Die tyd is amper daar…

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek voel dat ons vertrek tyd nou baie naby is; ek weet nie hoe ek dit weet nie, maar ek weet net, dat die lang wag is amper om…

Baie van julle sal die laaste tyd agtergekom het hoe die Gees in julle lewens werk. Klein sondetjies waarmee jy al vir jare sukkel, is skielik nie meer ‘n probleem nie. Satan se versoekinge is egter nog daar en dit het toegeneem! Nie dat ons enigsins daarvoor bang hoef te wees nie, want ons het die mag om satan op sy plek te kan sit! AMEN!

Ek let ook op hoe alles in die wêreld die laaste ruk agteruit gaan. Nie net in Suid Afrika nie, maar regoor die wêreld. Daar is net ‘n baie klein handjie mense wat nog plek maak vir Jesus in hulle lewens… Dit breek ‘n mens se hart om dit te aanskou, want Jesus het vir ALMAL van ons gesterf sodat ALMAL van ons die ewige lewe kan geniet. Tog het net ‘n handjie vol gekies om daardie voorreg te geniet…

Julle moet ook weet dat daar geen vooraf waarskuwing gaan wees voor die wegraping gaan kom nie. Daar is ook nog niks wat vooraf moet gebeur voor die wegraping kan plaasvind nie. Dit gaan so skielik oor hierdie wêreld kom soos ‘n groot skrik en daardie dag is amper hier!

Volgens die profesie gaan daar ‘n Derde Wêreld Oorlog uitbreek en ons weet ook dat dit op ‘n manier gaan begin wat niemand dit kon voorspel het nie. Persoonlik glo ek dat hierdie profesie gaan waar word, want dis al verskeie kere deur volwassenes as ook kinders bekend gemaak dat dit gaan gebeur. Ons weet ook deur hierdie profesie dat die wegraping op dieselfde tyd gaan plaasvind, maar ons weet nie wanneer nie.

Jesus het aan ons bekend gemaak dat ons sal weet as die tyd naby is en ek kan met alle sekerheid sê dat dit baie naby is. Alles wys daarop. Ek kan ook bekendmaak dat die wêreld nie die oorlog moet vrees nie, maar dit wat daarna gaan kom.

Die verdrukking is nie vir ons as Kinders van God bestem nie. Dit is ook nie die Wil van die Vader dat enige een van Sy Kinders daardie tipe straf moet verduur nie. Die keuse is egter ons s’n om te maak. As Kinders van God is dit ons plig om heiligheid ten alle tye na te streef. Ons streef heiligheid na, want God is Heilig!

Enige vorm van Geestelike besoedeling behoort nie deel van ons lewens te wees nie en nou verwys ek spesifiek na sonde van die vlees. As Kinders van God is ons liggame Tempels van die Heilige Gees. Hoe kan ons die Gees van God laat bly in ‘n tempel wat besoedel is met vleeslike begeertes? Los daardie dinge, liewe Kind van God, want die pad wat jy op is kan net een uiteinde hê en dis nie in die Hemel nie. Moenie dat satan vir jou leuens vertel dat Jesus sal verstaan nie, want dis nie die waarheid nie!

Hou jou kleed skoon, liewe leser! In vandag se lewe is dit so maklik om die pad byster te raak, dat dit net nie snaaks is nie. Hou vas aan Jesus met alles wat jy het. Stel Hom eerste in jou lewe en kyk hoe jou pad vir jou gelykgemaak word. As jy my nie glo nie, probeer dit!

Jesus gaan kom vir Sy Kinders, so seker soos wat ek hierdie boodskap sit en skryf. Daarvan kan julle seker wees. Dis elkeen van ons se keuse of ons gereed is vir die Koning met genoeg olie in ons lampies. Moenie uitgevang word en dan op daardie oomblik uitvind dat jy nie gereed was nie.

Mag Jesus hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!

AMEN!

 

(Visited 96 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .