Ek is seker dat baie van julle seker al gehoor het van die wegraping wat op die Joodse Fees van die Trompette gaan plaasvind.
Volgens die gerug wat die rondte doen gaan dit tussen die 23ste en die 25ste September plaasvind. Ek moet ook sê dat gedeeltes van hierdie gerug baie oortuigend kan wees met mense wat deur wiskundige berekeninge kan bewys dat dit waar is tot mense wat beweer dat Jesus self aan hulle geopenbaar het dat die gerug waar is.
Hierdie gerug is natuurlik baie aansteeklik en selfs Kinders van God wonder nou na die waarheid daarvan. Self steur ek my nie aan wat mense sê nie, want die Bybel is baie duidelik oor hierdie onderwerp. Omdat ek weet dat so baie van julle hieroor wonder en miskien ook wens dat dit waar gaan word het ek vir Jesus gaan vra hierna.
My lekkerste tyd om met Jesus te gesels is in die nag, gewoonlik as ek wakker word om een of ander rede. Almal in my huis slaap dan en daar is geen karre wat ry of honde wat blaf of enige ander geraas wat ‘n steuring kan veroorsaak nie. Dis wanneer ek en Jesus gesels en ek het Hom gevra na hierdie storie, want dit klop nie met wat die Bybel vir ons leer nie. Die eerste gedagte wat by my opgekom het was hierdie vers.
“Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.” (Mattheus 24:3-5)
Dit behoort klaar vir ons ‘n aanduiding te gee dat hierdie gerug net ‘n manier is om mense te mislei en as daar nou een ding is waarin satan baie goed is, dan is dit om mense te mislei. Die tweede vers wat by my opgekom het is die een.
“Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” (Mattheus 24:36)
Weereens sien ons dat die wat sê dat Jesus self aan hulle geopenbaar het dat die wegraping op hierdie datums gaan plaasvind, leuenaars is! Jesus self sê in Mattheus 24:36 dat Hy nie weet wanneer die wegraping gaan plaasvind nie, so hoe kan Hy dan aan iemand die datum openbaar as Hy dit self nie weet nie?
Ons almal wil graag by Jesus wees en ons wag in afwagting op daardie dag. Ons weet ook dat die tyd naby is, want ons kan die sien aan dit wat elke dag besig is om om ons te gebeur. Maar soos Jesus self gesê het in Mattheus 24:43 “as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.”
Omdat ons weet nie in watter dag of die uur Jesus gaan kom nie moet ons sorg dat ons ten alle tye gereed is om te vertrek. Jesus se koms gaan ‘n totale verassing vir ons wees en enige mens wat sê dat hy of sy die datum van daardie dag weet is ‘n leuenaar en die waarheid is nie in daardie persoon nie.
Ek het vir Jesus gevra wat dan van die gerug? Hy wys toe vir my ‘n groot stof storm; van daardie wat jy in prentjies sien wat kilometers hoog is en die son heeltemal uitblok as dit op jou toesak. Ek het verstaan wat Jesus probeer sê en dit is dat stofstorms deur hewige winde voortgebring word, maar dat dit al is wat dit is; naamlik ‘n klomp wind! So is hierdie gerug ook; ‘n klomp wind en mense wat dit glo gejaag na wind! Moet dus nie na wind jaag nie.
Ek wil baie graag by Jesus wees, net soos julle, maar ek laat my deur die Woord van God en deur sy Gees lei en nie na wat mense sê nie. Dit behoort vir julle ook so te wees. Moet dus nie jou vertroue op ‘n gejaag na wind stel nie, want jy gaan teleurgestel word daardeur.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
