Spreek met vrymoedigheid in Christus

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Het julle al ooit opgelet dat Jesus vir ons die mooiste gedeeltes in die Bybel gee om te lees as ons nie daarvoor soek nie?

In hierdie tyd wat ons nou is en met die wegraping van die kerk voor die deur is dit van uiterste belang dat ons die vrymoedigheid sal hê om te praat oor die dinge van die HERE, veral teenoor die wat verlore gaan. My Bybel het vanoggend oopgegaan by 2 Korintiërs 2:14-17 [14]  Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. [15]  Want ons is ‘n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; [16]  vir die laaste ‘n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste ‘n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam? [17]  Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.”

Vir die van julle wat wonder of julle die mense moet waarsku oor dit wat aan die kom is in hierdie wêreld, is hierdie die antwoord! Moenie bekommerd wees of jy nog nooit ‘n argument gewen het of nie, want jy sal triomfeer as jy die Gees toelaat om deur jou te werk. Spreek in Christus met opregtheid en kyk wat dan sal gebeur!

Paulus skryf dat ons wat gered is ‘n aangename geur is tot eer van God vir die wat gered word en die wat verlore gaan. Julle sien, ons wat gered is en God vrees, ons besef dat die feit dat ons die vryheid van keuse het nie beteken dat ons vry is van die gevolge van daardie keuses nie. Ons ken die gevare in die lewe as ons dit sien en ons weet dat as ons dieselfde pad as die wêreld stap, ons saam met die wêreld geoordeel gaan word.

“En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel.” (Mattheus 10:28)

Die wêreld is sterk en magtig en dit kan baie dinge doen, maar oor jou siel het niemand seggenskap nie, behalwe jy. Satan kan net seggenskap oor jou siel kry as jy dit vrywilliglik aan hom bemaak en hy sal allerhande slinkse planne beraam om jou sover te kry om dit te doen. Hy sal self siekte gebruik om daardie doel te bereik en dan die geneesmiddel onder jou neus vryf as aansporing om hom te volg, so wees versigtig wat jy doen! Jou ewigheid het baie waarde. Satan weet dit, maar nie almal besef dit nie.

Iemand het eenslag gesê dat die lewe soos ‘n oneindige lang tou is wat geen einde het nie. Aan die punt van hierdie tou is ‘n leer omhulsel wat keer dat die tou nie uitrafel nie. Ons tyd op aarde spandeer ons op daardie leer omhulsel, maar eendag gaan ons van daardie leer omhulsel afklim en die ewigheid betree. Waar gaan jy daardie ewigheid spandeer, liewe leser? Onthou dat daar net twee plekke is: Hemel en Hel. Kies, maar kies met wysheid.

Kom ons bid: My Koning en my God, ek bid dat elkeen wat hierdie boodskap lees, sal besef net hoe lief U hulle het en dat U ons waarsku teen die gevare sodat ons nie in satan se slaggate trap sonder dat ons nie besef wat dit is wat ons doen nie. Ek wil ook vra dat U die wat die Woord uitdra sal seën en dat die saad wat gesaai gaan word sal opkom om vrug te dra dertig, vyftig of honderd voudig! Prys die Naam van Jesus! AMEN!

 

image_pdfLaai afimage_printDruk
Tagged , , .