Die belofte van herstel

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Is Jesus nie absoluut wonderlik nie? Altyd wat jy nodig het, net wanneer jy nodig het en dit uit ‘n oord uit wat jy dit nie verwag nie.

Hoe bemoedig jy ‘n Kind van God as daar ‘n sterfte is? Sê jy vir hom dat dit God se Wil is? Dit klink so hol en leeg! Ek het met hierdie dilemma gesit, maar Jesus het voorsien! Net soos Hy in Sy Woord gesê het Hy sal doen! Iemand op ons Suiderkruis Groep het ‘n video boodskap gepos wat my uitgehelp het. Mag die HERE daardie persoon seën omdat daar gehoor gegee is aan Sy stem en die Wil van die Vader uitgevoer is!

Ons almal se lewens gaan deur seisoene van somer, herfs, winter en lente en soms voel dit vir ons asof ons deur ‘n verbrande veld loop waar alles tot as verbrand is. Net soos die bosveld wat nou groen en mooi is, was daar ‘n seisoen toe alles verbrand was met vuur. Soms gebeur dit met ons platgeslaan word deur omstandighede buite ons beheer en dan in die as gaan sit sonder hoop en wonder hoe alles ooit weer gaan groei.

Dis waar die protea so ‘n ongelooflike blom is, want dis ‘n blom van hoop en herstel. Jesus ontbloot Sy karakter aan ons deur dit wat Hy in die natuur gesit het. So kan ‘n protea net voortplant as dit deur vuur verbrand word. Dis waarom daar elke soveel jare ‘n veld brand is en alles tot as verbrand, want anders kan die proteas nie voortplant nie! Is Jesus nie ongelooflik nie? Selfs al lyk dinge hoe hopeloos is daar altyd die belofte van herstel! Prys Sy Wonderlike Naam!

Julle weet, net soos met Job, gebeur slegte dinge met almal van ons. Ons verstaan nie altyd waarom nie en dan bevraagteken ons God se Wil en ons wonder of dit ooit die moeite werd is om God te dien, maar dis nie die vraag wat ons moet vra nie. Die vraag wat ons moet vra is waarom ons God dien. Dien ons Hom oor wat Hy vir ons kan doen of dien ons Hom vir dit wat Hy meer as 2000 jaar gelede vir ons gedoen het?

Ons vergeet soms dat Jesus elke oomblik saam met ons is en dat Hy alles voel wat ons voel. As ons bly en gelukkig is, dan is Hy bly en gelukkig, maar as ons seer het, dan het Jesus ook seer. As jy nou pyn ervaar en seer het in jou lewe, weet dat God daar is en dat Hy saam met jou hierdie emosies voel. Hy huil nou saam met jou, maar Hy is ook daar om jou te troos en jou wonde te verbind.

Selfs al loop jy nou deur die vernietiging en self al lyk dit of daar niks goed uit kan kom nie, weet dat Jesus alles wat goed is doen vir die wat Hom liefhet. Kom ons kyk wat die profeet Jesaja hieroor gesê het: “om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking.” (Jesaja 61:3)

Jy mag miskien nou platgeslaan wees, maar net soos die protea sal jy weet opstaan, weer blom en God prys omdat ons weet dat die HERE ons lief het. Jesus wil jou net die beste gee; ‘n lewe van geluk, vrede en oorvloed in Hom. Maak nie saak wat die omstandighede in jou lewe nou is nie, God belowe in Sy Woord dat Hy dit gaan verander! Net soos die protea weer uit die as groei, sal God jou ook deur hierdie moeilike tyd vat en vir jou die belofte van herstel gee.

Prys die Naam van Jesus!

image_pdfLaai afimage_printDruk
Tagged , , , , .