Ek weet dat daar van julle is wat kan aanvoel dat ons tyd min is en dis waarom vandag se boodskap so gepas is.
In Johannes 13 lees ons hoe Jesus agtergekom het dat Sy tyd min was en dat die Vader alles in Sy hande gegee het. Ons lees hoe Hy opgestaan het, Sy bo klere uitgetrek het en ‘n doek om Hom vasgemaak het. Hy het daarna water in ‘n bak gegooi en die voete van Sy dissipels begin was.
Aanvanklik het dis dissipels nie verstaan wat dit is wat Jesus doen nie of waarom nie. Jesus het hulle gereinig vir die werk wat hulle sou moes doen om die evangelie te verkondig, maar meer as dit was die voorbeeld wat Jesus vir hulle gestel het. Jesus verduidelik dit ook later so toe Hy gesê het in vers 16: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, ‘n dienskneg is nie groter as sy heer nie, en ‘n gesant is ook nie groter as die een wat hom gestuur het nie.”
Dit beteken dat niemand van ons groter of meer werd is as die ander nie. Ons is almal dieselfde voor die HERE. Jesus wat die Hoof van die Kerk was het hom soos ‘n dienskneg gedra deur die voete van Sy dissipels te was en so moet ons ook doen. Jesus sê in Markus 9:35 “As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees.”
Die les wat Jesus vir ons probeer leer is een van nederigheid. ‘n Ware kind van die HERE is nooit eerste in die ry, heel voor in die kerk of in die kalklig nie. Ons staan altyd heel agter in die skaduwee. Ons kruip in die besemkas weg as daar baie mense is. Ons is die dienaars; nie die wat bedien word nie. Dis wat Jesus van ons verlang as Hy gaan kom om ons te haal en aan ons ‘n Kroon en die kleed van die Ewige Lewe gaan gee!
Ons is tog so bekommerd oor ons sonde. So vergeet ons van naasteliefde en tog is naasteliefde die sleutel tot sukses en gaan naasteliefde baie sondes bedek!
In die tyd wat oor is en glo my as ek dit sê; dis minder as wat enige een van ons dink; wil ek vra dat… Nee, wag; ek vra nie, Jesus vra dat julle die wat julle te na gekom het sal vergewe, maak nie saak wat daardie persoon aan jou gedoen het nie. Nee, dis nie te veel gevra nie, want toe Jesus aan die kruis gehang het, kon Hy die wat Hom daar gesit het vervloek het, maar Hy het nie. Kyk die voorbeeld wat Jesus vir ons gee in Lukas 23:34 “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”
Ons HEER en Koning het vir ons die voorbeeld gestel. Al wat ons moet doen is om dit te volg. Ons tyd is min en ek weet dat daar van julle is wat dit ook kan aanvoel. Gebruik daarom hierdie tyd om in vrede met die om jou te leef. Vergewe mekaar se oortredinge so mildelik as wat jy kan. Jesus doen dit vir ons en daarom kan ons dit vir ander ook doen.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!
Amen!
U weet… – daardie feit wat in die boodskap hierbo die hooftema is – vergifnes, is waarlik dit wat tussen baie mense en ewige Verdoemming staan. Want hoe kan Haat en Onvergewensgesindheid óóit groter as God se Offer van Liefde wees?! Opsommend gevra.
Dat ons Maker en Verlosser – Jesus Christus Sélf ons so baie daaroor waarsku en, in die Onse Vader gebed dit Bevestig, het twee dinge vir my al baie jare terug laat besef… As ons ander nie vergewe nie en ons bid die Onse Vader gebed, spreek ons ‘n direkte vloek oor onsself uit! Want ons bid dan; vergewe my nie want ek vergewe nie ander nie…
Al vir baie jare bid ek; vergewe my, my skulde en leer my om ander te vergewe – soos U my vergewe. En álle lof, eer en dank aan onse Here Jesus Christus – Hý het my gebed Verhoor!
Baie dankies vir die bemoedige boodskappe en bevestiging.
God se rykste seën aan u en u familie en aan al my broers en susters in Christus Jesus.