staan! As ons iets hoor en dit klik goed, dan hardloop ons daarmee. Maak nie saak of dit die waarheid is of nie!

In 2 Timoteus 3:16-17 staan: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

Die Bybel is belangrik; dis belangrik dat ons dit lees en weet wat daarin staan, want ons redding hang daarvan af!

In Johannes 3:16 staan: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Nêrens word daar genoem dat jy ‘n gelukkige lewe gaan hê of dat jy baie ryk aan aardse besittings gaan wees as jy Jesus volg nie. Moet dus nie mislei word nie!

Prys die HERE vir hierdie boodskap!

image_pdfLaai afimage_printDruk
Tagged , , , , , .