Die Stokkies Jesus

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Een van my vriendinne op Facebook het die volgende storie op haar profiel gepos. Ongelukkig weet ek nie wie die skrywer/ster was nie, maar mag die HERE hierdie persoon seën vir die oog oopmaak les hieruit gekom het.

Die storie gaan oor ‘n ouma wie se kinders oor Kersfees vir haar kom kuier het vanuit Australië. Saam met die kinders, sou haar twee klein kinders ook kom. Uiteraard wou sy die Kersfees so mooi maak as wat sy kon, veral vir die klein kinders, want soos ons almal weet, gaan dit tog oor meer as net die gee van geskenke.

Maar soos dit altyd gaan, is daar hopeloos te veel dinge om te doen en baie gou het die tyd vir ouma ingehaal. Sy is inderhaas Oukersaand aand winkel toe om vir oulaas daardie iets spesiaal te gaan soek om die Kersfees vir die klein kinders meer spesiaal te maak.

Die winkels was soos verwag kan word chaos met baie mense wat rond gehardloop het om daardie laaste geskenke en eetgoed te koop. Sy het van winkel tot winkel gegaan en so op ‘n miniatuur kers toneel afgekom met Josef en Maria, die skaap wagters en ‘n baba Jesus in Sy krippie. Menigte mense het so ‘n toneel onder hulle kersboom en sy was so bly dat sy ook nou uiteindelik een gekry het.

By die huis het twee paar handjies gretig gehelp om die verpakking oop te maak en die stukkies van die toneel aan mekaar te sit, maar iets was verkeerd… baba Jesus was weg! Wat nou gemaak? Dit was laat en die winkels was al reeds toe. Om die model te gaan omruil was buite die kwessie. Maar ouma kan mos ‘n plan maak en baie gou was daar ‘n plaasvervanger baba Jesus gemaak uit vuurhoutjie stokkies en lappies in die krippie!

Laat die aand is almal bed toe, maar ouma het nog nie gaan slaap nie. Sy het gewonder oor die verlore beeldjie, want die stokkies Jesus het net nie reg gevoel vir haar nie. Sy gaan toe kombuis toe en begin om die vullissakke een vir een op die vloer uit te gooi. Sy soek tussen die oorskietkos en geskenkpapier deur. Sy gril, want om in vuilis rond te krap is geen aangename taak nie. Tussen die stukkie verpakkings materiaal waarin die model van die stal verpak was vind sy toe ‘n stukkie wat nie reg lyk nie. Sy haal die verpakkingsmateriaal versigtig af en wonder bo wonder; dis die regte Jesus! Gretige handjies moes die stukkie misgekyk het! Sy plaas die regte Jesus in die krippe en met trane in haar oë sak sy af op haar knieë om te bid.

“Here Jesus, ek weet vanaand dis ook tyd dat ek my lewens sak vol vuilgoed oopkrap en voor U voete kom neergooi en aanhou soek en soek totdat ek die regte Jesus kry! Help my om asseblief om die stokkies Jesus van my lewe te verruil vir die regte egte Jesus! Help my dat ek nie hierdie feestyd sonder U gaan nie… die regte Jesus! Dankie dat U vanaand my oë oopgemaak het om dit raak te sien. Amen.”

Mag hierdie gebed vir jou ook waar wees en mag jy plek maak vir die regte Jesus in jou lewe en mag jy Hom saam neem in die nuwe jaar in. Die ware Jesus wat uit die dood opgestaan het om die wêreld te kom red! Prys Sy Wonderlike Naam!

Ek spreek graag ’n seën uit oor jou en jou geliefdes: Mag die liefde van ons Almagtige God en die genade van Jesus ons Verlosser oor jou reën en mag die Heilige Gees jou hand neem orals waar jy gaan. Gaan die dag in met Jesus as jou Leidsman in die paar dae wat nog oorbly. Jou vriend in Jesus. Amen!

(Visited 306 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .