Doen die Wil van die Vader

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Hierdie boodskap is vir iemand bedoel. Ek weet nie vir wie nie, maar jy sal weet as hierdie boodskap op jou van toepassing is.

Ek het ‘n snaakse droom gehad. In die droom het Jesus vir my ‘n boodskap gewys wat iemand op ‘n sosiale media kanaal wou pos. Ek kan nie onthou waaroor die boodskap was nie, maar ‘n gedeelte van hierdie boodskap het ‘n teksvers uit die Bybel bevat. Op grond daarvan is die boodskap deur die administrateurs van die sosiale media kanaal afgekeur as onvanpas en ontoelaatbaar. Ek het gesien dat daar ‘n groot rooi “geen toegang” teken onderaan die boodskap geplaas was.

Vanoggend met my oggend godsdiens gee die HERE vir my hierdie boodskap in Lukas 9:26 “Want elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.”

Ek glo nie in toeval nie. As ‘n mens ‘n droom het soos die en die HERE bevestig dit met ‘n vers uit die Bybel uit soos dit, dan is die droom eg en kom dit van God af. Ek weet net nie vir wie dit bedoel is nie, maar as dit op jou wat hierdie boodskap lees van toepassing is, dan het ek vir jou ‘n boodskap van Jesus af!

Jesus sê: “Moenie dat die wêreld jou onderkry nie, want Ek is nog steeds in beheer en dit sal nooit verander nie. Moenie probeer om jou eie lewe te red nie, want as jy dit probeer doen, sal jy dit verloor. Moet ook nie vir jouself faam probeer soek nie, want wat help dit jy is beroemd, maar jy verloor jou siel in die proses? Wat sal jy dan gee as losprys vir jou siel? Neem eerder jou kruis op en volg My, want dan sal alles wat jy begeer vir jou bygevoeg word en nog baie meer!” Prys die Naam van Jesus!

Die lewe is nie regverdig nie, liewe leser. Veral nie in hierdie tyd waarin ons nou is nie. Die mense van vandag wil nie meer van Jesus hoor nie. Hulle stel net nie meer belang nie. Ons is die laaste bakens van lig vir hierdie wêreld. Baie gou gaan die lig van hierdie aarde verwyder word en dan gaan daar net duisternis wees vir die wat gaan agterbly. Hulle sal dan oral na die lig soek, maar dit nie vind nie…

Moet nie moed opgee nie. Hou aan om die Woord van God te verkondig; tyding en ontydig sodat dit as ‘n getuienis kan dien vir die wat gaan agterbly. Moenie jou bekommer oor wat mense sê of dalk gaan sê nie. Dis wat Jesus gaan dink as jy nie die Wil van die Vader uitvoer nie wat op die ou end van die dag saak maak!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

image_pdfLaai afimage_printDruk