Die vernietigende mag van sonde

Iemand het eenslag iets baie waar gesê en dit was dat sonde soos ‘n krediet kaart is; jy geniet dit nou, maar jy betaal later!

Hierdie is sekerlik die waarste woorde ooit, want om alles wat verkeerd is te doen het ‘n sekere bekoring daarin, maar as jy jou oë vir die laaste keer op hierdie aarde sluit en die oordeel word gevel, dan begin jy betaal, want daar geen pret in die plek waarheen jy sal gaan nie!

Dis dan ook waarom die stelling wat deur die leierskap van ‘n baie bekende Suid Afrikaanse kerk my so geskok het. Die hoof van hierdie kerkgroep het in ‘n radio praatjie gesê dat sonde nie so ‘n groot ding is nie en dat ons as Christene moet leer om sonde in ons lewens te integreer! Daardie persoon kon netsowel gesê het dat mense maar gerus gif in groot hoeveelhede kan drink, want dis net naastenby so giftig soos die gif in die klein botteltjie nie!

Liewe lesers, daar kan geen kompromie met sonde wees nie en daar mag ook geen manier wees om dit in jou lewe te integreer nie. Sonde in enige vorm is vir die mens uiters vernietigend. Baie sonde of min sonde, groot sonde of klein sonde; dit maak nie saak nie. Sonde bly sonde; net soos gif, gif bly. Die grote van die houer waarin dit kom, maak nie saak nie. Dit maak dus nie saak of jy die klein of die groot bottel gif drink nie; dood sal jy gaan as gevolg daarvan! As jy sondig, dan is jy ‘n sondaar in die oë van God en sal jy gestraf word! Die grote van die oortreding is irrelevant! Verstaan julle?

Omdat God ewig is, is daar net een ewige straf vir sonde en dit is ‘n ewigheid in die hel; verwyder van God en oorgegee om gepynig te word vir ‘n ewigheid. Daar is geen ander meer gepaste straf as dit nie.

Gelukkig het God die Vader vir ons ‘n uitweg gegee van hierdie lot wat oor elkeen van ons hang en daardie uitweg vind ons in Johannes 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.”

Daar is ‘n uitweg en daardie uitweg se naam is JESUS! Verlossing van die hel en sy onuitbluslike vuur is net 50 sentimeter ver en dit is van jou knieë na die vloer! Jy kan nou afgaan op jou knieë en vir JESUS vra vir vergifnis en dit SAL joune wees. Geen voorbehoud nie. Geen doen eers dit en dan sal Ek besluit nie… Net vergifnis vir alles wat jy gedoen het. Selfs al oortree jy weer en weer daarna, sal dieselfde vergifnis altyd daar wees vir jou, maar dan moet jy vra.

Julle weet, ek is ‘n Christen, maar dit maak nie van my ‘n engeltjie nie. Mense dink so dat as jy ‘n Christen is, dan moet jy hierdie baie voorbeeldige lewe sonder enige vorm van sonde lei. Min weet hulle dat ons almal ‘n kruis vir Jesus dra en dat die las van sonde deel van daardie kruis is. Min weet hulle dat hoogmoedigheid ook ‘n sonde is wat Jesus haat…

As Christen probeer ek baie hard om nie te sondig nie, maar dit gebeur. Ons is almal mense en ons is vaal baar. Gelukkig weet Jesus dit en dis waarom daar in Jesaja 42:3 staan: “Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.” Jesus sal jou nooit verwerp nie! Geen sonde is so groot dat dit jou nie vergewe sal word nie. Moenie na satan se leuens luister nie!

As Christene is dit ons plig om afskeid te neem van sonde en soos Jesus te wil leef, maar ons swakheid as mens, maak dit ‘n amper onmoontlike taak. Dis waarom die poging wat jy aanwend om heilig te lewe so baie vir die HERE beteken. Om te probeer en te vaal is baie meer werd as om glad nie te probeer nie.

Ons wil almal so graag skoon en vry van enige sonde vir Jesus wees, maar ons menslikheid staan in die pad daarvan. Baie van julle neem dit persoonlik op as julle val, maar Jesus sê dat jy hopeloos te hard is op jouself. Dink ‘n bietjie so daaraan: as ons almal perfek was in doen en late, waardeur sal God se lig dan skyn? Hoe sal ons ander mense na die HERE te aantrek as daar geen swakhede in ons lewens was waardeur God se perfekte lig skyn nie?

Hou dus op om so hard op jouself te wees. Bid eerder gereeld vir vergifnis; van die sonde wat jy van bewus is asook die wat nie van bewus is nie en laat die HERE toe om jou op die regte pad te lei.

Prys Sy Wonderlike Naam!

(Visited 224 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .