Betekenis van die Hemelvaart

Jesus se Hemelvaart word vir ons beskryf in Handelinge 1 en die verhaal word vertel deur ‘n ene  Theófilus; die naam beteken “Liefhebber van God”.

Buiten die Hemelvaart, gaan Handelinge uitsluitlik oor die stigting van die Kerk op aarde. God maak ook Sy groot oogmerk op aarde aan die dissipels bekend en dit is dat die Kerk nie gestig gaan word deur geweld of selfs die skerpte van die swaard nie, maar deur die Krag van die Heilige Gees en ons sal Sy getuies sal wees tot daardie feit! Prys Sy Naam!

Hierdeur vervul God Sy woorde aan Serubbábel soos opgeteken in Sagaria 4:6: “Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.”

In Mattheus 24 vra Jesus se dissipels vir Hom wanneer die einde gaan kom en Jesus noem vir hulle verskillende dinge op soos die aardbewings, oorloë en pessiektes, maar Hy antwoord daardeur glad nie die dissipels se vraag oor wanneer die einde gaan kom nie. Wie van julle het dit al opgelet? Eers in Mattheus 24:14 antwoord Jesus eers daardie vraag en die antwoord is dat die Evangelie eers in al die uithoeke van die aarde verkondig moet word, met ander woorde, almal op hierdie wêreld moet eers ‘n kans kry om die Evangelie te hoor en ‘n keuse te maak of hulle gehoor wil gee of nie. Dan en slegs dan sal die einde kom.

Daarna is Jesus in die Hemel opgeneem terwyl Sy dissipels dit sien en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem. (Handelinge 1:9) Met hierdie gebaar het Jesus Sy plek in die Hemel ingeneem aan die regterkant van God die Vader van waar Hy begin het om op te tree as bemiddelaar tussen ons en God die Vader. (Hebreërs 9:24)

Hierdie kerk wat Jesus op aarde gestig het sal bly voortbestaan tot Sy terugkeer na die aarde aan die einde van die verdrukking en satan en sy magte sal dit nie kan oorweldig nie, ten spyte van hulle beste pogings. (Johannes 1:5) Daar word ook vir ons gesê dat Jesus net so sal terugkeer aarde toe soos ons Hom gesien gaan het. (Handelinge 1:11) En dis die dag waarna ons uitsien! Die dag wat Jesus terug gaan keer na die aarde om sy eiendom op te eis en as Koning oor hierdie wêreld te regeer gedurende die Duisend Jaar Vrederyk.

Maar eer moet daar ‘n wegraping van die Kerk wees en ‘n verdrukking omdat daar diegene is wat nie enige keuse kan maak sonder dat hulle die gevolge nie fisies met hulle eie oë sien nie. Daardie dag van die wegraping is baie naby. Ons almal kan dit aanvoel en ons wag in afwagting vir die dag wanneer ons vir altyd saam met Jesus sal kan wees! Prys Sy Wonderlike Naam!

Maar ons moet geduldig wees, want God se tyd is nie ons tyd nie. Die verkondiging van die Evangelie en die redding van siele is wat belangrik is en nie ons menslike wil nie.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

 

(Visited 1 020 times, 1 visits today)
Tagged , , .