Ek wil net vir julle sê dat Jesus julle almal ongelooflik baie lief het en dat julle dit nooit ooit moet vergeet nie!
Jesus wil ook hê dat julle moet weet dat Hy nie met ons raas omdat Hy wil nie, maar soms is dit nodig om die lat uit te haal en te laat waai sodat mense moet regopsit en aandag gee. Dis waarskuwing op waarskuwing op waarskuwing die laaste ruk, want ons het ‘n keerpunt bereik en omdraai is nou nie meer moontlik nie.
As jy gedink het dat dinge moeilik was tot nou toe, dan het jy nog niks gesien nie. Jesus is nie van plan om ‘n mooi wêreld sonder gebrek aan satan en sy wêreld leier te oorhandig om te regeer nie. Hy gaan hierdie wêreld in die tyd wat oor is sommer goed opmors! Daar is ‘n storm aan die kom en dit gaan ‘n lelike een wees! As jy nog nie in Jesus se ark is nie, dan beter jy sorg dat jy nou ingaan!
Vir die wat reeds in die ark is; dis nou die wat die donkerheid van hulle eie harte ken en daarom hulle klere gereeld was in die Bloed van die Lam deur vergifnis te vra en ‘n Heilige Leefstyl volg, vir julle gaan hierdie storm nie raak nie. Prys die Naam van die HERE!
Dis die feit dat jy in die ark is wat jou veilig gaan hou deur hierdie tyd. Hou vas aan Jesus soos wat jy nog nooit vasgehou het nie. Maak hom jou nommer een prioriteit. Praat soveel as wat jy kan met Jesus. Vertel Hom van jou dag; van alles wat met jou gebeur het. Ek kan julle dit sê, dat Jesus ‘n uitstekende luisteraar is.
Ons het ‘n voorsmakie van hierdie storm gehad gedurende die COVID pandemie vir die wat dit nog kan onthou. Wat my staande gehou het gedurende daardie moeilike tyd toe die wêreld uitmekaar geval het, was my geloof en die wete dat dit alles deel van God die Vader se plan was. Ek het nie geweet wat daardie plan was nie, want dit was nie vir my nodig om te weet nie, maar die wete dat God die Vader ‘n doel gehad het, was genoeg vir my. Prys Sy Naam!
Ek weet dat baie van julle lankal nie meer op julle eie krag loop nie. Julle is ingeprop by Jesus vir Goddelike krag van bo. Julle vlieg met arend vlerke saam met Jesus en julle kyk na die probleme wat julle kry uit ‘n baie hoë hoogte uit asof dit niksseggend is. Julle denke is vernuwe deur die Woord van God. Prys Sy Naam!
Dis waar Jesus almal van ons wil hê en dis waarom Hy ons so waarsku sodat ons gereed moet wees. Hy gaan kom om Sy Kinders te kom haal, maar eers gaan daar ‘n finale siftings proses moet wees. Baie het reeds van die Woord afvallig geword en nog meer gaan afvallig word, maar dis die wat aanhou tot die einde toe wat gered sal word! Prys die Naam van Jesus!
Onthou dat jou verlede vir altyd verby is. Jy moet nou met nuwe denke kyk en van die ou dinge vergeet. Nuwe wyn het nuwe wynsakke nodig! Jesus kan nie Sy Gees uitstort in ‘n houer wat vasklou aan die ou dinge nie. As nuwe wyn in ou leersakke gegooi word, dan bars die sakke en loop die wyn op die grond uit! Nou is die tyd om oor te gee in die Hande van Jesus en Hom toe te laat om jou te lei. Op jou eie gaan jy dit nie regkry om staande te kan bly nie.
Jesus is nader aan jou as wat jy ooit sal besef. Jy is gemerk en jy behoort aan Jesus. Jy is Syne! Klim nou in daardie ark sodat jy veilig kan wees as die storm kom. Glo en vertrou op Jesus met alles wat jy het. Prys die Naam van die HERE!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
