Bedien die Woord van die HERE met vrymoedigheid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Wie van julle het al moed verloor en gewonder of dit waarmee julle besig is die moeite werd is om mee voort te gaan?

Ek het die laaste ruk so moed verloor en ek het baie gewonder of ek nog op die regte pad is wat Suiderkruis betref. Ek het en ek het na Jesus gegaan en Hom gevra wat ek moet doen soos wat ek met alle groot besluite doen. Sy antwoord het my verbaas, maar dit was net so wonderlik om te weet dat my Heer en Meester agter my staan en dat Hy gereed is om my te vang as ek sou gly en val. Prys Sy Wonderlike Naam!

Jesus het vir my die boek van Handelinge laat lees. Spesifiek die gedeeltes wat gegaan het oor die sendeling reise van Paulus voor hy gevange geneem is. Het julle geweet dat Paulus op verskeie kere mishandel is oor die Woord van die HERE wat hy gebring het. Hy is met die vuis in die mond geslaan, Hy is met stokke geslaan, hy is selfs op geleentheid gestenig, maar dit het hom nie gedood nie! In verskeie dorpe was daar ‘n losprys op sy kop, maar ten spyte van al hierdie dinge het Paulus voortgegaan en met vrymoedigheid die Woord van die HERE onder die mense verkondig. Die klem van elke vers wat die HERE my gegee het, was die woord vrymoedigheid. Is dit nie wonderlik nie?

Ek het skielik besef dat ons tog so maklik kla as iets nie gaan soos ons dit wil hê nie, maar ons vergeet van al die dinge wat die dissipels van die HERE deurgegaan het om te sorg dat ons vandag ‘n Bybel in ons hande kan hê. Ons sien ook selfde tot nooit die dinge wat die HERE vir ons in die agtergrond doen raak nie.

Ek weet dat baie van julle wonder of julle nog standvastig in die geloof is, daarom is ek hier om jou moed in te praat: Jesus is met jou en Hy staan gereed om jou op te tel en te dra as jy nie meer verder kan nie.

Iemand wat ek ken het die week die volgende boodskap op Facebook gepos: “Ek het die handdoek ingegooi, maar Jesus het die handdoek teruggegooi en gesê: Vee af jou gesig; jy is amper klaar!” Prys die HERE! Ek dink nie hierdie persoon het geweet wat se impak hierdie boodskap op die mense gaan wees nie.

Ons tyd op hierdie aarde is amper om en binnekort gaan daardie basuin blaas wat gaan aankondig dat ons stryd verby is en dat dit tyd is om huis toe te gaan. Ek kan nie meer wag nie, maar tot daardie dag kom, moet ons aanhou werk vir die HERE. Dit maak nie saak wat die mense sê of dink nie. Die opdrag van die HERE is om aan te gaan en die Woord van die HERE met vrymoedigheid te bedien!

Laat ons dus nou ons gesigte afvee en ons take met blydskap in die HERE volbring. Die tyd is amper om!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 322 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .