Ek wil net vir julle sê dat Jesus julle almal vreeslik baie lief het; moet dit nooit vergeet nie!
Ek het baie gewonder oor my vorige boodskap: “Is ek ‘n ware Kind van God” en of dit die regte boodskap was wat ek gebring het. Vanoggend bevestig Jesus toe aan my dat die boodskap reg was en net om seker te maak dat ek verstaan hoe reg dit was, het Hy deur ons Suiderkruis groep dit weer bevestig! Is Jesus die amazing nie?
Julle moet weet dat Jesus nie met ons raas omdat Hy graag wil nie, maar soms is dit nodig om die lat uit te haal en te laat waai sodat mense moet regopsit en aandag gee.
Ons het laas week ‘n keerpunt bereik. As jy gedink het dat dinge moeilik was tot nou toe, dan het jy nog niks gesien nie. Jesus is nie van plan om ‘n mooi wêreld sonder gebrek aan die wêreld leier te oorhandig om te regeer nie. Hy gaan hierdie wêreld in die tyd wat oor is sommer goed opmors! Daar is ‘n storm aan die kom en dit gaan ‘n lelike een wees!
Maar jy hoef nie bekommerd te wees oor hierdie storm nie, want dit gaan jou nie raak nie. So ‘n paar weke gelede het ek ‘n boodskap geskryf “Klim op die ark”. Op daardie stadium was ek nie seker waarom Jesus daar die boodskap vir my gegee het nie, maar nou verstaan ek. Jesus het gepraat van die ark van ons geloof. Dis wat jou veilig gaan hou deur hierdie tyd wat aan die kom is.
Ons het ‘n voorsmakie van hierdie geloof ark gehad gedurende die COVID pandemie. Dis wat my staande gehou het gedurende daardie moeilike tyd wat niemand mag gewerk het nie en inkomste op ‘n minimum was. Jesus het ons daardeur gevat met relatiewe min letsels, maar jy moes die geloof van Noag en Jona gehad het vir dit om te kan werk. Nou gaan dit weer nodig wees.
Ek weet dat baie van julle lankal nie meer op julle eie krag loop nie. Julle is ingeprop by Jesus vir Goddelike krag van bo. Julle vlieg met arend vlerke saam met Jesus en julle kyk na die probleme wat julle kry uit ‘n baie hoë hoogte uit asof dit niksseggend is. Julle denke is vernuwe deur die Woord van God.
Dis waar Jesus almal van ons wil hê en dis waarom Hy ons so waarsku sodat ons gereed moet wees. Hy gaan kom om Sy Kinders te kom haal, maar eers gaan daar ‘n finale siftings proses moet wees. Baie het reeds van die Woord afvallig geword en nog meer gaan afvallig word, maar vir die wat aanhou tot die einde sal gered word! Prys die Naam van Jesus!
Onthou dat jou verlede vir altyd verby is. Jy moet nou met nuwe denke kyk en van die ou dinge vergeet. Nuwe wyn het nuwe wynsakke nodig! Jesus kan nie Sy Gees uitstort in ‘n houer wat vasklou aan die ou dinge nie. As nuwe wyn in ou leersakke gegooi word, dan bars die sakke en loop die wyn op die grond uit! Nou is die tyd om oor te gee in die Hande van Jesus en Hom toe te laat om jou te lei. Op jou eie gaan jy dit nie regkry om staande te kan bly nie.
Jesus is nader aan jou as wat jy ooit sal besef. Jy is gemerk en jy behoort aan Jesus. Jy is Syne! Klim nou in daardie ark sodat jy veilig kan wees as die storm kom. Glo en vertrou op Jesus met alles wat jy het.
Prys die Naam van die HERE!