Die Ryk Jong Man

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons almal ken die verhaal van die ryk jong man, maar daar is ‘n ander betekenis weggesteek wat ons nie altyd sien nie.

Ons lees van die ryk jong man in Markus 10:17-31 van hoe hy na Jesus toe uitgehardloop het en gevra het wat hy moet doen om gered te kan word. Jesus het begin om vir hom die tien gebooie op te noem, maar hy het geantwoord dat hy hierdie dinge van sy kinderjare af al onderhou. Jesus sê toe dat hy nog een dig kort en dit is om alles wat hy het te verkoop en Hom (Jesus) te volg. Dit was vir die ryk jong man te veel en hy het bedroef weggegaan, want hy het baie besit.

As ‘n mens nou hierdie gedeelte op die oog af lees, dan dink jy dat Jesus wil hê dat ons almal arm en behoeftig moet wees. Dit is egter nie so nie. Jesus het geen probleem daarmee as iemand ryk is en baie geld het nie. Die probleem kom in die manier hoe daardie rykdom bestuur word, want in die meeste gevalle kom die rykdom eerste en dan kom dit wat Jesus wil hê. Dis nie soos dit moet wees nie, want Jesus wil nommer een en heel eerste in ons lewens wees met alles wat ons doen. Baie beslis nie iets wat net so terloops gedoen word nie!

Jesus het geweet dat hierdie ryk jong man nie die lewe van liefde vir sy naaste lewe nie en Hy het ook geweet dat hierdie ryk jong man voorgegee het om iets te wees wat hy nie is nie deur te sê dat hy die gebooie van kindsbeen af onderhou het. Jesus moes daardie leuen ontbloot en dis waarom Hy vir die ryk jong man gesê het om alles te verkoop, want Jesus wou aan die mense wys dat hulle sien nie altyd is wat hulle dink nie.

Liewe lesers, dis een ding wat julle asseblief vir my moet op ag slaan en onthou. Jy kan voorgee voor die mense en vir die mense ‘n illusie skep van iets wat jy nie is nie, maar nie voor God nie. God sien diep binne in elkeen van ons. In al daardie donker geheime wat jy so diep in die donkerste hoekies van jou lewe begrawe, dit sien God raak! God weet alles van elkeen van ons af; Hy het ook alles van die ryk jong man af geweet! Moet dus nie probeer voorgee nie, want dit sal ‘n fout wees…

Dis dan ook waarom Jesus in vers 23 gesê het: “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan!” en die rede daarvoor is omdat hulle hulle eiendom voor God en hulle naaste stel. Jesus se dissipels wou toe weet wie dan gered kan word, want as enige iemand ryk is, sal daardie persoon nooit gered kan word nie. Dis waarom Jesus gesê het dat by God alles moontlik is, want selfs God kan iemand met baie geld oortuig dat die ewige lewe meer werd is as geld!

Petrus sê toe dat hulle alles verlaat het om Hom (Jesus) tye volg. Jesus antwoord dat alles wat ons ter wille van Koningryk van God opgee, ons honderd maal meer terug sal ontvang en daarmee saam die ewige lewe in die in die eeu wat kom. Voorwaar iets om na uit te sien, want ons almal het op een of ander stadium in ons lewe iets prys gegee om eerder vir Jesus te volg.

Jesus sluit af met hierdie waar woorde dat baie wat dink dat hulle in vandag se lewe eerste is in terme van rykdom en gewildheid in die eeu wat kom laaste gaan wees. Ons wat alles prys gegee het en op wie die wêreld nou trap sal dan eerste wees! Iets om baie beslis na uit te sien!

Prys die kosbare Naam van Jesus!

(Visited 484 times, 1 visits today)
Tagged , , .