Nog een laaste waarskuwing

God het vir ons die vryheid van keuse gegee om self te kan besluit en Hy meng nie by ons besluite in nie, selfs al maak ons slegte keuses.

Ek kry gereeld vrae oor die wegraping van verskillende mense en die vraag wat die meeste voorkom is waar die woord “wegraping” in die Bybel staan. Die woord “wegraping” kom nêrens in ons Bybel voor nie, maar wel in die oorspronklike Griekse geskrifte. Waarom die woord uitgelaat was in ons vertaling is ‘n raaisel wat verlore is in tyd.

Hierdie feit behoort egter nie ‘n probleem te wees nie, want die woorde “Drie-Enige-God” kom ook nie in ons Bybel voor nie, tog word die egtheid van ‘n Drie-Enige-God nooit betwyfel nie, want die konsep van ‘n Drie-Enige-God word in die Bybel aan ons verduidelik. Maar as dit by die egtheid van ‘n wegraping kom, dan wil mense nie glo nie, selfs al word die konsep daarvan net soos die konsep van ‘n Drie-Enige-God aan ons verduidelik. Die konsep van die wegraping vind ons in1 Tessalonisense 4:13-18.

Die feit dat die woord “wegraping” nie in ons Bybels voorkom nie, behoort dus geen probleem te wees nie, maar ongelukkig is dit en dis waar die probleem lê. Satan het ‘n inkomplek gekry en nou gebruik hy dit ten volle om soveel van God se Kinders agter te hou as wat hy kan.

Hoe kan ons verseker weet van die egtheid van die wegraping? Deur die Gees van God te gebruik as metgesel. As ons Jesus deur Sy Gees leer ken, dan sal ons waarheid van fiksie kan onderskei. Die Gees van die HERE is vir ons, Sy Bruid, gegee as metgesel om ons te onderrig sodat ons eendag die perfekte bruid van die HERE kan wees! Prys Sy Naam. Maar die Gees is nie net ‘n metgesel nie, dis ook ‘n onderwyser en dit vertel ons van alles wat Hy, die Gees, gehoor het. Deur die Gees leer ons die verborgenhede van God se Woord; verborgenhede wat tot nou toe opgesluit was vir baie, maar dan moet jy jouself beskikbaar stel vir die Gees en toe laat dat die Gees kan doen in jou lewe wat dit moet.

Dit is God se manier om die wat Hy lief het te beskerm. Hy het Noag en sy familie beskerm teen die vloed sodat hulle nie sou omkom nie. Hy het ook vir Lot en sy gesin beskerm deur hulle uit Sodom uit te vat voor Hy sy wraak oor die stad laat geld het. Dit maak dus net sin dat God ons sodanig sal wil beskerm voor Hy sy oordele oor hierdie wêreld gaan uitgiet.

Om dit meer duidelik te stel, sê die Bybel vir ons presies so in die volgende gedeeltes: Romeine 5:9, Romeine 8:1, 1 Tessalonisense 5:9 en 1 Tessalonisense 1:10. Ons is nie bestem tot God se toorn nie en daar is vir ons geen veroordeling soos vir die wêreld nie, omdat ons gered is deur God. Beter kan dit nie gestel word nie. Prys die Naam van Jesus!

Boonop; ‘n ouer straf tog nie sy kind as ‘n niks verkeerd gedoen het nie. Om watter rede sal God dan toelaat dat ons wat aan Hom behoort saam met die sondaars gestraf word? Dit maak net nie sin nie! Dis waarom die wat aan Jesus behoort eers uit die rampgebied verwyder moet word.

Jesus self sê in Johannes 14:2-3 dat daar in die Huis van Sy Vader baie wonings is en dat Hy gaan om nog meer plek voor te berei dat Hy ons kan kom haal en ons ook kan wees waar Hy is. Hoeveel meer bewyse het mens nodig om te kan glo in die egtheid van ‘n wegraping?

Vir die wat nie glo nie, wil ek ‘n ernstige, dog dringende waarskuwing gee. Ek gaan jou nie oortuig nie, want net die Gees van die HERE kan dit doen as jy jou hart vir Hom oopmaak, maar weet verseker en sonder enige twyfel dat God se Woord waar gaan word! Daar gaan ‘n wegraping wees en God gaan die wat Syne is kom verwyder uit hierdie wêreld uit en ek het geen twyfel daaraan nie!

Ek wil nie hê dat enige een wat hierdie boodskap lees op daardie groot en verskriklike dag van die HERE moet wakker skrik en net dan besef dat die Bybel al die tyd reg was nie. Op daardie dag gaan daar ‘n geween en ‘n gekners van tande wees en satan gaan onder uit sy maag uit lag, want dan het hy baie siele om mee te spot en te vra waar hulle god dan is!

Mense, ek vra baie mooi. Hierdie gaan tien teen een die laaste geleentheid wees om hierdie waarskuwing nog een keer uit te stuur. Doen jou huiswerk. Vra die Gees van God om in jou in te kom en jou te oortuig van die waarheid soos hy met baie van ons klaar gedoen het en moenie dat satan jou mislei nie. Satan het geen liefde vir jou nie. Sy uitsluitlike doel is om soveel as moontlik Kinders van God agter te hou na die wegraping sodat hy met hulle kan spot en hulle kan pynig.

God het ons gekies toe Hy vir satan en sy engele uit die Hemel uitgegooi het en dis waarom satan ons so haat. Ons verteenwoordig alles wat satan en sy engele nie meer kan wees nie. Moenie dat hy jou so gebruik nie. Jy is baie meer werd as dit.

Mag die HERE hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën! Prys Sy Naam!

(Visited 96 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .