Dra jou kruis met waardigheid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

In Markus 8:34 sê Jesus: “Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.”

Hoe baie keer murmureer ons nie voor die HERE en vra waarom ons so gestraf word om so ‘n swaar kruis te dra nie? Ek weet, want ek doen dit ook, maar hierdie week het Jesus vir my gesê “Staan op, vat jou kruis en dra dit met waardigheid!” Prys die Naam van Jesus!

Ons vergeet so maklik dat almal ‘n kruis vir die HERE dra en ek bedoel almal; selfs die wat nie gered is nie. Die verskil is net dat ons wat gered is, God se hand in hierdie las wat ons dra sien, maar die wat in die wêreld is, sien dit net as nog ‘n las; iets wat oorkom moet word. Hierdie kruis word aan jou gegee die dag van jou geboorte en dit word weer weggeneem van jou af die dag as jy sterf.

Hierdie is egter nie sommer enige kruis nie, dis ‘n ontwerpers kruis wat spesiaal vir jou gemaak is. Niemand anders op hierdie aarde kan daardie kruis dra, behalwe net jy nie. Jy is gebore en jy leef in hierdie tyd sodat jy daardie kruis vir Jesus kan dra.

Daar is baie soorte kruise, maar die een wat jy dra is joune en net jy kan dit dra. Met die dra van daardie kruis, bring jy verligting vir die wat die las nie kan dra nie. Hierdie is op sy eie ‘n edele doel, maar daar is weer ander wat ander laste dra wat ons weer nie sal kan dra nie. So is ons elkeen uniek voor Jesus!

Ek het al baie keer probeer om van my kruis ontslae te raak of selfs die las te verlig, maar dit werk glad nie. My kruis is ‘n baie spesifieke sonde wat ek net nie van ontslae kan raak nie. Ek het al gebid, gesmeek, selfs weg probeer hardloop, maar niks daarvan wou werk nie. Dis nou hier waar die leiding van Jesus deur Sy Woord so wonderbaarlik is, want die eerste ding wat Hy vir my gesê het was dat ek my kruis moet opneem en dit met waardigheid moet dra! Tweedens het Hy vir my gewys dat ek nie alleen is in die las wat ek dra nie en dat daar ander is wat saam met my dra en so bring ons verligting vir duisende wat nie in staat is om hierdie las te dra nie.

Jesus het ook vir my gewys dat die las soms baie swaar raak. Dis wanneer die ander wat saam met my dra se voete begin gly of wanneer hulle moeg raak. Dan verskuif die gewig na die skouers van die wat sterker is en wat die gewig kan dra. Jesus het ook vir my gewys dat Hy vir my gekies het om hierdie las te dra, omdat ek sterk genoeg is om dit te kan doen. Hierdie las word net aan die sterkstes gegee om te dra, want nie almal kan nie.

Hierdie kruis is nie ‘n straf nie, maar ‘n manier om ons nederig te hou voor die HERE sodat ons nie moet dink dat ons meer werd is as enige iemand ander nie. Hierdie kruis wat ons dra, hou ons hoogmoed in toom en dit sorg ook dat niemand in homself kan roem nie, behalwe in Jesus! Prys Sy Naam!

Moenie bekommerd wees as jou kruis jou laat struikel en jy as gevolg daarvan sondig nie. Jesus laat toe dat ons struikel sodat ons getoets kan word. Hierdie toetse moet kom sodat ons vooruitgang kan maak en kan groei in ons geestelike lewens. Wees dus standvastig, geduldig en nederig en weet dat Jesus die hele tyd met jou is!

Hierdie is die dinge wat jou kwalifiseer vir bevordering in die diens van die HERE. Sodra Jesus sien dat jy die een vlak bemeester het, dan beweeg Hy jou aan na die volgende vlak. Elke vlak bring nuwe uitdagings, maar ook meer seëninge! Die van julle wat volhard sal agterkom dat seëninge in hierdie dae gaan vloei soos ‘n rivier.

Onthou dat die merk van Jesus se eindtyd weermag broederliefde is! Dit nie gaan oor vooruitgang, populariteit of mag nie, maar eerder oor geregtigheid, vrede en liefde vir jou naaste in die middel van ‘n korrupte wêreld wat net sy eie plesier najaag.

Tel daarom jou kruis op en dra dit met waardigheid vir die HERE en sien hoe Jesus jou sal seën!

Prys die Naam van Jesus!

(Visited 631 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .