Doen goed aan mekaar

As mense hou ons daarvan om te dink dat ons probleme altyd die grootste en die moeilikste is, maar gesels met ander mense en jy kom agter dat dit wat jy gedink het so ‘n groot probleem is, eintlik niks is nie!

Galasiërs 6 sê dit so goed dat daar vir my bitter min is om daaroor uit te brei! Dis soos hulle in Engels sê, ‘n “show stopper”! Kom ons kyk: Galasiërs 6:1-10 [1] Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie. [2] Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. [3] Want as iemand meen dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, mislei hy homself. [4] Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie. [5] Want elkeen sal sy eie pak dra. [6] Maar laat hom wat in die Woord onderwys ontvang, meedeel van alle goeie dinge aan hom wat onderwys gee. [7] Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. [8] Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai. [9] En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie. [10] Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof.”

Ons wat met die Gees van God toegerus is, moet maar se laste met sagmoedigheid en die liefde wat daar in Christus is, help dra. Die Bybel is hier baie spesifiek, want daar staan geskrywe ons moet help dra, nie oorvat nie! Waarom moet ons nie oorvat nie? Want vers vyf sê vir ons dat elkeen sy eie pak sal dra! Jy wat hulp ontvang kan dus nie jou pak op iemand anders afskuif nie! Dis joune en jy gaan daardie pak self moet dra, ongeag of jy wil of daarvoor kans sien!

Ongelukkig kry jy mos ook die kansvatters in die lewe en nou praat ek spesifiek met Christene! Baie van ons is roekeloos in ons optrede en as die slegte dinge dan gebeur, dan wonder ons waarom die Here dit toelaat. Kyk bietjie na vers sewe! God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Met ander woorde, as jy soek vir moeilikheid en dit kry dit, moet dan nie verbaas wees nie!

Saam met dit moet ons ook vers agt lees: Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai… Dis waarom as iets sleg met my gebeur, dan begin ek heel eerste met self ondersoek. Ek vra vir Jesus waar ek oortree het en in die meeste van gevalle, dan wys Jesus vir my waar ek verkeerd gegaan het en as ek dit dan reg maak, dan verbeter al die ander slegte dinge saam met dit. Hiervan kan ek getuig, want ek was al op meer as net een geleentheid in sulke omstandighede.

Dis ook nie altyd iets wat jy verkeerd gedoen het nie, want soms gebruik Jesus ons en laat Hy toe dat slegte dinge met ons gebeur sodat ons tot ‘n getuienis van ander kan dien. Dit het al met my ook gebeur! Van my kragtigste getuienisse het ek so gekry en vandag help ek baie wat gebroke en moedeloos is met hierdie getuienisse! Ek kan julle verseker dat toe dit gebeur het, kon ek dit ook nie verstaan nie en was ek baie kwaad vir Jesus omdat Hy toe gelaat het dat dit gebeur het. Ek het ook vir Hom gesê dat ek baie kwaad was vir Hom! Maar vandag sien ek die groter plan en vandag is my hart vol lofprysinge vir die HERE daaroor! Prys Sy Ewige Naam!

Om af te sluit: Help mekaar en bid vir mekaar. Help mekaar se laste dra, met die klem op help. Dis die regte ding om te doen, maar moet nie mislei word nie. Pasop vir smart vrate, want hulle sal jou mislei as jy dit toelaat! Maar ten alle tye staat op die leiding van die Gees. U moet as te ware uself nooit in ‘n posisie bevind waar die Gees van God nie is nie.

AMEN!

(Visited 626 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .