Ek gaan vandag ‘n storie met julle deel wat deur Bill Britton in 1960 geskryf was en wat gaan oor ‘n visioen wat Jesus aan hom gegee het.
Op ‘n grondpad in die middel van ‘n groot oop veld staan ‘n goue koets. Die afwerking van die koets was in goud met die mooiste uitsny werk denkbaar. Die koets was getrek deur ses groot kastaiingbruin perde wat twee by twee ingespan was. Dit wil sê, twee voor, twee in die middel en twee agter. Maar die koets het nie beweeg nie, want die perde het die koets nie getrek nie en ek het gewonder waarom.
Dis toe dat ek die bestuurder van die koets op sy rug onder die koets sien lê. Hy het net agter die twee laaste perde se bene gelê en hy was besig om aan iets tussen die twee voorste wiele van die koets te werk. Ek het gedink dat dit ‘n baie gevaarlike plek was om te werk, want as die perde skielik terug tree, dan sal die perde op hom trap of as die perde miskien skrik, dan sal hulle die koets vorentoe trek en sal die koets bo-oor hom ry.
Maar die bestuurder het geen kommer gehad nie, want hy het geweet dat die perde gedissiplineer was en dat hulle nie sou beweeg alvorens hy vir hulle sê om te beweeg nie. Die perde het nie hulle voete gestamp of ongeduldig voorgekom nie. Alhoewel hulle klokkies aan hulle voete gehad het, het die klokkies glad nie gelui nie. Daar was hooftooisels op hulle koppe, maar selfs die het nie beweeg nie. Hulle het eenvoudig stil gestaan en gewag op die stem van hulle Meester.
Soos ek die koets en die perde dopgehou het, het ek opgelet dat daar twee ander perde uit die veld uit aangehardloop gekom het na hulle toe. Soos die perde wat uit die veld uitgekom het nader gekom het, het hulle vir die wat ingespan was gesê: “Kom en speel met ons; ons kan hardloop en dan kyk julle of julle ons kan vang.” En daarmee het die perde hulle voete gestamp, hulle sterte geswaai en weggehardloop. Toe hulle terugkyk, sien hulle dat die perde voor die koets nog net so staan… Hulle kon dit nie verstaan nie.
Die twee wat vry was, het niks van harnasse geweet nie en kon nie verstaan waarom die ander nie wou speel nie. Hulle roep toe na die ander: “Waarom hardloop julle nie saam met ons nie? Is julle te moeg om te hardloop? Julle is veels te plegtig; julle het meer vreugde in julle lewes nodig!” Maar die in gespande perde het geen woord geuiter nie en het ook nie hulle voete gestamp of hulle koppe geswaai nie. Hulle het geduldig gewag op die stem van hulle Meester.
Weer het die vry perde na hulle geroep: “Waarom staan julle so stil in die son? Kom hier na die koel skaduwee van hierdie boom toe. Kyk hoe groen is die gras. Is julle nie honger nie? Kom eet saam met ons. Julle lyk dors, kom drink saam met ons. Ons het baie strome met koel helder water.” Maar weer het die perde voor die koets nie gereageer nie. Hulle het geduldig gewag op die stem van die Koning.
Hier het die visioen verander en ek het gesien hoe die twee vry perde gevang word en gelei word na die Meester se stalle toe om opgelei te word. Hulle was baie hartseer toe die groen velde agter hulle wegraak en vervang word deur die stalle met hulle beperkte leefruimte, bruin grond en hoë heinings. Die twee perde het van heining tot heining gehardloop opsoek na hulle vryheid, maar hulle was beperk tot hierdie plek van opleiding.
Die afrigter het begin om aan hulle te werk met sy sweep en sy toom. Wat ‘n las was dit nie vir die twee wat so gewoond was aan hulle vryheid nie. Hulle kon net nie die doel agter die leiding en die streng dissipline verstaan nie. Watter groot misdaad het hulle gepleeg om dit te verdien?
Min het hulle die verantwoordelikheid wat hulle s’n sou word, verstaan as hulle hulle eie wil aan die Meester oorgee en hulle opleiding voltooi. Al wat hulle geweet het, was dat hierdie opleiding moordend was en die ergste wat hulle nog ooit gevoel het.
Een van die twee perde het gerebelleer en gesê: “Hierdie is nie vir my nie. Ek hou van my vryheid, my groen velde met die helder strome vars water. Ek kan nie meer hierdie verskriklike opleiding hanteer nie.”
So het hy ‘n manier gevind om oor die heining te kom en het hy baie gelukkig teruggehardloop na die oop veld met die groen gras en die helder vars water. Hy was verbaas dat die Meester hom so maklik laat gaan het en nie agter hom aangekom het nie, maar die Meester het al sy aandag gegee aan die perd wat oorgebly het.
Hierdie perd wat oorgebly het, het dieselfde geleentheid gehad om te ontsnap, maar hy het besluit om eerder sy eie wil prys te gee en die weë van sy Meester te leer. Die opleiding het nog moeiliker geword, maar hy het baie gou nog meer geleer as ooit van te vore. Hy het geleer hoe om gehoorsaam te wees aan die Meester in elke opsig en hoe om in stilte Sy stem te hoor.
Uiteindelik was die opleiding oor. Sou hy nou sy vryheid kry en kan terugkeer na die groen veld waar hy vandaan gekom het? Nee, want groter beperking het gewag toe die harnas oor sy skouers val. Nou kon hy net beweeg wanneer sy Meester gepraat het. Tensy die Meester praat, moes hy stil staan.
Weer het die visioen verander en nou sien ek die ander perd wat weggehardloop het op ‘n heuwel staan, besig om aan die gras te vreet. Aan die onderkant van die heuwel kom die Koning se koets al met die pad af gery; getrek deur ses perde. Met groot verbasing herken die perd op die heuwel sy broer regs voor in die toom. Sy broer is sterk en gesond omdat die meester net goeie kos vir die perde gee. Hy sien die mooi hooftooisels op die perde se koppe, die goud borduursel in die harnasse en die pragtige gelui van die klokkies aan hulle voete… en jaloesie kruip in sy hart in.
Die perd op die heuwel dink by homself: “Waarom word my broer so geëer en ek so afgeskeep? Hulle het nie ‘n hooftooisel op my kop gesit nie en ook nie klokkies aan my voete nie. Die Meester het my ook nie die wonderlike verantwoordelikheid gegee om sy koets te kan trek nie of ‘n harnas wat met goud borduur was om my gesit nie. Waarom het Hy my broer bo my gekies?”
Terwyl ek kyk, kom die antwoord deur die Gees: “Omdat die een bereid was om homself te onderwerp aan die wil van die Vader, maar die nader het gerebelleer. Daarom was die een gekies, maar die ander was verlaat.”
Volgende sien ek hoe ‘n groot droogte oor die land kom. Die pragtige groen gras het verdor en die helder strome met die koel water het opgedroog totdat daar net klein modder poeletjies hier en daar oorgebly het. Ek het weer die perd gesien wat weggehardloop het. Wat snaaks was, is dat die perd wat gerebelleer het nooit tot volwassenheid gegroei het soos die nader perd regdeur die hele verhaal nie. Hy het deur die verdorde veld gehardloop opsoek na iets om te eet en drink, maar hy kon niks vind nie. Hy het die hele tyd rondgehardloop opsoek na iets om sy siel te voed, maar daar was ‘n droogte in die land en die groen gras en die helder water was iets van die verlede.
Eendag staan die perd toe weer op die heuwel soos voorheen, maar hy is swak en sy bene is wankelrig van die honger. Hy wonder waarheen om te gaan om kos te kry. Dit het gelyk of alles hopeloos was, want alle pogings wat hy aangewend het om kos te vind het net sy energie reserwes verder laat krimp.
Weer sien hy die Koning se koets met die pad afkom en weer is sy broer regs voor in gelit, maar sy broer is vet en sterk, spiere kabbelende, glad en mooi deur baie versorging. Hy was verbaas, maar ook verleë en hy roep toe uit: “Broer, waar kry jy die kos om jou so sterk en gesond te hou terwyl daar ‘n droogte is? Ek het oral gesoek, maar kon niks vind nie. Waar kry jy, wat heeltyd op stal staan, kos in hierdie tyd van droogte? Vertel my asseblief, want ek moet weet!”
Dan kon die antwoord in ‘n stem gevul met oorwinning en lofsang: “In my Meester se Huis is daar ‘n geheime plek binne in die stalle waar Hy my voer en ek uit Sy hand uit eet. Sy graan voorraad droog nooit op nie en Sy put word ook nie droog nie.”
So het die HERE aan my gewys dat in die tyd wanneer mense swak en honger is in die gees, gaan die wat bereid was om eie wil en vryheid prys te gee om sodoende in die perfekte Wil van die HERE te beweeg, meer as genoeg hê om te eet. Daar gaan vir hulle ‘n nimmer eindigende stroom van seën wees wat deur die Heilige Gees gevoed gaan word sodat hulle nooit meer dors sal hê nie.
En dit was die einde van die visioen.
Liewe Kinders van die HERE. Ons is nou in die oploop tot die Geestelike Droogte; die oploop tot die wegraping en die komende verdrukking, maar dis nog nie te laat vir jou nie. Gee jou lewe oor aan die HERE, liewe leser. Maklik is dit nie, maar niks wat ooit die moeite werd is, is ooit maklik nie.
Toe ek geleer het om fiets te ry, het ek meer as een dag geval dat die velle gewaai het, maar ek het weer opgeklim en aanhou ry. Vandag kan ek ‘n fiets ry! Ek kan ook ‘n motorfiets en ‘n bromponie ry. Toe ek geleer het om fiets te ry, het ek nie besef dat hierdie dinge vanself gaan bykom nie. Op soortgelyke wyse kos dit oefening om in die HERE se wil te bly, maar die beloning gaan meer as wat ons ooit kan dink daarvoor opmaak.
Jy het dus ‘n keuse om te maak. Maak die regte een, asseblief.