Dis alles ‘n illusie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Satan is ongelooflik slinks en dis met reg dat Jesus ons so aanhoudend teen hom waarsku.

Satan se hele taktiek gaan daarop om jou eie swakhede teen jouself te gebruik. Hy weet dat al wat hy hoef te doen is om vir jou die geklink van geld en die flitsende liggies van roem te wys en van daar af doen jy al die harde werk vanself!

Ek gaan vir Lans Armstrong as ‘n voorbeeld gebruik. Ek is seker almal van julle weet van wie ek praat. Dis die Amerikaanse professionele fiets ryer wat die Tour de France fietswedren sewe keer namekaar gewen het. Toe dit rugbaar geword het dat Lans opkikkers gebruik het om die wedrenne te wen, het die hele wêreld hierdie man veroordeel, maar niemand het die anderkant van die storie raak gesien nie…

Ek sien hierdie as ‘n uitstekende voorbeeld van hoe satan ‘n mens kan verlei. Kom ons kyk wat Lans Armstrong alles gehad het: Mag, Roem en Sukses. Daarmee saam het geld en mag gekom om alles te kan hê wat sy hart begeer. Die hele wêreld het sy naam geken. Hy was ‘n voorbeeld vir baie. Kanker leiers het hom as ‘n baken van hoop gesien, want hy het kanker oorwin!

Aan die anderkant van die muntstuk was daar die opkikkers om te kan doen wat hy gedoen het. Vir jare het dit gewerk, maar die een ding waarmee Lans nie rekening gehou het nie, was sy gewete. Nadat hy besluit het dat hy wil skoon kom, nou het satan hom vernietig en mag hy nooit weer aan enige professionele sport deelneem nie. Satan vat nou alles wat hy aan hom gegee het met rente terug!

Kyk net na die slinksheid van die hele plan: mag roem, sukses, geld. Dis alles wat enige mens voor kan hoop! In ruil daarvoor, moet jy jou siel aan satan verkoop deur opkikkers te gebruik en vir mense te lieg. As ek nou vir Lans Armstrong gaan vra of alles die moeite werd was, dan sal hy my tien teen een “nee” antwoord.

Liewe leser, dis die gevaar wat ons loop deur na Satan se stem te luister. Onthou een ding: Satan is nie lief vir jou nie en hy is nie jou “buddy” nie. Hy stel net in een ding belang en dit is jou siel. Verder voel hy vere vir jou. Hy weet hy kan die oorlog te God nie wen nie. Hy weet wat sy uiteinde gaan wees, daarom probeer hy so veel moontlik siele saam met hom in die hel kry om sy straf saam met hom te deel!

Satan kan nie liefde nie en hy ken nie genade nie. Satan haat die mens met ‘n haat wat nie beskryf kan word nie, want as mens is jy geskape na die ewebeeld van God. As mens herinner jy hom aan alles wat hy nooit meer kan wees nie! Satan oorwin deur die waarheid te verdraai, leuens te vertel en te speel op ons gierigheid. Pasop vir hom. Hy is baie slinks!

Kom ons gaan kyk na die storie van Adam en Eva in die Tuin van Eden in Genesis 3. Hulle het ‘n idilliese bestaan gehad. Alles wat hulle maar kon begeer totdat satan vir die vrou gevra het: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Kyk na die slinksheid! Satan sê nie vir die vrou wat God gesê het nie, hy vra “Is dit so?” Onmiddellik begin daar in albaster in jou kom rond te rol: “Is dit regtig so?” Hoe meer die albaster rond rol, hoe meer begin jy wonder of dit wat aan jou gesê is regtig dit is wat bedoel was. Kort voor lank, dan vervaag die skeiding tussen reg en verkeerd en dan val jy in die slaggat!

Agterna verontskuldig satan hom deur te sê: “Ek het nie gesê jy moet dit doen nie!” Julle weet wat die beste is? Hy is absoluut reg! Satan weet dat al wat hy moet doen is om die saadjie te plant en dan terug te staan en kyk hoe dit groei. Hy weet dat jy jouself uiteindelik gaan vernietig. Al wat nodig is, is tyd en daarvan het satan baie en ook net so baie geduld!

Nou kom ons terug na Lans Armstrong toe. Kan u nou satan se hande in die werk sien? Mense vra waar om hy so lank hiermee weggekom het. Dit was deel van die illusie. So lank soos wat jy as mens bereid is om satan se speletjie te speel, so lank sal hy jou beskerm. Die dat wat jy besluit om teen die stroom te gaan, dis die dag wat jou dae getel is, want dan vernietig satan alles wat hy gemaak het en jou daarmee saam!

‘n Slim man het eendag gesê: “As satan jou nie versoek nie, dan beteken dit dat jy en hy in dieselfde rigting op pad is!” Hoe waar is daardie woorde nie! Satan versoek jou nie as jy sy wil doen nie!

Nou kom ons weer terug na die ou storie: wees versigtig na wie julle luister! Satan kan hom voordoen as baie dinge, ook ‘n engel van die lig en sy dienaars kan dit ook doen! (2 Korintiërs 11:14-15) Gebruik die Gees van die HERE om te kan onderskei. As dinge te goed klink om waar te wees, dan is dit!

Mag die HERE hierdie boodskap seën.

(Visited 143 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .