Dit kan skoon gemaak word

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Ek staan so ‘n paar dae gelede in my badkamer besig om die vloer te mop toe die Woord van die HERE tot my kom: “Niks is ooit so vuil dat dit nie skoon gemaak kan word nie.”

Die van julle wat teel vloere het sal weet hoe vuil ‘n teel vloer kan word as daar ‘n gedurige vloei van verkeer daardeur is. Ek het ‘n kombuis soos dit; een waardeur jy moet loop om in die agterplaas te kan inkom en daardie vloer kan vuil word! Veral as dit gereën het en die wêreld buite so lekker nat is! Jy kan maar jou voete afvee so veel as wat jy wil, maar iewers gaan iemand ‘n nat spoor los en nat spore versamel… ‘n Mop, met ‘n bak lou warm water en teel skoonmaker in en baie gou lyk die vloer weer splinternuut!

So gaan dit in ons geestelike lewens ook. Ons probeer ons uiterste bes om so skoon vir Jesus te bly as wat ons kan, maar sodra die reën van die lewe val, dan tel ons nat spore op en baie gou is ons vol vuil kolle!

Dan kom satan en vertel vir jou hoe teleurgestel Jesus met jou is en jy glo dit, want jy dink dat jy beter kon gedoen het op een of ander manier om so die vuil kolle vry te kon spring. So raak ons bang vir Jesus met Sy mop van vergifnis en weier ons dat Hy ons skoon mop. Ons kruip weg, want Jesus is teleurgestel in ons… terwyl die waarheid die teenoorgestelde is!

Dis juis waarom Jesus bereid was om met Sy lewe op die Kruis vir ons te betaal; sodat ons enige tyd kan terug gaan en kan sê: “Jesus, mop ons skoon asseblief!” Dan sal Jesus antwoord: “Ek wil! Kom en word genees!” Prys die Naam van Jesus!

Daar is geen rede om bang te wees nie, liewe leser! Jesus WIL jou vergewe en Hy WIL jou herstel soos jy was. Al wat jy moet doen is om uit te roep: “Jesus, vergewe my!” en dit sal gedoen wees!

Jy hoef glad nie skaam te wees oor jou sonde nie. Ons is almal sondaars wat onuitspreekbare dinge teen die HERE gedoen het. Ons almal verdien die ewige dood, maar Jesus is genadig en Hy hou Sy hand nou uit na jou toe en sê: “Kom na My as jy moeg en belas is en Ek sal jou vrede gee!” Jy moet die uitnodiging net aanvaar. Dis so maklik soos dit is.

Hierdie is nie net van toepassing op die wat nog nie gered is nie; dis ook van toepassing op die wat klaar gered is. Ons het almal Jesus se mop in ons lewens nodig, want ons almal word een of ander tyd vuil. Jy kan vergifnis kry net daar waar jy nou is sonder enige voor behoud; maak nie saak wat jy gedoen het nie.

En moenie dat satan na jou toe kom en vir jou sê dat jy kanse op vergifnis almal opgebruik is nie, want dit sal ook ‘n leuen wees! Jesus hou nie telling hoeveel keer jy na Hom toe kom nie! Al wat belangrik is, is dat jy nie bang of skaam sal wees nie en sal gaan as jy oortree het.

Jesus wag vir jou… nou, op hierdie oomblik om na Hom toe te kom. Gebruik hierdie geleentheid!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

image_pdfLaai afimage_printDruk