Dankie HERE vir die openbaringe wat U vir ons gee en die vrymoedigheid om daaroor te skryf. Amen!
Die Gees van die HERE wil hê dat ek vandag oor die begrippe van Water en Gees moet skryf en dis waar die titel van vandag se gedeelte inpas.
In Johannes 3 lees ons hoe Nikodémus in die nag na Jesus gegaan het om Hom oor die Woord wat hy spreek uit te vra. In vers vyf sê Jesus aan Nikodémus “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.”
In Johannes 14:6 sê Jesus: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Dit beteken dat daar net een pad is na die ewige lewe en dit is die pad wat deur Jesus gaan. Moenie mislei word nie, liewe leser! Jy kan glo aan walvisse; jou lewe leef volgens die beweging van die son die maan en die planete; jy kan so ‘n goeie mens wees dat jy goue stroop sweet van goedheid! Niks hiervan gaan jou help om eendag in die Hemel te kom nie, want daar is net een pad en dit is die een waar jy na Jesus toe kom, erken dat jy ‘n sondaar is en erken dat jy jouself nie kan red nie. AMEN! Prys die Naam van Jesus! Ek kan ‘n hele boodskap net hieroor skryf, nie vandag nie.
Nadat jy Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aangeneem het, maak jy die deur oop vir die Gees van die HERE om in jou te kom woon. Baie mense dink dat as jy die Heilige Gees ontvang, dit gepaard gaan met ‘n groot geskreeu en die praat van ‘n vreemde taal. Nee, liewe leser, dis nie hoe dit werk nie.
Nadat iemand tot bekering gekom het, begin die Gees om jou te oortuig van dit wat jy nog verkeerd doen in jou lewe. Die oortuiging is baie subtiel, maar jy sal stelselmatig ontslae raak van alles wat die Gees van die HERE ontstel. Hierdie proses kan so lank as jare neem, maar soos jy groei, sal jy die Vrugte van die Gees in jou lewe begin bespeur. (Galasiërs 5:22) Jy sal ook toegerus word met een of meer van die Gawes van die Gees. (1 Korintiërs 12:8-10) Ek kan weereens hele boodskappe oor hierdie begrippe skryf, maar dis nie die doel van vandag se boodskap nie.
Jesus het gesê dat as iemand nie gebore word uit water en Gees nie hy die Koningryk van God nie kan sien nie; ons het nou die gebore uit die Gees behandel, maar wat van die water gedeelte? Dis nou volgende!
In Mattheus 3, lees ons van Johannes die Doper en hoe hy vir Jesus gedoop het. In vers 14 lees ons hoe Johannes aanvanklik Jesus se wens om gedoop te word teëgegaan het en gesê het dat dit eintlik anders om moet wees! Jesus moes hom doop, nie hy vir Jesus nie! Maar Jesus het gesê dat hy dit moet toelaat, want Jesus wou vir ons die voorbeeld stel sodat ons sal doen net soos Hy dit gedoen net.
As Kinders van God volg ons die voorbeeld van ons Herder en dis waarom ons onsself laat doop. Deur die doop vereenselwig ons onsself met Jesus se kruis dood en daardeur begrawe ons die ou sondige mens.
Ek kry gereeld vrae oor die doop van my lesers af. Ek wil graag byvoeg dat die plek waar jy gedoop word van geen belang is nie. Of dit nou ‘n kerk, ‘n rivier of selfs jou huis se bad is, dit maak geensins saak nie. Ek het gesien hoe soldate mekaar in halwe olie dromme doop. Ek het ook al gesien hoe ‘n trekker se skopgraaf opgehys word en vol water gemaak word om mense te doop. Dis nie waar jy gedoop word wat saak maak nie, maar jou bereidwilligheid om Jesus se voorbeeld te volg.
Jy hoef ook nie ‘n leraar van ‘n gemeente te wees om iemand te doop nie. Beide Johannes die Doper en Jesus se dissipels het mense gedoop. Enige iemand wat gered is kan iemand anders wat gered is, doop as dit daardie persoon se begeerte is. Soos ek voorheen gesê het, dit gaan oor jou bereidwilligheid om die voorbeeld wat Jesus vir ons gestel het, na te volg en dit is wat saak maak!
In uiterste gevalle en as dit nie anders kan nie, kan iemand selfs in ‘n handewasbak gedoop word. Die enigste vereiste is dat die persoon wat gedoop word eers gered moet wees; dat hy of sy moet verstaan waaroor die doop gaan en dat dit daardie persoon se begeerte is om Jesus se voorbeeld te volg deur gedoop te word. As hierdie vereistes nagekom word, dan maak die plek en die metode van die doop geen saak nie. Alles gaan oor die persoon wat gedoop wil word se bereidwilligheid om ons Heer en Heiland se voorbeeld te volg. Die metode is irrelevant!
Daarop, liewe leser, as jy nog nie gedoop is nie; moet dan nie langer uitstel nie. Die Gees lê klem daarop dat ek aan julle moet oordra hoe belangrik die doop is, want Jesus sê in Johannes 3:3 “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Die betekenis is voor die hand liggend: as jy nie wedergebore is nie, kan jy die Koningryk van God nie sien nie, met ander woorde, jy sal nie Hemel toe gaan nie! Klaar!
Dan kom vers 5: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” Ek verstaan nie heeltemal waarom daar ‘n verskil in die twee verse is nie. Ek neem aan dat die wat gered is, maar nie gedoop is nie, wel die Koningryk van God sal sien, maar dat hulle daar nie sal kan ingaan nie. Jy sal dus wel Hemel toe gaan op grond daarvan dat jy gered is, maar jy sal in die Heilige Stad nie kan ingaan nie.
Ek weet dat daar mense is wat gaan verskil van my. Self hoop ek dat dit nie so is nie en dat ek verkeerd is, maar as skrywer moet ek die Woord van God skryf soos dit staan. Ek mag geen gedeelte daarvan verander om mense se gevoelens te spaar nie. Daarom, liewe leser, laat jouself doop. Volg die voorbeeld wat Jesus vir jou gestel het. Ek wil nie hê dat een van julle moet agtergelaat word omdat ek nie my werk behoorlik gedoen het nie.
Prys die Naam van Jesus!